Soos ek al voorheen gesê het, was ek vir ’n redelike lang tyd stil gewees met die skryf van nuwe saadjies. Abba Vader het telkemale aan my verduidelik dat ek die seisoene in my lewe moet aanvaar en niks probeer ryp druk nie… as ek dit sou doen, sou ek buite Sy wil optree.
Ek vertel graag van die visioene waardeur Abba Vader my gelei het voor en gedurende die winter seisoen… as getuienis van die lewende, ware God en om te getuig dat elke kind van God ’n lewende verhouding KAN hê met Abba Vader. Dit is waarna elkeen moet streef! Streef daarna om Abba Vader te ken op ’n persoonlike vlak en om nie net van Hom te hoor deur die monde van leraars nie. Skakel daardie middelman, die medium, uit en soek God op ’n persoonlike vlak. Ek is nie ’n leraar nie; ek dien net as getuienis van die lewende ware God, en daarom deel ek graag stukkies uit my lewe. Ek kan absoluut niemand oortuig dat ’n kerk jou nie gaan red nie… dat ’n kerk jou gevangenis hou sodat jy nie ’n persoonlike verhouding met Abba Vader kan hê nie… al wat ek kan doen is om te vertel…
Terug na die seisoene… herfs het rondom 2020/21 begin, en winter het gevolg. Huidiglik is ons in 2026 en ek is versigtig om te sê dat lente aangebreek het, want Abba Vader het my in die verlede duidelik gewys wanneer seisoene verander.. net soos Hy die aankondiging van herfs aan my uitgewys het. Met die aanbreek van herfs laat beleef Abba Vader my dat ek in ’n oorgangsfase inbeweeg, en hierdie visioen deel ek graag met julle. Ek wil net graag die tydlyn ook aan julle verduidelik sodat julle beter kan verstaan.
Voor herfs en winter aangebreek het, was dit natuurlik lente en somer in my lewe: ’n tyd waarin ek Abba Vader leer ken het, waar ek moes leer om waarlik stil te raak en te fokus op Sy Stem, asook om te fokus op die visioene waarmee Hy my toevertrou het. 7 Jaar het gevolg waar ek soveel as moontlik geskryf het. Oor daardie tydperk het ek ‘numerous’ visioene en leringe van Abba Vader ontvang wat neergepen is in verskeie boeke asook op die volgende webtuiste: www.https://sonneblomsaadjies.wordpress.com/
Aan die einde van die 7 jaar, het Vader my die volgende visioen gegee:
Ek staan onder ’n boom en ek weet hierdie boom simboliseer myself waar ek in die hart van God gewortel is. Gedurende die 7 jaar, het die boom geblom, vrug gedra en die saadjies was al die skryfstukke wat ek op bostaande webtuiste geplaas het. Ek het om my gekyk en daar het verskriklik baie droë blare gelê onder die boom. Omdat ek so ietwat van ’n perfeksionistiese aard het, het dit vir my vreeslik deurmekaar gevoel en het ek ’n hark nader getrek en die blare in hope bymekaar begin hark. Maar die Stem praat met my en vra my wat ek doen? Ek antwoord dat ek net ’n bietjie netjies wil maak onder die boom. Maar die Stem vermaan my dat ek dit nie mag doen nie. Die droë blare lê vir ’n rede onder die boom… elke liewe blaar op sy plek… en die grond gaan die blare nodig hê as kompos . Ek het dadelik die hark neergesit en die deurmekaarheid ingeneem en aanvaar. ’n Week of 2 later het ek weer ’n visioen gehad waar ek weer onder die boom staan en opkyk na die boom. My oog het blare gesien wat losmaak van die boom en ook op die grond val. Ek het ingezoom op die blare wat val en het gemerk dat die blare boedrooi was. Soos dit val op die grond, verloor die blaar sy intese rooi kleur en begin dit lyk soos ’n normale droë blaar. Abba Vader verduidelik aan my dat die blare wat geheg was aan die boom, deurdrenk is met die Lewende Bloed omdat die boom gewortel was / is in die hart van God, en dit direk gevoed was deur die Lewende Water, wat ook die Bloed / Lewe is. (Boom gewortel in die hart van God). Wanneer die bloed-deurdrenkte blaar op die grond val, absorbeer die grond die Bloed om die grond nog meer vrugbaar te maak vir die volgende saad wat moet ontkiem. Op daardie stadium het ek begin agterkom dat Vader besig is om te werk aan my toekoms, maar ek het glad nie vermoed wat sou kom nie.
’n Rukkie na hierdie visioene het Abba Vader my tot stilstand geroep op die pad wat ek moes wandel. Die Stem het aan my verduidelik dat ek vir ’n oomblik moet stilstaan en dat ek baie, baie intens moet fokus op Sy Woorde. Ek moet my ore toedruk vir die wêreld, veral vir kerke en kerkmense, ek moet intens fokus op SY WIl. HY het my ’n rooi lap gewys en my geblinddoek daarmee. Daarna verduidelik HY aan my dat hier ’n moeilike pad is wat voorlê… ’n pad wat gesaai is met klippe . Ek mag nie die klippe sien nie en ek mag nie fokus op die klippe nie. Ek moet baie intens fokus op elke Woord van Hom af en dat HY my sal lei deur die moeilike klippepad wat voorlê. Ek moet baie stadig beweeg met my hand in Syne. Hy sal my lei om die klippe sodat ek nie my tone ten bloede stamp nie. Ek moet sê: Ek het bekommerd begin raak oor die onbekende wat voorlê, maar tog was ek ook baie opgewonde en entoesiasties gewees. Min het ek geweet dat daar stormsterk tsunami’s was wat gewag het om vervul te word in my lewe… sodat ek weereens ’n getuienis kan wees… hierdie keer nie ’n vrolike getuienis soos voorheen nie, maar een van heimweë en smart. Nogsteeds het Abba Vader my houvas deur die storms…
Dit is nou 5 jaar sedert die tsumi’s begin het. Dit was ’n ontsettende moeilike pad, maar vandag kan ek terugkyk daarop en Abba Vader dank vir al die klippe, die winde en die stormsterk tusmi’s wat my hele lewe verander het…

Lewer kommentaar