Ek was getroud vir byna 23 jaar, waarna my lewe ’n massiewe ommedraai gemaak het… ’n baie moeilike ommedraai, want die Woord en die kerk sê ons mag nie skei nie. Ons word sterk veroordeel en met klippe gestenig wanneer ons teen die wêreld se siening gaan, maar ek het teen die tyd geweet ek moet my ore toedruk vir die gesuis en gespuis van die wêreld en sy kerke. Ek moes fokus op dit wat Abba Vader my geleer het oor ons anderhelftes, oor huwelike en ware liefde. Ek moes Jesus se hand styf houvas en klein treetjies gee. Ek sal hier en daar in die volgende saadjies skryf oor alles wat die Here my gewys het oor huwelike, maar vir nou wil ek net hierdie amazing saadjie met julle deel. Om dit te verstaan, moet ek ongelukkig sommige feite vanuit my vorige huwelik uithaal.
Die man met wie ek getroud was, was nie ’n slegte mens of man nie, maar maar daar was ’n hengse groot kommunikasie- en liefdesprobleem. Ons het mekaar glad nie aangevul nie en ek moes net ‘deal’ daarmee dat ek altyd in ‘n liefdelose huwelik sal wees. Vandag weet ek dat ek ’n tekort MOES hê aan menslike liefde, want dit is wat my gedryf het om te delf vir ’n dieper liefde… en so het ek die Liefde van Abba Vader gevind en besef dat Sy Liefde die kern is waarom alles draai. Wanneer ons geesharte gevul is met die Liefde van God, sal die res in plek begin val.
Ek het vrede gemaak met die liefdelose huwelik en myself deur al die jare ‘getroos’ dat daar nie so iets bestaan soos mensliefde tussen huweliksmaats nie. Ek het my lot aanvaar en die beste van ’n slegte situasie probeer maak, maar toe tree Abba Vader in gedurende 2021…. Kort daarna is ek geskei en het ek ’n beste maatjie gevind… ons was baie goeie vriende, kon vir ure net gesels en so het ’n nuwe tipe liefde ontstaan… onvoorwaardelike liefde tussen 2 mense. Ek was baie huiwerig om weer te trou, maar toe wys Abba Vader vir my die volgende:
Abba Vader gee my ‘n beeld van iets wat lyk soos ’n groterige lap, maar dis asof dit ’n mengsel is van lap en leer. Dit is uitmekaar geskeur, vol gate en lyk sommer horribaal. Abba Vader sê dis ’n stukkie van my menswees…. my siel. Nooit het ek kon dink dat die siel van my menswees so verflenterd kon wees nie, maar dit is wat trauma doen aan die siel van die mens. Ek sien hoe sit Abba Vader my verflenterde siel voor Inus neer. Eers kyk hy intens en ondersoekend daarna sonder om daaraan te raak… so asof hy eers probeer ontleed wat hier aangaan. Sagkens begin hy die uitmekaaar geskeurde gedeeltes nader trek na mekaar en dan sien ek hy tel ’n naald en gare op. Baie versigtig, saggies en teer vat hy die geskeurde siel-stukkies en met sy groot vingers begin hy dit stadig en versigtig aan mekaar vaswerk.
Dan beleef ek hoe die “torn” sielsmens van Inus ook voor my uitgestrek lê. Ek het ook ’n naald en gare in my hande en stadig begin ek ook geskeurde stukkies van Inus se siel vaswerk aan mekaar.
Ek kyk weer na die groot hande van Inus wat so ‘gentle’ werk en dan fokus ek op die “gare” wat hy gebruik…wat kan hierdie gare wees? Wat gebruik hy om my siel te herstel? Dan sien ek dat daar ’n stukkie van sy ribbebeen langs hom lê … hy trek stringetjies van die ribbebeen af, brei dit ’n bietjie om sag te word totdat dit lyk soos gare. Hy vat dan die ‘gare’, ryg dit deur die naald en daarmee heg hy my siel. Duidelik hoor ek die stem van Abba Vader:
DIT is wat Ek bedoel het toe Ek die vrou uit die ribbebeen van die man geneem het.”
Die man wat bereid is om soveel van homself te gee om die vrou se siel te herstel, DIT is die man wat Abba Vader uitgekies het om die vrou se ware lewensmaat te wees. Dit is ’n man wat jou liefhet met sy lewe, wat sy alles sal gee sodat jy heel kan wees. Dit is liefde wat die onvoorwaardelike LIEFDE van God naboots.
Ek beleef weer myself waar ek aan Inus se siel werk, en ek wonder wat die “gare” is wat ek dan gebruik om sy rou-seer sielsstukke te heg. Ek lig die naald op om te fokus op die “gare” en dadelik neem die gare die vorm aan van een van my gekrulde haarlokke, dus gebruik ek ook ’n deel van myself om Inus se siel te probeer heelmaak… stringetjies van my eie hare.
…en God het die man laat slaap en in sy slaap het God een van sy ribbebene gevat en die vrou daardeur geskep om ‘n maat vir die man te wees. Saam, sal hulle die lewe deur dans.
Ek het nooit geweet hoe dit voel om deur jou lewensmaat onvoorwaardelik liefgehê te word nie. Ek het gedink dit is onsin en dat daar nie so iets bestaan nie. Ek het geleer dat daar geen groter liefde kan wees as die onvoorwaardelike liefde van Abba Vader nie… en nogsteeds geglo dat daar nie lewensmaat-liefde kan wees nie, maar net misbruik en ’n onderdanige vrou (of selfs man). Maar dit was nie God se beplanning toe Hy die vrou uit die ribbebeen van die man geneem het nie. Sy bedoeling was dat man en vrou lewensmaats moet wees wat mekaar onvoorwaardelik liefhet, wat mekaar sal dra en bystaan deur slegte en moeilike tye, wat joy kan vind in mekaar en die lewe saam kan dans… in Sy Lig…op die ritme van Sy hartklop… in Sy wil.

Lewer kommentaar