
Op 17 Julie ‘23 is ek vroegoggend wakker met ’n dringende, intense hunkering om stil te raak by die voete van Abba Vader. Ek hoor duidelik Sy stem, en Hy verduidelik aan my dat ek nooit in myself mag twyfel as ’n mamma nie… dat ek my allerbeste gedoen het om my 3 seuns groot te maak… ek het al 3 my seuns ge-‘homeschool’ tot op die ouderdom van 16 waarna hulle Graad 10 skool toe is. Ek wou graag my kinders grootmaak met die alomteenwoordigheid en bewustheid van Abba Vader. Vir my het dit gegaan om my seuns groot te maak met goeie waardes, integriteit en om die lewe uit ander oë te sien. Natuurlik het akademie ook ’n groot rol gespeel om hulle te prep vir die wêreld daar buite sodat hulle universiteit toe kon gaan. (Hoe dankbaar is ek vandag dat ek God se stem gehoorsaam het om al 3 te tuisskool; vir al die ekstra tyd wat ek met hulle bestee het). Ek het hulle van kleins af geleer dat die lewe roteer rondom keuses. In ’n mate het ek beheer gehad oor die keuses wat hulle gemaak het terwyl hulle onder my vlerke was, maar die dag wanneer hulle vlerkies sterk genoeg is om die nes te verlaat, sal hulle verantwoordelik wees vir hulle eie keuses. Dan sal ek nie verantwoordelik gehou word vir die keuses wat hulle maak nie. Hierdie oggend het Abba Vader my weer herinner daaraan en dit weer in my hart vasgelê dat ek ’n goeie mamma was vir my kinders.
Ek het my beste vir hulle gegee, ek het gesorg dat elkeen se vlerkies sterk genoeg aanmekaar geweef is vir die dag wanneer hulle die nes moet verlaat. Ek mag myself nooit verkwalik of myself die skuld gee as hulle verkeerde keuses maak en in verkeerde windrigtings beland nie. Dit is hulle lewe, hulle keuses… ek het gedoen wat Abba Vader van my verwag het om te doen.
Nadat Abba Vader my daaraan herinner het, het Hy vir my die belofte gegee dat elkeen van my seuns sal terugkeer na hulle “foundation”. Dit het my so gerus gestel, want my seuns was nie altyd so lekker op die regte paaie gewees nie, en ek kon niks daaraan doen nie. Maar nou het ek hoop gehad, want die belofte van God sal staande bly… maak nie saak watse draaie my kinders loop nie, hulle SAL terugkeer na hul ‘foundation’. Ek was so opgewonde oor hierdie belofte en ek het dit op daardie oomblik verstaan dat elkeen van my seuns sal terugkeer na Abba Vader en ’n goeie voorbeeld wees vir hulle eie kinders. Oooo, my hart het gejuig van blydskap, ek was so opgewonde en hoopvol vir hulle toekoms. Ek het geglo dat elkeen die verdeerde paaie waarop hulle is, sal raaksien en terugkeer na die pad van God…
Nadat Abba Vader my vermaan het dat ek nie in myself mag twyfel as mamma nie, trek Hy ’n lyn op ’n paper in die vorm van ’n hartklop. Skielik tel Hy Sy hand op en plaas ’n punt agter die hartklop. Dan herinner Hy my weer daaraan dat lewe en dood in Sy hand lê. Hy het self elke kind van Hom se begin en einde bepaal. Hulle lewenspad is bepaal en beplan deur hul Maker nog voordat hulle op aarde gebore word. Vader het alles vooruit beplan, Hy weet alles nog voordat dit gebeur.
Abba Vader vra my waar dink ek het Hy elkeen se lewenspad neergelê? Op papier? Nee, papier vergaan, dit kan vergaan of opfrommel… Seesand? Nee, want ’n groot brander kan daaroor spoel en dit uitvee. Dan verduidelik Abba Vader dat daar net een plek is waar Hy ons lewenspad neerlê, en dit is op klip… op die Rots waar dit nooit sal vergaan nie. Dit is ingeëts op klip, so dit sal vir altyd staande bly; niemand en niks kan dit ooit verander nie. Dit is ingeëts op klip met die Hand van God… nie met woorde nie, maar ’n lyn in die vorm van ’n hartklop.
Nadat ek alles neergeskryf het wat Abba Vader my gewys en verduidelik het, sluit ek af met die belofte van God. Ek skryf dit in hoofletters en ‘highlight’ dit.
“ELKE EEN VAN JOU SEUNS SAL TERUGKEER NA HULLE FOUNDATION”
3 Oggende later kry ek die oproep dat my oudste seun in sy slaap oorlede is. Soooo ’n massiewe groot skok… ek het dit glad nie verwag nie, ek was sooo hoopvol vir hulle toekoms op aarde na die belofte wat God 3 dae terug vir my gegee het….

Lewer kommentaar