Those who sow their tears as seeds, will reap a harvest with joyful shouts of glee.  They may weep as they go out carrying their seed to sow, but they will return with joyful laughter and shouting with gladness as they bring back armloads of blessing and a harvest overflowing! Psalm 126:5-6 (TPT).

Inleiding – Nuwe Seisoen

“Ek is jammer, Mamma…”

Rondom 9:00 die oggend lui my selfoon… ek sit bo in ons kamer, besig om my koffie te drink.  Dit is my seuns se pa…hoekom sal hy my nou bel?  Ons praat nooit met mekaar nie… Sy stem kink anders, nie ’n baklei-stem or sarkasme-stem nie, maar amper vriendelik, sag… Hy vra:  “Sit jy? Staan jy?”  En dan die diepste snydende paar woorde:

  “Ons seun is dood…”. Unbelievable, dit kan nie wees nie… nie na my en my seun se gesprek 2 dae terug nie.  Iemand moet ’n fout maak.  Ek hoor weer hoe kom die pa se woorde prewelend deur die kolletjie-klein speaker van my foon… massiewe pyn-deurdrenkte woorde deur sulke klein gaatjies… hoe pas dit ooit deur sulke klein gaatjies?  Daar moet ’n kommunikasie-kinkel-fout  wees… iemand het die boodskap verkeerd aan hom oorgedra, of hy het verkeerd gehoor.  Dan volg verdere gewigte woorde:  “Hy het nie vanoggend opgedaag vir onthby nie en sy kollegas het hom gaan soek.  Sy deur was gesluit en hy het nie regeer op hulle roepstemme nie.”  (net soos hy vir die laaste paar jaar nie gehoor wou gee aan my smeek-roepstem nie).  “Later het hulle besluit om die deur oop te breek… net om sy lewelose liggaam op sy bed te sien lê.”  En so is die tragiese nuus aan my oorgedra.  Nodeloos om te sê… ek kon myself nie handhaaf nie, ek was buite myself.  My lieflingman het dadelik sy foon gegryp en die inrigting gebel waar my seun gewerk het.  Hy praat eers met een van die personeellede wat hom een storie vertel, en dan praat hy met die prinsipaal van die inrigting wat ’n ander storie vertel.  Wat is die waarheid?  (Min het ek geweet dat ons selfs na soveerl jare nie die waarheid sou vind nie). My lief het dadelik begin regmaak om te ry na die inrigting, en ek het op die daad besluit ek MOET saamgaan.  Ek moet ten minste die plek sien waar my kind die laaste keer sy kop neergelê het.  Dalk het ek nog ’n kans om vir hom baai te se, dalk kan ek vir ’n laaste keer aan sy hand vat, oor sy vingers streel …

2 Ure later stop ons voor die inrigting in die Kaap.  Die hele atmosfeer rondom die plek / gebou is snydend koud, dit voel nie sof daar LEWE in die plek is nie.  Voor die deur staan ‘n polisie voertuig en die lede van die polisie staan op die stoep.  My lief het ons dadelik aan hulle voorgestel en verduidelik dat ons die oorledende se ouers is (hy wel die stiefpa).   Ons is na die prinsipaal se ontvangskamer geneem waar ek haar gepeper het met vrae, want daar is soveel vraagtekens wat rondom my kop dwarrel en dan is daar hopeloos te min antwoorde, daar is net absoluut niks wat sinmaak nie.  Ek vra die prinsipaal of hier al voorheen so ’n. insident plaasgevind het, waarop sy my antwoord dat hier nog nooit so iets gebeur het nie, en dat hierdie die eerste keer is in al die jare.  (Later die dag moes ek hoor by die speurder dat daar amper maandeliks selfmoord gevalle by die einste inrigting is).  

Die polisie lede stap voor, oppad na my kind se kamer… ek drentel alleen agterna, probeer elke geintjie krag bymekaar kry om die een voet voor die ander te sit… ’n verlammende pyn wat skiet vanuit my hart en my hele liggaam beinvloed.  Die gebou is oud, dit ruik nie lekker nie… dit ruik koud en die matte is deurgetrap. Seker van al die pasiente wat rehabiliteer is … wat soos zombies voel omdat hulle nie meer beheer word deur dwelms nie… opsoek na hulleself… opsoek na ’n plek in society waar hulle aanvaar sal word … waar hulle weer ’n nuwe lewe kan begin.  My kind was ’n dwelmverslaafde met ’n graad in sielkunde en teologie, wat vir 4-5 maande skoon was van enige vorm van dwelm… wat deur ’n rehabilisiesentrum in Kaapstad aangestel is om met die pasiente te help.  Ek was so trots op hom, ek het soveel hoop gehad vir sy lewe vorentoe… en hier is ek nou sleepvoetend oppad na die kamer waar hy vir 10 dae sy nagrus gevind het… vir 10 dae het hy opgestaan soggens om reg te maak vir ’n nuwe dag, maar die 11de oggend van sy verblyf in hierdie horrifying gebou, kon sy liggaam nie wakker word nie, want my liefste kind het sy eie liggaam doodgemaak…  

Twee stelle trappe op is bitter moeilik en uitputtend om te klim as jy weet jy is oppad na jou kind se liggaam sonder enige lewe, sonder bloedsomsloop, sonder selfs ’n flou kloppie van sy hart, ’n verkleurde liggaam sonder enige hitte… 

Hoeveel keer het hy hierdie trappe op en af geklim… die breed-glimlaggende, vriendelike jong man… sy mooi blou oë skrefies getrek soos hy seker vriendelik die mense gegroet het.  Hy was ’n pragtige jong man, verniel deur dekselse, vervloekte wit poertjies in klein sakkies.  Die laaste paar trappe-tree is die moeilikste… ek hang aan die handreling om my liggaam op te trek tot bo.  My brein weet dat ek hierdie situasie in die gesig moet staar, maar my liggaam wil eerder na my hart luister… en my hart wil eerder oë en ore toedruk en in ’n hoekie gaan sit om die pyn te vermy.

Met meesleurende treë stap ek die nou gang af na die kamer met die oopgebreekte deur.  Paar lede van die polisie beweeg in en uit die kamer… almal het vraagtekens … elkeen se gesig in ’n vraagteken geplooi.  Dan kom my Lief uit die kamer uit… een kyk in sy blou hartseer oë… toe weet ek…dit is waar… niemand het ’n fout gemaak nie… my oudste kind het sy liggaam verlaat, hy MOES sy liggaam verlaat, want hy het self sy liggaam doodgemaak met die wêreld se gemors.  Ek mik om in die kamer in te loop, maar my Lief vou my toe in sy sterk arms en druk my teen sy bors met die woorde:  “Ek sal jou nie toelaat om in te gaan nie… onthou hom soos hy was.”  Ek het nog probeer stry en hom probeer oortuig dat ek net vir ’n laaste keer aan my kind se hand wil vat, maar hy het geweier en my streng tereggewys.  Met my rug teen die muur vasgedruk, het my bene lam geraak onder my en het ek my liggaam toegelaat om af te sak en in ’n ronde bondeltjie myself probeer sus terwyl my Lief die kamer verder fynkam vir enige tekens of leidrade na dood.  

“Ek is jammer, Mamma, ek is jammer, ek het nie bedoel om my liggaam dood te maak nie.  Oooooh sh*** wat het ek gedoen?  Ek is jammer Mamma, ek wou nie hierdie aan jou doen nie.”  

Terwyl ek in die bondeltjie opgerol sit, gebeur die snaakste ding:  Ek voel my kind is hier aan my regterkant, ek hoor hom praat, hy trippel om my … eers regs, dan links en die heeltyd sê hy hierdie woorde.  Ek kry die gevoel van  angstigheid, hopeloosheid, want hy beweeg terug in die kamer in en kyk neer op sy lewelose liggaam.  Hy kan nie teruggaan in sy liggaam nie, want hy het per ongeluk sy liggaam vermoor.  Hy sal nou moet probeer vrede maak en aanbeweeg, maar ek kan aanvoel aan sy optrede dat hy nie maklik hierdie gaan aanvaar nie.  Hy het nie aspris sy liggaam doodgemaak nie, dit was nie sy beweegrede nie.  Dalk wou hy net vir ’n paar minute weer bietjie “lekker” voel, die pyn stilmaak… dalk weer gelol met wit poeier, maar hierdie keer het die poeier ’n doodskok in hom gehad.

Verslae is nie eers die woord nie… daar is nie woorde wat beskryf hoe ’n ma-hart voel wanneer jy moet wegstap van die liggaam van jou kind nie, tienduisende verskillende gevoelens of emosies wat deur jou skeur… jy weet nie aan watter een om te houvas nie, jy is hopeloos… My Lief het die straat afgery na die see, ek het uitgeklim met bewende bene wat my nie meer wou dra nie… op ’n rots gaan sit en die ligte sproei van die branders op my gesig verwelkom… sodat my trane een kon word met die water van die see, en dan dink ek aan die woorde wat my kind meer as een keer vir my gese het… 

“Mamma, jy het my standvastig soos ’n rots gemaak, hou aan sterk wees Mamma, jy is die rots in ons gesin, jy is my rots”.  

“Nee, my kind, ek is nie jou rots nie, jou Rots is jou Skepper en jy moet Sy stem volg.”  

“Maar jy het my geleer van die Rots Mamma…”

Deur al sy ‘trials en tribulations’, al die kere wat hy gefaal en weer die dodende wit poeier uit sy sak gehaal het, het hy geglo in die Rots.  Vir net 10 dae kon hy sy storie deel met ander mense wat dieselfde pad gestap het as wat hy gestap het… soveel vrae… geen antwoorde…       


Kommentare

Lewer kommentaar