Those who sow their tears as seeds, will reap a harvest with joyful shouts of glee.  They may weep as they go out carrying their seed to sow, but they will return with joyful laughter and shouting with gladness as they bring back armloads of blessing and a harvest overflowing! Psalm 126:5-6 (TPT).

Inleiding – Nuwe Seisoen

Bou sterk vlerkies vir jou kinders

Sonder dat ons dit besef, maak ons, as mammas, vlerkies vir ons kinders vandat hulle klein is.  Ons begin by die raamwerk, wat natuurlik die belangrikste gedeelte van die vlerkies is, want ’n sterk raamwerk gaan ons kinders eendag moet dra in stormwinde en tornados … die raamwerk moet “sustainable” wees.  

Elke kind se raamwerk verskil van ’n ander, want ’n mamma ken elkeen van haar kinders se karakters;  sy weet wat elke kind se goeie, asook swak punte is… en met dit in gedagte, buig en vorm sy die raamwerk.  Wat is die raamwerk?  Dit is die fondasie, en die fondasie moet gebou word op die Rots, wat Jesus is.  Leer jou kinders van Jesus, vertel vir hulle stories… en weet julle… ’n kind geniet ’n storie wat sy mamma aan hom vertel, baaaaie meer wanneer sy die storie haarself vertel, as wanneer sy dit uit ’n boek lees. Komaan mammas, wees ‘n bietjie kreatief!  In die eerste plek moet jy net seker maak jy het al jou feite reg oor die storie wat jy beplan om vir jou kleingoed te vertel… moet nou nie die storie soooo aan hulle spin dat hulle soos fronsende bobbejaantjies voor jou sit en jou dalk reghelp dat dit nie Moses is wat deur die groot vis ingesluk was nie.  Speel met jou kinders , laat hulle toe om so styf as moontlik teen jou te sit, al wil jy uitpaas van die hitte… trek maar net die waaier nader… want weet julle… tyd vlieg… en wanneer jy jou oë uitvee, staan jou kind voor jou met sy wegtrek-vlerkies… rugsakkie gepak en gereed om die nes te verlaat.  Dan is daar nie meer tyd om vlerkies te lap en plak nie… daardie vlerkies moes dan al klaar geweef gewees het van sterk, elastiese stof.  En weer sê ek … die belangrikste gedeelte van die vlerkies is die raamwerk, die basis waarop alles gebou word, die fondament waarop geskep is.  As die fondament reg is, sal jou kinders altyd terugkeer na die fondament, al raak hulle eers die pad byster.  Jesus moet altyd die fondament wees.  

’n Mamma moet seker maak dat haar saak met Jesus in orde is, ken Hom in al jou weë en Hy sal jou pad vir jou gelyk maak.  Kindertjies moet Jesus leer ken deur ’n mamma en pappa se liefde vir Jesus… Jesusliefde vloei regdeur ouers na die kinders toe.  En is dit nie die belangrikste liefde wat ons aan ons kinders kan bied nie.  Liefde wat red, wat vrede gee, wat toevoeg tot die mens se waardesisteem.  Dis die grootste geskenk wat jy aan jou kind kan gee.  En ek sê weer… ’n kind gaan jou entertainment baaaaaie meer geniet as TV entertainment… ouers se stories is baie meer interessant wanneer ons kinders klein is… want daar kom ’n tyd wat hulle nie meer na ouers se stories wil luister nie, want ouer kinders wil alles beproef… wanneer hulle slimmer as die wêreld is, waar ouers en onderwysers die domste goed op die aarde is en net daar geplaas is om “spoilsports” te wees.  

Vlerkies word gemaak van liefde, omgee, liefies, tyd wat jy met jou kinders spandeer, beskerming, geduld, vriendelikheid, vrede en alles wat mooi is.  Al hierdie waardevolle elemente word gebruik en ingelap in jou kinders se vlerkies.  Dit word aanmekaar gegom, en weereens is die gom die liefde van Jesus.  Vir ’n mamma om die gom te bekom, beteken tyd by die voete van Jesus… dit is waar jy die beste, sterkste gom kry.  Daar is ’n sê-ding dat ’n mamma die gom van ’n gesin is, en hoe waar is dit nie!  ’n Mamma is die senterpunt van ’n gesin;  sy gee soveel van haarself aan elke gesinslid sonder om veel terug te verwag.  Sy is die gom wat die verskillende lede aan mekaar vasweef.    

Al maak jy jou kinders hoe goed groot, is die kans altyd daar dat jou kind die pad op ’n stadium gaan byster raak.  Jy kan die ouer van die jaar wees, maar elke kind het ’n wonder-wil êrens diep in homself gesetel.  As jou kind verkeerde keuses maak en in verkeerde windrigtings beland, gaan hy storms, tornados en tsunamies teëkom.  Gaan sy vlerkies sterk genoeg wees om dit te kan hanteer? Of gaan sy vlerkies seerkry of selfs breek?  Wat as hy val?  Ons wil nie daaraan dink nie en soveel ouers glo dat hulle kinders nie verkeerde besluite sal maak nie;  dat hulle nie verkeerde windrigtings sal kies nie… ek was ook een van daardie naïewe ouers, so ek weet…  Om jou kinders na die beste van jou vermoë groot te maak; om baie tyd te spandeer met die maak van hulle vlerkies en te glo hulle sal altyd op die regte pad bly, breek ‘n mammahart wanneer hulle besluit om verskillende windstrome te beproef… want dis nie hoe ek my kind groot gemaak het nie…  Soms oorleef die kinders die storms waarin hulle hulleself begewe het, maar nie almal is so gelukkig nie.  Sommiges met sterk vlerkies val en breek dan hulle kosbare vlerkies.  Ek wens dit toe vir geen ouer onder hierdie son nie, want as ’n ouer, wys jy dadelik vinger na jouself en vra jy jouself die vraag:  Waar het ek fouteer?  Maar dit is nie jy as ouer wat fouteer het nie… jy het jou beste gegee, maar as ons kinders uit ons nessies vlieg, is hulle verantwoordelik vir hulle eie keuses.  Dit is hulle wat die keuses maak en dit is hulle wat verantwoordelikheid moet vat vir hulle keuses – goed of sleg.  Ons as ouers kan maar net hoop dat hulle regte keuses sal maak, en as hulle nie, sal jy as mamma (of pappa) moet sterkstaan in die wete dat jy jou beste gegee het.  Jy mag nie jouself onder kruisverhoor plaas en jouself aankla omdat jy (kwansuis) nie ’n goeie ma was nie.  As jy jou beste gedoen het, mag jy nie jouself verkwalik nie.  

Ongelukkig werk dit so dat ons kuikentjies groot word en hulle eie willetjies raak soms groter as hullseself.   Hulle begin hulle eie keuses maak en niemand sal my sê nie… Daar kom ’n punt waar jy as ouer eenvoudig niks meer daaraan kan doen nie.  Wanneer ’n kind op die punt kom waar hy sy eie keuses maak, moes sy vlerkies al in orde en in werking gewees het.  Want al is dit hoe hard, jy gaan daai kuiken moet laat los dat hy sy vlerke gaan uittoets.  As hy eers daar buite is, het jy nie meer ’n sê nie (volgens hulle).  Dan moet jy hoop en vertou.  Hierdie is ’n baie swaar ding, veral vir mammas, dis baie moeilik om jou kinders uit die nes te sien vlieg, maar hulle het ook ’n lewe om te gaan lei.  Grootste fout wat ouers kan maak, is om ’n voëltjie met stukkende vlerke weer in die nes toe te laat (ek weet dit klink wreed).  As hulle eers gevlieg het, moet hulle vlieg en “survive”.  As jy die voëltjie weer jou nessie aanbied, gaan daardie voëltjie baie groot skade veroorsaak in jou nes.  So mammas, asseblief… ons is almal dieselfde… ons staan met ’n wurmpie in ons bekkies by die opening van ons nessies en uitloer… net vir ingeval my kuiken hier verbyvlieg… dan kan ek hom lok met ’n wurmpie in die mond.  Dit is hard, dit is bitter seer, maar ons voëltjies moet hulle eie wurmpies soek en vind. Dit maak hulle sterk en al beland hulle in verkeerde windrigtings, sal ’n mamma altyd hoop en bid dat haar voëltjie die Skepper sal soek en vind, want sy vlerkies se raamwerk is gebou op die regte Fondasie.  

Dis baie hartseer as jy jou kind met alles in jou vermoë op die regte pad probeer grootmaak, maar nogsteeds besluit die voëltjie om die nes te verlaat en om alle windrigtings te beproef.  Hy neem al die verkeerde keuses met die gevolg dat hy in storms beland… hy val sy vlerke stukkend… soms kan die vlerke weer geheel word, maar soms nie…

Ek skryf hierdie kort storietjie nadat een van my eie voëltjies die verkeerde windrigtings gekies het.  Hy het gesukkel om los te breek uit daardie verwoestende winde.  Ons, as gesin, het hom ondersteun sover ons kon;  ek was in en uit rehabilitasie sentrums met hom, maar elke keer het hy net weer in die daardie windstroom beland.  Na 4 jaar se gespook en spartel, het sy krag en sy vlerkies ingegee.  Hy het geval… en sy vlerkies was flenters.  Hy het nie meer hoop gehad vir die lewe nie en het té ver gegaan met satan se wit poeiertjies. Op die jonge ouderdom van 23 jaar, moes ek my eersgeborene se dood in die oë staar.  Soveel vraagtekens het gevolg … was dit die wil van God?  Is dit waar God die punt van sy lewe geplaas het in sy lewensboek?  Ek gaan ’n hele paar saadjies skryf hoe Abba Vader my voorberei het vir hierdie harde hou… hoe Abba Vader my genadiglik gedra het deur hierdie trauma… hoe ek na die tyd terugkyk op al die gebeure.  Ja, soms (wanneer die hartseer, treur en rou my vaspen), wonder ek nogsteeds… hoekom Here?  En dan antwoord Abba Vader my terug:  Hoekom nie?  


Kommentare

Lewer kommentaar