Wat vra ons van God?

Wanneer ons bid, wat vra ons van God?

“As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”  Johannes 15:7

Daar is baie Skrifte soos die bogenoemde in die Woord van God wat daarop dui dat ons enigiets van God kan vra en ons sal dit kry, wat ’n wonderlike Skrif is, maar dis ook ’n Skrif wat veroorsaak dat baie mense hulle rug op God draai en nie meer in Hom glo nie.  As ek luister wat in die wêreld aangaan en wat mense van God vra en vereis, kan ons God seker nie kwalik neem as Hy Sy ore toedruk soos in Jesaja nie…  

“As julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle;  ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie,  julle hande is vol bloed.”   Jesaja 1:15 

Die wêreld verstaan hierdie “vra”  Skrif totaal en al verkeerd, want dit word verkeerd aan hulle geïnterpreteer.  Die mens vind dit moeilik om vir tye in afsondering in sy binnekamer op sy knieë voor Abba Vader tyd deur te bring, want dit baie opoffering, tyd en toewyding wat die mens eerder aan homself of aan wêreldse goed kon spandeer.  Die mens sien nie die nut daarvan in om afsonderingstye saam met Abba Vader te geniet nie en daarom interpreteer die Gees van God nie die Skrif aan die mens nie, maar luister die mens na die wêreld se interpretasie, want dis vinniger om na die wêreld te luister.  Maar waar kry die wêreld hulle interprestasie vandaan?  Direk van Satan af!  Hy vat die Woord van God, strooi so bietjie gif (wat suurdeeg is) oor en bedien die wêreld met suurdeegbrood wat heerlik op die tong val.  Dit is mos aangenaam om te hoor jy kan enigiets in die Naam van Jesus vra en jy sal dit verkry.  Dis mos lekker om te hoor jy kan demone hied en gebied in die Naam van Jesus, jy kan siekes gesond maak, jy is sommer ’n god… Jesus het aan jou die outoriteit, mag en krag gegee en jy moet dit gebruik…  Ek weet dit staan in Lukas 10:19 dat Jesus aan Sy dissipels die mag gegee het om op skerpioene en slange te trap, maar Hy het in daardie tyd aan Sy dissipels gegee, maar dit het verander toe Hy opgestaan het uit die dood en die Gees van God uitgestort het.  Nêrens het God dit vir ons geleer nie, maar oral deur die Woord word ons vermaan om lief te wees vir God, om verhouding met God te hê en om gehoorsaam te wees aan God en dit kom daarop neer dat ons fokus altyd op God moes wees, nie op allerhande snaakse gespreekte woorde en oorlogvoering nie.  Die mensdom is absoluut gek oor hierdie suurdeegbrood en eet dit vir soetkoek op… maar hoekom?     

Want dit maak die lewe vir die mens makliker, dit is hoekom!  Dit plaas die mens op ’n troontjie en maak God sy dienaar.  God het die mens gemaak om Hom te dien;  God het nie die mens gemaak sodat Hy die mens moet dien nie.  God moet deur die mens verheerlik word, die mens moet nie deur God verheerlik word nie. 

Kom ons gaan weer terug na hierdie Skrif:

“As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”  Johannes 15:7

Hoeveel mense het al hulle geloof in God verloor omdat hulle in tye van nood van Hom hulp gevra, maar dit nie gekry nie?  En nou is daar baie mense wat gaan antwoord dit is omdat die persoon wat gebid het, nie in geloof gebid het nie of dat hy nie genoeg geloof het nie.  Die “prosperity” leraars leer mos jy moet vra en dan moet jy leef asof jy dit alreeds ontvang het.  Suurdeegbrood!    Sien net asseblief die leuenwerke van Satan hier raak…hy wil hê ons moet hierdie Skrif so verstaan dat ons enigiets kan vra, want hy weet baie goed dit werk eintlik nie so nie.  Hy weet baie goed dat God nie enigiets aan ons gaan gee wat ons vra nie, maar hy wil hê ons moet kwaad word vir God en glad nie in Hom glo nie…. en dit is presies besig om te gebeur oor die hele aarde.  Mense wat nie eers weergebore is nie, maar met die mond tot bekering gekom het, hoor hierdie Skrif en begin enigiets van God vra.  Gaan God regtig luister en reageer?  As die mense nie kry wat hulle gevra het nie, wat is hulle reaksie?  Hulle is teleurgesteld in God, hulle raak kwaad vir God, hulle draai hulle rug op God en raak ateïste wat glad nie glo in die bestaan van God nie.  Hoekom nie?  Want Hy gee dan aan hulle wat hulle van Hom vra nie.  Hy voorsien nie in hulle behoeftes nie, Hy spring nie wanneer hulle dit van Hom verwag nie.  Nou is daar soveel mense wat beweer God wil nie na hulle luister nie, maar hoekom luister God nie?  Want die mens se prioriteite is nie in lyn met die wil van God nie. 

As jy die saadjies lees oor die wil van God, besef ’n mens net weer hoe almagtig God is, Hy hou die wêreld in Sy wonderbare hande en Hy het alreeds Sy kinders se paaie beplan.  God beplan vir ons net die mooi en goed, maar net so beplan Hy ook elke klip op ons pad, elke beproewing…  Hy doen dit nie om ons te straf of die lewe vir ons sleg te maak nie, Hy doen dit om ons te suiwer.  Hierdie is die eerste ding wat ons net sal moet aanvaar!  Ons kan nie vir God onder gebed vra om dit te verander wat Hy alreeds bepaal het nie, dan aanvaar ons nie die wil van God nie en as ons ons eie omstandighede probeer verander deur te glo God gee aan ons die outoriteit om Woord te spreek om sekere goed te verander, is ons nie op die ware Weg van God nie.  

Nog ’n saak wat ons eers met onsself moet uitmaak, is dat ons nie kan verwag om te leef soos wil, om ander om ons seer te maak, en dan te dink dat ons ’n voorspoedige lewe gaan lei nie, want dit wat ons saai, dit gaan ons ook maai.  As ons ander mense lelik behandel, gaan dit op ’n manier terugkom na ons toe wat ons weer in slegte situasies gaan dompel.  Het God dan hierdie sleg vir jou beplan?  Nee, Hy het nie, jy het dan self vir jou ’n stukkie vervloeking geskep.  Kan ons dan vir God vra om hierdie slegte situasie uit ons lewe weg te vat?  Nee, ons kan nie, want ons het dit dan oor onsself gebring.  Nou is die mens nog so arrogant ook om vir God kwaad te raak omdat Hy nie wil inspring en ons slegte situasies vir ons uit te sorteer nie, maar in die eerste plek is dit nie God wat dit oor jou gebring het nie, God het dit nie vir jou beplan of bepaal nie, jy het self deur sonde hierdie sleg oor jouself gebring.  Met hierdie in die agterkop, dink weer oor die vraag:  Kan ons vir God enigiets vra en Hy moet net inspring en dit vir ons doen?  Ek dink dis baie onregverdig van die mens om te leef en te maak soos hy wil, en wanneer die sleg toeslaan, net vir God te vra om die sleg weg te toor en dan gaan dit weer goed.  Ons moet regtig ons prioriteite en ons harte in orde kry.  (Ek praat nou baie kortliks hieroor, maar ek is klaar met nog ’n boek wat ek geskryf het wat net oor hierdie sake handel, sal julle op hoogte hou wanneer dit gereed is om gelees te word.)

Na my ongeluk in 2017, voordat Abba Vader my die Waarheid geleer het, het ek ook by hierdie vers vasgesteek:

“As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”  Johannes 15:7

Ek vir Abba Vader gesê ek verstaan nie hierdie vers nie, want hier staan dan ons kan enigiets van Hom vra en Abba Vader het my net terug gevra:  “Maar wat vra die mense van My?”  Ek het hieroor begin dink en toe besef ek dat die mens die meeste van die tyd vir God vra beskerming oor onsself, kinders, familie;  ons vra dit en ons vra dat… gaan dink self wat is dit wat jy van God vra onder gebed.  Ons VRA altyd net!  God is nie daar om misbruik te word nie en dis presies wat ons doen wanneer ons heeltyd net VRA.  As jy eerlik is met jouself en jou gebede kan vaspen, sal jy sien ons vra die heeltyd vir God om in ons vleeslike behoeftes te voorsien:  sekuriteit, voedsel, beskerming, ensovoorts.  Maar as jy die hele Johannes 15 lees, sal jy sien dat die hoofstuk daaroor gaan dat ons in Jesus gevestig moet wees, dat ons geen vrug kan dra sonder dat ons in Hom gewortel is nie.  Wanneer Jesus in en deur ons vrug dra, is dit tot heerlikheid van God, nie tot heerlikheid van onsself nie.  Alles gaan oor die heerlikheid van God, maar as ons heeltyd tot God bid om in ons vleeslike behoeftes te voorsien, tot wie se heerlikheid is dit dan?  Beslis nie tot die heerlikheid van God nie.  Dan gaan dit weereens oor onsself, maar ons is veronderstel om te sterf aan die self.  Alleenlik wanneer ons gesterf het aan die self, kan ons ingeëent word in die wynstok van God en as ons gesterf het aan ons vleeslikheid, gaan ons nie meer God vra om te voorsien in ons vleeslikheid nie, maar gaan ons weet Hy sorg in elkgeval vir ons.  God het nie vir ons gebed gegee sodat ons kan voordeel trek daaruit nie, Hy het die konneksie van gebed vir ons gegee omdat Hy verhouding met elkeen van Sy kinders wil hê en wanneer ons in gebed met Hom is, kommunikeer ons met Hom.  Dit is ook die tyd wat God diep in die binnekamers van ons harte werk om ons te omvorm na Sy wil, om ons ’n nuwe “mindset” te gee, een wat sal begin leef volgens Sy wil en wanneer ons leef tot die wil van God, gaan ons Hom WIL gehoorsaam en verheerlik.  Dan het die fokus van die mens verskuif vanaf die self na God.  Om God te verheerlik, moet ons Goddelike vrugte dra en ons kan alleenlik vrug dra met die LEWE van Jesus binne ons.  Dit is hierdie vrugte wat God verheerlik:

“Hierin is My Vader verheerik, dat julle veel vrug dra;  en julle sal My dissipels wees.”  Johannes 15:8    

As ons in Jesus gevestig is, is Hy ook gevestig in ons en daarom sal Sy woorde en Sy wil ook gevestig wees binne ons.  Dan gaan ons verseker nie vir God wêreldse seëninge vra of bid en smeek om in ons vleeslike behoeftes te voorsien nie, want as ons so verdiep in die hart van God is, is ons deurvloei met die LEWE van God en sal alles vir ons om God en Sy heerlikheid gaan.  Ons gaan WIL leef volgens die wil van God, volgens dit wat Hy in ons lewensboeke opgeskryf het, ons sal ons eie wil neerlê by die voete van Abba Vader en Sy wil vir ons lewe aanvaar.  Daarom sal ons nie smeek dat God ons omstandighede moet verander nie, want as daar iets slegs in ons lewe gebeur, sal ons dit aanvaar as beproewinge van God om ons sterker te maak en sal ons nie alles in ons vermoë doen om dit gekanselleer te kry nie.  Noudat ek die woord kanselleer gebruik, dink ek sommer aan die leringe wat ’n rypmpie opsê, iets soos:  “Ek kanselleer elke vloek oor my lewe, ek kanselleer dit en dat in die Naam van Jesus…”  Hierdie mense probeer God speel om dinge in hulle lewe om te keer, maar wat as hierdie slegte omstandigheid ’n toets van die Here af is?  Dan sê die mense eintlik reguit in God se gesig vir Hom Hy moet asseblief al Sy planne met die mens verander sodat dit altyd net goed kan gaan met die mens.  Die arrogansie van die mens….

  Lote moet vrugte dra en as dit nie vrugte dra nie, is dit ’n bewys dat hulle nie in die wynstok gevestig is nie en gaan hulle verwyder word.  Die mens wat heeltyd tot God bid net om in sy vleeslike behoeftes te voorsien, is hierdie lote wat beweer om in God gewortel te wees, maar al die tyd is hulle nie, want as hulle in God gewortel was, sou die LEWE van Jesus in en deur hulle vloei en sou hulle Goddelike vrugte gedra het.  Nou is daar geen vrugte wat God verheerlik nie en daarom word hulle afgeknip.  As ons vra, moet ons God vra om ons te help om Goddelike vrugte te dra wat Hom kan verheerlik en ons kan alleenlik hierdie vrugte dra wanneer ons gewortel raak in Hom.  Dan sal ons ingestel raak op God en nie meer op die self nie.

Kyk net gou na hierdie Skrif:

“As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.”  Mattheus 6:8,9

As jy kyk na die gebed van die “Onse Vader”, let net gou op wat is die eerste rede verse:

“Laat U Naam geheilig word”

“Laat U koninkryk kom”

“Laat U wil geskied”

Gaan dit enigsins oor die mens?  Nee, dit gaan eerstens oor God.  Eers ná hierdie 3 reëls kom die reël wat vra oor ons daaglike brood.  So ons mag ons begeertes aan God bekend maak, maar eers as alles in plek is, sal Hy na ons luister.  God hoef nie aan ons en ons versoeke gehoorsaam te wees nie!  As die prioriteite van ons hart in plek is, met ander woorde, as ons God en Sy koninkryk eerste in ons lewens stel, weet ek God sal ook in ons behoeftes omsien sonder dat ons daarna vra.  

“Daarom moet julle jul nie kwel en sê:  Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?  Want na al hierdie dinge soek die heidene;  want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.  Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”  Mattheus 6:31-33

Soek EERS die koninkyk van God!  Ek het al gehoor dat iemand sê God weet wat ons nodig het, maar sal dit nie aan ons gee as ons nie daarvoor vra nie – ek kan glad nie met hierdie siening saamstem nie.  Daar is niks mee verkeerd om met Abba Vader te praat oor dit wat aangaan in ons lewens nie, want ek glo as ek met Hom praat oor als wat aangaan in my lewe, Hy aan my leiding gee hoe om dit te hanteer op die regte manier, maar ons mag nie vir God probeer voorskryf wat Hy in ons lewe moet doen nie.  Kyk ook wat sê Jakobus 4

“Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.”  Jakobus 4:3

Mense bid teen die plafonne vas wanneer alles oor die self gaan en wanneer ons nog so lief is vir die self, is daar nie plek in ons harte vir Abba Vader nie.  Dan is ons ook nie gewortel in die wynstok nie en is die woorde van Jesus nie in ons hart nie, en daarom word daar gebid net vir die self se behoeftes, maar as Jesus en Sy woorde gevestig is ons hart, sal ons bid volgens die wil van God tot eer en heerlikheid van God.  Ons sal bid om vrug te dra omdat vrugte God verheerlik. 

As daar nou een ding is wat ons van God kan begeer en vra, is dat God ons sal help om ’n rein hart te bekom, ek glo Abba Vader luister hier na ons, want om vrug te dra, moet ons harte skoon wees.  Dit is nie altyd ’n maklike proses om gereinig te word nie, maar as ’n mens na ’n ruk terugkyk op jou lewe en jy sien hoe God jou skoongemaak het, dan kan ons net in diepe dankbaarheid neerkniel voor Sy voete en dankie sê dat Hy ons wel skoongebrand het.  

“Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.”  Psalm 51:10

Opgesom, ons moet die prioriteite van ons hart regkry, die self eenkant plaas, ons moet sterf aan die self, want alleenlik dan sal ons fokus kan skuif na God en sal ons kan bid vir die Koninkryk van God, dat Sy wil sal geskied en dat Sy Naam geheilig sal word.    

Leave a comment