Liggaam, siel en gees

God is Gees

Werking tussen liggaam, siel en gees… Hoe lyk ’n dormante geeshart-mens teenoor ’n lewende geeshart-mens?

“God is Gees;  en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Johannes 4:24 (AFR33/53)

Ek wil graag ’n saadjie uiteensit wat gaan oor die werking tussen die liggaam, siel en gees.  As julle dit verstaan, gaan julle makliker verstaan wat godsdiens is en hoekom godsdiens niks met Abba Vader te doen het nie. 

 Die liggaam is die tasbare, fisiese gedeelte van die mens wat al die organe en fisiese sintuie bevat.  Ons liggame raak fisies moeg, siek en afgemat en wanneer die mens fisies sterf, sal die liggaam terugkeer na die stof van die aarde.  Die liggaam huisves die siel en gees van die mens, so ek sien die liggaam as ’n “dop” vir die siel en gees. 

Die siel is die gedeelte van die mens waar die emosies, denke en eie wil gesetel is.  As jy dit as ’n prentjie in jou gedagtes kan sien:  Die liggaam is die buitenste dop en reg onder die liggaam is die siel geleë.  Daar is ’n baie interressante wisselwerking tussen die liggaam en siel:  Wanneer daar iets slegs in ons lewe gebeur en ons hartseer is, voel ons die hartseer emosie in ons sielsdimensie waar ons emosies gesetel is, maar tog kan ’n mens ook die hartseer dadelik in ’n persoon se gesig en in sy oë sien.  Kan jy sien hoe spoel die emosies van die mens oor na die liggaam?  As iemand gelukkig is, kan dit op daardie tydstip uit sy oë straal, maar daardie straling van die oë kan net so vinnig weer verdwyn ook.  Dit wat die siel vir ’n oomblik gelukkig maak, word weerspieël in die liggaam van die mens.  Dan is daar ook al bewys dat negatiewe emosies soos bitterheid, woede, wraak en onvergewensgesindheid die mens se liggaam kan siek maak en nadat ek baie Skrifte ondersoek het, stem ek daarmee saam.  Een ding waaroor ek baie sterk voel, is dat ongehoorsaamheid aan God, die liggaam kan vergiftig en siek maak.  

 Die gees is die diepste wese van die mens – die geeshart.  Die gees is geestelik in die vorm van ’n hartjie in die kern van die mens, dit is dus die diepste gedeelte van die mens.  Die geeshart is die belangrikste gedeelte van die mens, want dit is hier waar die Goddelike mens (wat God lank reeds geskep het), sy oorsprong vandaan het.  Dit is in die geeshart waar die ware essensie van Lewe ontstaan.  God het die gees van die mens vir Homself geskep, want dit is in die gees van die mens waar die Gees van God kom woon, dit is dus die deel van die mens waar God “dwell”.  God woon nie in ons siel of liggaam nie, alleenlik in ons geeshart en Hy werk met ons vanuit ons geeshart.  As jy die saadjies lees wat handel oor die boom wat ’n penwortel in die hart van God ingroei, sal jy ook sien dat ons die Lewe van God ontvang deur die penwortel en nadat ons hart die Lewe van God geabsorbeer het, spoel die Lewe van God oor na ons sielsdimensie.  Dit begin ons van ’n kant af verander byvoorbeeld:  Dit begin ons waardes, beginsels, persepsies, gedagtes, emosies, eie wil en alles in ons sielsdimensie verander.  Hierdie goeie verandering spoel weer vanaf ons siel na ons liggaam wat ons kan genees van siektes.  So sien julle dat alles in die gees van die mens begin?  Alles begin by verhouding met Abba Vader!  Die mens kan nie genesing in sy siel of liggaam ontvang sonder om gekonnekteer te wees aan Abba Vader nie en ons kan alleenlik aan God gekoppel wees deur ons gees, glad nie deur ons liggaam of siel nie, so ons kan alleenlik deur ons gees aan God verbind wees.  

 

Hoe lyk ’n dormante geeshart-mens?

Ons word in die wêreld ingebore as liggaam, siel en ’n dormante geeshart.  Die geeshart van die mens is eers in dormansie, met ander woorde, ons word nie gebore as ’n mens met ’n lewende geeshart nie.  Ons reflekteer nie die beeld van God wanneer ons gebore word nie, dus word ons nie heilig gebore nie.  Ons geeshart begin eers lewe wanneer God ons aanraak en wanneer die Gees van God in ons geeshart Sy woning maak.  So, vanaf ons geboorte, is daar ’n wisselwerking tussen ons liggaam en siel, maar omdat die geeshart nog in dormansie is, speel dit geen rol nie.  Die geeshart moet eers wakker word uit die diepe slaap, dit is hoekom daar in Efesiërs 5 staan:

“Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”

Efesiërs 5:14 (AFR33/53)

Die geeshart bevat die geestelike sintuie en dit tree ook eers in werking wanneer die geeshart uit dormansie uit wakker word.  So ’n mens met ’n dormante geeshart, kan nie geestelik hoor, sien of verstaan nie, want sy geestelike sintuie is nog nie in werking nie.  Hy het dus geen geestelike onderskeidingsvermoë nie en hy hoor nog net met sy fisiese ore en sien met sy fisiese oë.  Alles wat hy hoor en sien word opgeneem deur sy brein waar dit omgesit word in logiese data vir die mens om te verstaan.  Dit is hoekom dormante geeshart-mense alles logies verklaarbaar wil hê;  dit is vir hulle baie moeilik om die onsienlike te verstaan.  1 Korinthiërs 2 sê ook dat die natuurlike mens nie die dinge van God kan aanneem nie;  dit is vir hulle dwaashede, maar dit is omdat hulle geestelike sintuie in dormansie is en hulle niks geestelik kan beoordeel nie.  Hulle dink net op ’n vleeslike manier deur die liggaam en siel.  Hulle dormante geesharte gaan eers moet wakker word voordat hulle die dinge van God sal kan aanneem of verstaan.  Dormante geeshart-mense het ook geen geestelike onderskeidingsvermoë nie en daarom kan hulle nie leuens van die Waarheid onderskei nie.

Terwyl die geeshart in dormansie is, is die liggaam en siel die belangrikste vir die mens.  Sy fisiese behoeftes is baie hoog op sy prioriteitslys en hy sal enigiets doen om in sy fisiese behoeftes te voldoen, al is dit teen die wil van God.  ’n Welbekende kenmerk is selfsug… alles draai om die self en om die self te verhoog.  

Mense word van kleins af geleer om kerk toe te gaan, om God te aanbid, om te glo dat Jesus vir sy sondes gesterf het en dat hy alreeds gered is, maar terselfdertyd is sy geeshart nog heeltyd in dormansie…  Hierdie mens glo dus deur sy liggaam en siel in God, en nie deur sy gees nie, want ’n dormante gees is nie-werkend.  Jesus sê baie duidelik in die Woord dat ons God deur die gees moet aanbid. 

“God is Gees;  en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Johannes 4:24 (AFR33/53)

’n Dormante geeshart-mens is dus nie gekoppel aan Abba Vader nie en hy kan nie ’n verhouding met Abba Vader hê nie.  Hy is nie gewortel in die hart van God nie, Hy ontvang nie die Lewe vanaf God nie en hy kan ook nie Goddelike vrugte dra nie.  Hierdie mens kan dalk ’n skyn van vrugte dra, maar dit sal nie langblywend wees nie.  Ons het die Lewe van God binne ons harte nodig om Goddelike vrugte te dra, ons het nodig om in die wynstok gewortel te wees, maar daarvoor moet ons geesharte eers wakker word.

Jesus vertel in Johannes 3 dat die mens nooit in die Koninkryk van God kan ingaan as hy nie weergebore word nie.  Jesus het dit nie fisies bedoel nie, Hy het dit geestelik bedoel… Jesus het geweet dat die geeshart van die mens in dormansie is en dat dit ’n geestelike geboorte nodig het, maar vir geestelike wedergeboorte, moet daar eers ’n sterfte plaasvind… nie ’n fisiese sterfte nie, maar ’n geestelike sterfte van die self.  Dit is wanneer die mens deur die Woord gelei word om sy verkeerde lewenswyse, sonde en ongeregtighede raak te sien, dit aan God te bely en die keuse te maak om dit teë te staan.  Daar is so baie goed in onsself wat ons eers moet afsterf voordat ons tot ware wedergeboorte kan kom.  Soms voel dit eerder vir my asof die afsterf van die self ’n permanente proses in my lewe is, want daar is altyd iets in my waaraan ek werk deur die hulp van Abba Vader, ek dink nie ons hou op aarde ooit op om die self te kruisig en af te sterf nie.  

 

Hoe lyk die mens wie se geeshart ontwaak het?

(Om meer te lees en te verstaan oor ons geeshart wat moet ontwaak, lees gerus die saadjies wat handel oor die boom wat gewortel moet wees in God.  Ek plaas die links van die saadjies onderaan.)  Die mens wie se geeshart ontwaak het uit die diepe slaap en wat gekonnekteer is aan God, se geeshart sal lewe met die Lewe van God.  Hulle geestelike sintuie sal werkend wees en hulle ontvang geestelike onderskeidingsvermoë vanaf Abba Vader.  Omdat die Gees van God teenwoordig is in sy hart, sal dit wat hy in die Woord lees of hoor, deur die Gees van God in sy geeshart aan hom verduidelik word.  Dit wat die mens sien en hoor, word nie deur sy brein as logiese data verwerk nie, maar dit word as geestelike Waarhede deur die Gees van God verwerk.  Hulle verstaan dit met hulle harte, nie met hulle breine nie.  Inligting of data hoef nie vir hulle logies verklaarbaar te wees nie, want God stel hulle in staat om te kan glo soos ’n kind.  Hulle glo in God deur die gees en aanbid God ook deur die gees en nie deur die liggaam of siel nie.

“Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep IN WAARHEID.”

Psalm 145:18

Om alles in ’n neutedop saam te vat:  Die geeshart van die mens is die belangrikste gedeelte van die mens, want ons kan alleenlik deur die geeshart aan God gekoppel wees.  Die mens wie se geeshart in dormansie is, kan dus nie aan God gekoppel wees nie en kan nie verhouding met Abba Vader hê nie.  Hy kan God nie deur die gees aanbid nie, slegs deur die liggaam en siel… Dit is suiwer godsdiens!  Wanneer aanbidding geskied deur die liggaam en siel sonder verhouding met Abba Vader, is dit suiwer godsdiens, tradisie en rituele wat geen betekenis of ewigheidswaarde het nie.  

Vir dormante geesharte om te ontwaak, het ons die suiwer Woord nodig, ons het nodig om in afsondering op ons knieë voor Abba Vader neer te sak en ons sondes raak te sien en te bely… elke dag! 

Links:

Gewortel in die Woord

Penwortel van geloof

Maak van jou hart God se tabernakel…

         

 

One thought on “Liggaam, siel en gees”

Leave a comment