Manna in afsondering

Afsondering

“Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”
2 Korinthiërs 6:17 (AFR33/53)

Onder gebed laat ervaar Abba Vader my die volgende: Al wat ek om my sien, is seesand in ’n klein sirkeltjie met brandertjies wat rustig op die sand uitspoel. Dit lyk soos ’n baie klein eilandjie waar ek met my rug teen die stam van ’n lang, dun boom sit. Ek kyk om my rond, maar hier is niks op hierdie eiland nie – nie kos nie, nie water nie, niks! Dit is net ek, die seesand, die boom en die water wat my omring. Ek kyk weer om my rond en wonder hoe ek gaan oorleef op hierdie eiland sonder kos en water, maar dan hoor ek die sagte briesie-stem van Abba Vader:
“Jy het nie kos en water nodig nie, jy moet leer om te oorleef op die Brood van die Lewe”.   Ek dink dadelik aan die Skrif in Mattheus 4:4 waar Jesus sê:

“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke Woord wat deur die mond van God uitgaan.”
Mattheus 4:4 (AFR33/53)

Ek wonder hoekom Abba Vader my laat beleef dat ek op hierdie klein eilandjie is, waarop Hy my antwoord dat Hy my wil afsonder sodat ek kan leer om te voed en te leef alleenlik op die Brood van die Lewe, want daardeur sal ek die volle Waarheid leer ken. Dit wat Abba Vader my leer, moet ek woord vir woord neerpen, en Hy gee vir my Habakuk 2 om te gaan lees:

“Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees.”
Habakuk 2:2 (Afr. 33/53)

Abba Vader verduidelik dat ek vir ’n bepaalde tyd geen ander boeke mag lees nie; ek mag geen geestelike boodskappe oor die radio of na ander mense luister nie, want daar is soveel wolwe en onheilswerkers daar buite wat God se boodskap verdraai. Ek moet in afsondering begin voed op die Woord van God. Abba Vader gee vir my 2 Korinthiërs 6 om te gaan lees en die bevestigende Skrif is vers 17:

“Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”
2 Korinthiërs 6:17

Ek het vir baie jare my geestelike hongerte met boeke, artikels op die internet en praatjies probeer voed. Genadiglik het Abba Vader my nadergetrek en aan my die Waarheid begin leer, maar vir Hom om my die volle Waarheid van ’n kant af te begin leer, moes ek alles waarop ek probeer voed, eenkant toe skuif. Ek moes leer om te fokus op die stem van God en alleenlik voed op Sy Woord.
’n Paar oggende later, onder gebed, laat beleef Abba Vader my weer die eiland, maar hierdie keer is daar iets wat op die eiland uitgespoel het. Ek stap stadig nader om te kyk wat dit is, en sien dan iets wat lyk soos ’n oop skulpie met ’n pragtige, blink, ronde “balletjie” in wat my laat dink aan ’n pêreltjie. Ek waag nie daaraan vat nie, want ek wil nie buite die wil van God optree nie, maar toe hoor ek die pragtige stem van Jesus wat aan my verduidelik dat dit Manna is wat direk uit die hart van God kom. Jesus vat een en plaas dit in my mond – dit smelt weg soos heuning, so soet, so heerlik… Jesus verduidelik aan my dat God aan ons Manna gee om te eet op Sy tyd en dat dit ons geestelike hongerte sal stil.

“Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan. Erken dan in jou hart dat die Here jou God jou onderrig soos ’n man sy seun onderrig en hou die gebooie van die Here jou God om in Sy weë te wandel en Hom te vrees.”
Deuteronomium 8:3,5 (Afr.33/53)

Die wêreld en sy mense staan afsondering baie erg teë, maar selfs Jesus het soveel keer in afsondering inbeweeg. Nadat Hy gedoop is met die Heilige Gees, is Hy die woestyn ingelei waar Hy in afsondering gevas het vir 40 dae en nagte. In hierdie tyd het die engele Hom Manna gevoer. As Jesus in afsondering inbeweeg het, laat ek my nie deur die wêreld vertel dat dit verkeerd is om in afsondering in te beweeg nie. In afsondering, het ek Abba Vader eers werklik leer ken; in afsondering het Abba Vader my die Waarheid begin leer en het ek al die leuens van die wêreld begin raaksien. God wil ons wegkry uit die geraas van die wêreld waar almal in ons ore raas en blaas, daar waar almal wil hê jy moet húlle waarheid en leringe glo, maar in afsondering leer ons vir Abba Vader asook Sy Waarheid ken. Dit sal vir my sinmaak dat Satan nie wil hê ons moet in afsondering inbeweeg nie, want hy weet goed ons gaan in afsondering vir Abba Vader leer ken en dat Abba Vader dan aan ons die Waarheid gaan leer en Satan sal alles in sy vermoë doen om te keer dat ons die Waarheid bekom.
Wanneer ons in afsondering by die voete van Abba Vader vernag, gee Hy aan ons Manna wat direk uit Sy hart kom. Ons het nodig om ons hartsore te spits en op Abba Vader te fokus om die Manna vanaf Hom te ontvang, want dit is Woord direk uit Sy hart uit. Ons kan dit onmoontlik nie ontvang met ’n groot geraas in ons ore nie, maar ons ontvang dit alleenlik wanneer ons tyd voor die voete van Abba Vader spandeer.
Die stem van God is nie hoorbaar in storms, weerligstrale of in stormwinde nie, maar die stem van God is hoorbaar in die sagte briesie wat Hy deur jou hart laat waai. Wanneer Sy stem deur jou hart ritsel, is dit soos ’n sagte briesie wat al die deurmekaar blare in jou hartsgrond bymekaar waai en dit op een netjiese hoop kom neersit sodat die lewe en alles daaromtrent net meer sinmaak. Wanneer God se stem deur jou hart beweeg, is dit soos ’n sagte briesie wat selfs jou maag laat draai en ’n duisend skoenlappers loslaat in die diepte van jou maag wat jy nie geweet het bestaan nie. Julle weet mos hoe voel daardie verlief gevoel… As jy die man van jou drome sien, is daar ’n skoenlappergeveg aan die gang in jou maag… dis daardie gevoel wat jy voel in jou maag wanneer God Sy stem deur jou hart laat beweeg… Hy laat ’n Woord of twee vry binne jou, dis die lekkerste gevoel ooit en dit voed jou van diep binne. God wil hê elkeen van ons moet Sy stem hoor, want Hy weet hoe goed dit is vir ons – dit voed ons gees, wat weer oorspoel na ons siel en liggaam. Dit kan ons genees van allerhande kwale, maar die belangrikste is dat wanneer ons so na aan God leef, bou ons verhouding met Hom en herstel dit die God-mens-verhouding deurdat daar ’n oop kommunikasiekanaal gevorm word.
Jy sal self weet hoeveel tyd jy met die Woord van God bestee teenoor tyd wat jy aan geestelike boeke of geestelike praatjies bestee. Dis regtig tyd dat ons almal eers daardie geestelike dinge opsy skuif en tyd maak vir Abba Vader – net jy en Hy! Dan sal Hy jou ook met Woord uit Sy hart bedien – Manna! Dan leer ken ons die volle Waarheid en die Waarheid sal ons vrymaak, veral van al die dwaalleringe wat ons lei na die hel, sonder dat ons dit besef. Elkeen is dit aan homself verskuldig. Beweeg in afsondering waar daar geen wêreldse brood is nie; druk toe jou ore vir die wêreld en hul praatjies en fokus om te voed op die Brood van die Lewe en om die stem van God te leer ken. Verwerp die brood van die wêreld en jy sal ontvang die Brood uit die hand van God.

“Doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante Woord, wat in staat is om julle siele te red. Word daders van die Woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”
(Jakobus 1:21,22)

Wat is ware vas?

Jesus het na Sy doop vir 40 dae en nagte in afsondering in die woestyn gevas. As ons dink aan die tyd waarin Jesus grootgeword het, sal ons sien dat die Fariseërs, met al hulle skewe reëls, wette en rituele, aan die orde van die dag was. Jesus was, soos alle Joodse seuntjies, grootgemaak met die godsdienstige reëls, maar toe Jesus na Sy afsonderingsperiode teruggekeer het na die wêreld, het Hy al hierdie godsdienstighede van die Fariseërs teëgestaan en geweier om dit na te kom. Jesus het dus in Sy afsonderingstyd geleer dat dit wat die Fariseërs verkondig, suurdeegbrood is en dat dit nie van God afkomstig is nie, daarom het Hy dit teëgestaan. Jesus het in Sy afsonderingsperiode die Waarheid by Sy Vader geleer en eers nadat God Hom met Manna gevoed het, het Jesus se bediening in die wêreld begin. In afsondering leer ken ons die Waarheid! In afsondering ontvang ons Manna vanaf God. Niemand kan ’n bediening begin sonder om eers afgesonder te wees by die voete van Jesus nie, want die kans is so groot dat die persoon nog nie gereinig is van suurdeeg nie… en dit is dalk hoekom die wêreld so besmet is met vals leringe… mense wat ’n bediening begin sonder om die Waarheid by Abba Vader te ontvang.
Jesus het in Sy vastingsperiode geleer dat ons nie moet voed op die brood van die wêreld nie, veral nie op suurdeegbrood nie, maar dat ons moet leef op elke Woord uit God se mond. Jesus het gevas – nie alleenlik van fisiese kos nie, maar ook van die geestelike suurdeegbrode wat deur die Fariseërs uitgedeel is in Sy tyd. Hy het dus vir ’n bepaalde tyd gevas van al die wêreldse voedsel, en omdat Hy dit opsy geskuif het, kon God aan Hom die Waarheid leer en kon Hy met Sy terugkeer na die wêreld, die leuens van die wêreld teëstaan. Ons moet die voorbeeld van Jesus volg. Ons weet nou dat ons in die wêreld geestelik baie honger is en ons probeer ons geestelike honger buike vul en volkry met alles wat Satan ons op ’n goue skinkbord aanbied. Ons weet nou dat hierdie vrot vrugte van die wêreld waarop ons voed, nie ons geestelike honger kan stil nie, maar dat dit ons eerder laat sondig en rebelleer teen God, wat lei na geestelike blindheid en doofheid vir die Waarheid van God. Satan se doel is om ons geestelik aan die slaap te hou sodat ons nie die Waarheid sal raaksien nie en julle het gesien hoe meer ons voed op bose vrugte en suurdeegbrood, hoe meer word ons geestelike harte verduister. Dit is alles pogings van Satan om ons in sy mag te hou.
Soveel jong gelowiges voed op suurdeegbrood wanneer hulle tot bekering kom (sonder dat hulle dit besef). Eers wanneer ons vas van alles wat afkomstig is uit die wêreld, sal ons agterkom dat ons wel gevoed het op suurdeegbrood. Eers wanneer Abba Vader ons die Waarheid leer, sal ons besef hoe besoedeld ons al die tyd was van al die giftige suurdeeg. Ons almal het nodig om te vas van suurdeegbrood, want ons almal het dit ingekry! Ons almal was vergiftig, maar ons wil dit nie besef en glo nie. Ons sal dit eers besef wanneer ons ons daarvan weerhou sodat die gif wat nog binne ons is, kan begin uitwerk. Eers wanneer ons die Waarheid begin leer, sien ons die suurdeegbrood raak wat ons vergiftig het. Die Waarheid maak ons vry, selfs van suurdeegbrood.
Ons moet Abba Vader vra om aan ons al die “goed” te openbaar wat ons probeer gebruik om ons geestelike hongerte te stil en ons moet vir ’n bepaalde tyd vas van al hierdie goed sodat dit uit ons sisteem kan uitwerk. Wanneer die gif daarvan begin uitwerk en ons voed op die ware Brood, sal ons geestelike sintuie begin ontwaak en sal ons die Waarheid begin raaksien. Daarom is dit so belangrik dat ons in ons afsonderingstydperk alleenlik moet voed op die Woord van God. Ons moet die smaak en tekstuur van die Brood van die Lewe waarlik leer ken en al hoe ons dit kan leer ken, is om daarop te voed. Soos ons die Waarheid leer ken, sal ons die suurdeegbrood en vrot vrugte waarop ons gevoed het, begin raaksien in ons lewens. Ons sal die leuen van die Waarheid kan begin onderskei. Dit is wat ware VAS beteken! Ons moet vas van die gif van die wêreld dat dit uit ons sisteem kan uitwerk sodat die Waarheid ons kan oorneem. Ons moet die vas wat die wêreld ons leer, ook eers eenkant toe skuif, want die wêreld se manier van vas, word nêrens in die Woord vir ons geleer nie. Kom ons loer net gou wat leer die wêreld ons van vas…
Soveel mense misbruik die ritueel van vas. Jesaja 58 is baie duidelik oor vas. Daar is niks mee fout as mense vir ’n sekere tyd hulle onthou van kos om hulle tyd aan God te wy nie, maar weereens moet ons let op die motief van die hart. Om watter rede vas mense? As die rede is om nader aan God te beweeg, om Hom beter te leer ken of om nader aan Hom te groei, is daar niks mee fout nie, maar soveel mense vas om verkeerde redes. Sommige leringe leer ons dat ons moet vas vir ander mense sodat hulle harte verander kan word en hulle tot bekering kan kom, maar waar in die Woord van God leer Hy ons om dit te doen? God alleen red! Niks wat ’n mens doen, kan ’n ander een red nie. Ons moet aanvaar dat Abba Vader al lankal die perfekte tyd gekies het om met elke persoon te werk; Abba Vader het vooraf ’n tyd gekies wat Hy elke kind van Hom roep en nader trek na Hom. Geen mens kan tot bekering kom as God hom nie trek nie! (Johannes 6:45) Hoe gaan ons nou vir God oorreed om ’n ander na Hom toe te trek deurdat ons weier om ons mond aan kos te sit? Dit is absurd. God het klaar besluit en ons moet dit aanvaar. Hoe gaan ons ’n ander persoon se gees wakker kry deur op te hou eet? God kan ons wel gebruik in ’n ander se lewe, maar ons kan nie omstandighede skep of verander deur te vas nie. Ons kan nie vir God om ons pinkie draai deur op te hou eet nie. Ek kry ’n rilling deur my liggaam as ek daaraan dink, want dit voel vir my ons probeer toor as ons sulke dinge doen. Nêrens in die Woord leer God ons om vir sulke redes te vas nie. Die ergste is wanneer ons vas sodat God iets in ons lewens moet doen, met ander woorde, dit gaan weereens oor onsself en nie oor God nie; dit gaan om in ons eie fisiese behoeftes te voorsien en glad nie oor God nie. Dan is dit weer daardie Goddelike misbruik wat insluip, en net soos ons selfondersoek moet doen waarom ons Jesus volg, net so moet ons ook selfondersoek doen oor die redes waarom ons vas. Is dit om iets uit die hand van God te ontvang? Of is dit om in ’n hegter verhouding met Hom te wees?
Ek het ook voorheen geestelike boeke gelees om my geestelike honger te les, maar ek het alles gebêre en vir ’n tydperk van ’n paar jaar in afsondering inbeweeg. Ek het op Jesus se manier gevas van suurdeegbrood en alleenlik God toegelaat om my te leer. My geestelike oë het al hoe meer oopgegaan en ek het die Waarheid begin raaksien soos God dit aan my geleer het. Ek was geskok oor die baie leuens van die wêreld wat ek geglo het. Ek was geskok oor al die suurdeegbrood wat ek tevore ingeneem het. Ek was naïef en het alles geglo omdat dit “geestelik” klink, maar in afsondering, leer Abba Vader ’n mens dat nie alles wat mooi, goed en geestelik klink, van Hom afkomstig is nie, maar baie van hierdie sogenaamde geestelike “kennis” is uitgedink deur die beheerder van die duistere wêreld om te klink asof dit van God af kom. Die Here gee Deuteronomium 13 om te bestudeer…
In die wêreld is baie vals profete en leraars wat die mensdom probeer wegrokkel van God om hulle gode te dien. Moenie so naïef wees om te dink jy gaan hulle gode uitken aan hulle name nie, want hulle noem hulle afgod ook god! Die manier waarop hulle hulle god dien, is nie vir ons uitgestip in die Woord nie en daarom is dit van uiterste belang dat ons die Woord van God regtig goed moet ken en God moet toelaat om vir ons Sy Woord te leer en verduidelik soos Hy dit bedoel het. Hulle verkondig byvoorbeeld ’n tipe verlossing wat redding maklik vir die mens maak, maar hulle tipe verlossing is nêrens in die Woord te vind nie. Ons het almal nodig om vir ’n bepaalde tyd af te sonder van dit waarmee ons ons geestelike hongerte probeer stil en dit kan selfs jou kerk wees. In afsondering maak God ons geestelike oë en ore oop sodat ons die vrot vrugte en suurdeegbrood van Satan kan raaksien en dit kan teëstaan. Dit is natuurlik die rede hoekom Satan nie wil hê ons moet in afsondering inbeweeg nie en hoekom hy aan die wêreld verkondig dat ons nie mag afsonder nie. Hy weet baie goed dat ons in afsondering Manna gaan ontvang wat ons die Waarheid leer sodat ons sy leuens kan raaksien. Dit is ook baie belangrik dat ons besef dat niemand ’n bediening kan begin as hy nie eers in afsondering by die voete van Abba Vader vernag het nie. Ons moet eers die Waarheid by die ware Bron van Waarheid ontvang. Ons moet die voorbeeld van Jesus volg.
Ons het nodig om in stilte voor die voete van Abba Vader baie tyd te spandeer en alleenlik te voed op dit wat God ons bied. Dan sal ons kan raaksien wie die vals profete om ons is…

“Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”
2 Korinthiërs 6:17 (Afr.33/53)

Ons het nie die brood en water van die wêreld nodig om te kan oorleef nie; ons het alleenlik die Brood van God nodig!

One thought on “Manna in afsondering”

Leave a comment