Suurdeegbrood

suurdeeg

“‘Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.’ Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs.”
Mattheus 16:6,12 (AFR33/53)


Ons weet nou dat almal eers in die duistere wêreld ingebore word, almal se geesharte is eers in dormansie, so almal is eers geestelik honger. Almal probeer hulle geestelike hongerte stil met dinge uit die wêreld en hierdie goed waarop ons voed, is eintlik bose vrugte wat Satan aan ons bied. Hy probeer alles in sy vermoë om die mens in die duister hou, om die mens geestelik blind en doof te hou. Hy wil nie hê jy moet Abba Vader leer ken nie en hy keer dit deur die mense besig te hou met die wêreld se dinge. Dit is al die versoekings waarmee Satan ons versoek en dit is ons verantwoordelikheid om sterk te raak in die krag van Jesus Christus sodat ons hierdie versoekings kan raaksien en dit teëstaan. God het vir Kain gesê dat die sonde altyd voor die mens se deur sal lê en loer, maar ons moet daaroor heers. Om daaroor te heers, moet ons dit eerstens kan raaksien en daarvoor het ons die Woord van God broodnodig. God bied aan ons die Brood van die Lewe waarop ons moet voed om geestelik volwasse te raak.
Ons het gesien dat Jesus Homself in Johannes 6 aan die skare gebied het as die Brood van die Lewe waarin hulle moes glo, maar hulle het eers ’n wonderwerk van Jesus versoek as voorwaarde om in Hom te glo… Dit is ongelukkig die probleem met talle jong gelowiges. Die Woord van God is nog vir ons verveeld om te lees wanneer ons tot bekering kom, maar dis omdat die Woord dan nog met die vlees gelees word en nie deur die Gees nie. As jy die saadjies lees wat handel om in die hart van God gewortel te word, sal jy sien ons moet eers vir ’n lang ruk alleenlik op die Woord van God voed voordat die Lig van die Woord ons harte kan bereik en dan eers interpreteer die Gees van God die Woord aan ons sodat ons dit op God se manier kan verstaan. Dan is die Woord van God nie meer vir ons verveeld nie, maar lekker om op te voed. Jong gelowiges wat sopas tot bekering gekom het, trap baie keer in die slaggat om iets meer interessants te soek om op te voed, want die Woord word nog nie deur die Gees aan hulle geïnterpreteer nie. Daarom gryp hulle meestal na allerhande interessante geestelike boeke en praatjies om hulle geestelike honger stil te maak, pleks van die suiwer Woord van God. Hulle handel onbewustelik soos die skare van Johannes 6 wat wondertekens soek as voorwaarde om in Jesus Christus te glo. Hulle wil dinge voel en sien gebeur, hulle wil nie alleenlik voed op die ware Brood nie…en juis vir hulle bak Satan ook ’n broodjie…
Abba Vader wys my twee brode in Sy hand en dadelik weet ek een brood is afkomstig van God en die ander brood is van Satan, maar altwee brode lyk op die oog af dieselfde, so hoe gaan ons weet watter een is van God en watter een is van Satan? Op watter een gaan ons voed? Albei is ewe hoog gerys en albei is dieselfde kleur. Gaan hulle dieselfde ruik en dieselfde proe? Dan breek Abba Vader die brode oop… dis nog lekker warm brode direk uit die oond, die stoom trek nog uit die brood. Hy wys my die eerste brood en dit lyk so “fluffy”, sag en veeragtig – dit laat my dink aan outydse beskuit wat sommer so wegsmelt in ’n mens se mond. Geen botter of konfyt is nodig om hierdie brood na iets te laat smaak nie, dit lyk sommer asof dit gaan proe soos heuning. Dan breek Abba Vader die tweede brood oop… die tekstuur van die brood is glad nie so sag en veeragtig soos die eerste een nie; dit lyk asof dit met olie gebak is en dit het meer gaatjies as die eerste brood. Dit laat my dink aan iets wat baie vinnig gemaak is – soos die kitskoeke in ’n boks wat ‘n mens in vandag se tyd kry – alles is klaar deur die wêreld bymekaar gegooi, alles is kits. Hierdie brood is propvol suurdeeg sodat dit vinnig kan rys en vinng vir honger mense gevoer kan word…. maar dan waarsku Jesus ons in die Woord om weg te bly van suurdeeg af…

“‘Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs’. Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs”
Mattheus 16:6,12 (AFR33/53)

Satan sal altyd God en Sy werke probeer naboots. Net soos God aan ons die Brood van die Lewe gee, gee Satan ook aan die mensdom brood, maar die verskil is dat sy brood deurtrek is van gif. Hy vergiftig die jong, naïewe gelowiges in groot getalle omdat hulle nog nie onderskeidingsvermoë het nie en daarom kan hulle nie die ware Brood van die giftige brood onderskei nie. Wanneer ons as nuutgeworde gelowiges die pad saam met Jesus begin stap, ontvang ons nie onmiddelike onderskeiding soos baie mense valslik glo nie. Ons ontvang onderskeiding alleenlik van God, en dit ontwikkel diep binne ons geesharte soos ons voed op die ware Brood van die Lewe.
As ons nie geestelik grootgemaak is op die Brood van die Lewe nie, het ons geen onderskeidingsvermoë nie; ons gaan nie Satan se suurdeegbrood kan onderskei van die Brood wat God ons bied nie. Ons sien net die buitekant van die brood raak, albei brode ruik dieselfde en daarom gaan ons dink enige brood kom van God af. Selfs al word die brood oopgebreek vir ons om die tekstuur van die brood te kan sien, maar ons ken nie die Brood van God nie, gaan ons nie weet die “gate-brood” kom van Satan af nie. As ons nie die Brood van God ken nie, gaan ons ook nie weet hoe die tekstuur van die Brood van God lyk nie. Dan gaan ons ook nie weet dat daar ’n probleem is met die gate in die brood van Satan nie. As ons nie die ware Brood ken en die tekstuur daarvan ken nie, gaan ons nie die twee brode met mekaar kan vergelyk nie. Omdat ons nie voed op die Brood van die Lewe nie, het ons geen onderskeidingsvermoë nie. Die persoon wat die Brood van God ken, weet hoe sag dit op die tong is en hoe dit smelt in die mond. Hierdie persoon weet presies hoe die tekstuur van die Brood lyk en gaan onmiddelik die bose brood van Satan uitken en verwerp. Hy weet ook dat die Brood van God sonder enige bymiddels bedien word, want God het nie botter en konfyt nodig om Sy Brood lekkerder te laat smaak nie.
Satan weet hoe honger en uitgeteer ’n jong gelowige se geeshart is; hy weet baie goed dat ’n jong gelowige op die vroeë stadium geen geestelike onderskeidingsvermoë het nie. Hy weet baie goed wie diegene is vir wie die Woord van God verveeld is om te lees en wat opsoek is na iets meer interessants as die Woord van God. Hy weet ook presies wie diegene is wat eers ’n teken wil sien voordat hulle oorgee aan God. Hy weet wie nog onvolwasse in die geloof is en hy sal hulle altyd lok na sy byeenkomste om sy giftige brood uit te deel.

“…nuwe gelowiges wat maar pas van hulle sondige verlede afgesien het, is veral die prooi van die mense. Hulle sleep die niksvermoedende gelowiges saam met hulle in die ellende in. Hulle beloof hemel en aarde aan hierdie arme mense, maar van die beloofde vryheid kom daar net mooi niks nie, want die mense wat hierdie leë beloftes maak, is self in die kloue van die dood vasgevang.”
2 Petrus 2:18,19 (DB)

Satan weet baie goed dat jong gelowiges nie sy giftige brood sal kan onderskei van die Brood van die Lewe nie en daarom deel hy baksels en baksels brood uit wat gevul is met suurdeeg. Dit is niks anders as dwaalleringe nie. Wanneer Satan sy kitsbrode bak, gooi hy die bestanddele woes en deurmekaar by mekaar. Daar is geen orde aan hoe hy dinge doen nie; hy meet nie die bestanddele op die korrekte manier af nie en hy bied dit net so ordeloos en deurmekaar aan die mensdom.
Een van die bekendste voorbeelde is mense wat preek dat Jesus gesterf het om ALMAL se sondes te vergewe; sodat almal op die daad vergewe, gered en verlos is; met ander woorde, almal is outomaties vergewe vir al hulle sondes omdat Jesus gesterf het. Dit gee aan baie mense ’n vals siening dat hulle maar kan lewe soos hulle wil, want Jesus het mos klaar vir hulle sondes gesterf; hulle is klaar gered. Al wat hulle moet doen, is om kerk toe te gaan en met die mond bely om te glo in Jesus. Daar word nie gewaarsku dat sonde ‘n muur van skeiding veroorsaak tussen die mens en God nie; die gevolge van sondes word nie uitgewys nie; die mens word nie geleer om die Woord intens te bestudeer sodat dit ’n lig op ons sondes kan skyn nie; daar word nie geleer hoe belangrik dit is dat ons ons sondes aan God moet bely nie. Die mens word nie die waarheid geleer oor bekering en wedergeboorte nie; dus glo die mens valslik dat as hy met die mond bely om in Jesus te glo en hy kerk toe gaan, hy wedergebore is.
Die Waarheid is dat as ons nie ’n totale driehonderd-en-sestig grade draai terugmaak na God toe nie, is ons nie gered en verlos nie. As ons nie wedergebore is nie, sal ons nooit die Koninkryk van God sien nie. Dit help nie jy leef soos jy wil deur die week met geen verhouding met Abba Vader, maar dink jy is gered omdat jy Sondag in die kerk sit nie. Ek gaan nie nou verder ingaan op hierdie onderwerp nie, maar doen jouself ’n guns en gaan soek in die Bybelboeke, Mattheus tot Johannes, of Jesus ooit gesê het dat Hy moet sterf sodat die mensdom se sondes op die daad vergewe moet word. Hy het nêrens so gesê nie… As jy die Woord van God fyn lees, sal jy sien dat God van ons verwag om ons sondes te laat staan en in ’n verhouding met Hom in te groei.
Nog ’n voorbeeld van ’n dwaallering is dat ons ons outoriteit in die Naam van Jesus moet opneem sodat ons Satan en sy werke kan teëstaan. Soveel mense glo dat hulle mag en outoriteit oor Satan het, maar dan het hulle nie eers behoorlik tot bekering of wedergeboorte gekom nie. Alleenlik Jesus het mag oor Satan! Vir die mens om outoriteit oor Satan en sy werke te hê, moet Jesus in en deur ons leef; dan is dit nogsteeds nie die mens wat mag en outoriteit oor Satan het nie; dit is Jesus in en deur jou wat mag het oor Satan. Satan leer hierdie vals lering aan die mensdom, want dit “vergemaklik” die lewe van die mens as hy vir Satan om elke hoek en draai kan hied en gebied. Hierdie mens fokus meer op sy mag en outoriteit oor Satan as wat hy fokus op sy vehouding met Abba Vader. Hulle sal dit nooit erken nie, want hulle word verblind deur Satan en hulle glo dat dit wat hulle doen, deur God aan hulle gegee is. Hulle gebruik Skrif soos Lukus 10:19 as bevestigende Skrif, maar hierdie Skrif is nie deur die Gees van God aan die mens geïnterpreteer nie, maar deur die brein van die mens. Die mens wat nie die Lig van God in sy hart het nie, het geen mag en gesag oor Satan nie en die mens wat wel die Lig van God in sy hart het, sal nie die arrogansie hê om God te speel met woorde nie. Ek sal in diepte indelf oor hierdie onderwerp in ’n volgende boek.
Dan is daar die lering oor die bloed van Jesus wat afgepleit moet word. Daar is sekere gevalle en getuienisse wat ek al gehoor het waar mense wonderbare beskerming gekry het deur die bloed van Jesus te pleit, maar in die meeste gevalle, het ek al gesien en gehoor hoe die bloed van Jesus misbruik word deur mense wat nog nie wedergebore is nie en wat geen verhouding met God het nie. Sonder om Hom te ken, word die bloed van Jesus oor hulleself, hulle kinders en selfs hulle besittings gepleit. Daar is nie een Skrif in die Woord waar Abba Vader dit vir ons leer nie; daar is weereens net Skrif wat buite verband geruk word om aan hierdie vals lering goedkeuring te gee. God gaan Homself en Sy Seun se bloed nie laat misbruik nie… Om te leef soos jy wil, sonder verhouding met Abba Vader, maar Jesus se bloed te pleit wanneer jy dit nodig het, is so verkeerdom; die bestanddele van hierdie brood is wraggies nie ordelik saamgevoeg nie. Hierdie leringe is ver verwyderd van die Waarheid; dit gee aan die mens vals beskerming en vals verlossing en dis presies wat Satan wil hê… solank die mens net dink hy is verlos.
Die jammerte van dit alles, is dat die gif van hierdie brode die mensdom so erg vergiftig dat dit hulle geestelike sintuie aantas, dit hou hulle blind en doof vir die Waarheid; hoe meer hulle daarop voed, hoe meer glo hulle die leuens van Satan en hulle sal selfs Skrif aanhaal om hulle leuens te verdedig, al word die Skrif verdraai om hulle stelling te pas. Die hartseer van die saak is dat die Gees van God beslis nie die betrokke Skrif vir hulle uiteengesit en verduidelik het nie. Hulle gees is ongelukkig klaar besoedel deur Satan en daarom sal hulle nie die Waarheid wil hoor nie.

“There were also lying prophets among the people then just as there will be lying religious teachers among you. They’ll smuggle in destructive divisions, pitting you against each other – biting the hand of the One who gave them a chance to have their lives back. They’ve put themselves on a fast downhill slide to destruction, but not before they recruit a crowd of mixed-up followers who can’t tell right from wrong”
2 Peter 2:1,2 (MSG)

Om hierdie saadjie op te som: Geestelike onderskeidingsvermoë word deur God aan ons gegee soos ons die smaak en die tekstuur van die Brood van die Lewe leer ken. Eers wanneer ons voed en groei op die ware Brood, sal ons onderskeid kan tref tussen die Brood van God en die suurdeegbrood. Moet asseblief nie die fout maak om te dink jy gaan na ’n Goddelike byeenkoms omdat dit klink asof dit oor God gaan nie. God se naam word gebruik om die mense te lok, maar al die werkers van ongeregtigheid skuil agter die Naam van God waar hulle baksels suurdeegbrood aan die mense bedien. Wanneer ons alleenlik voed op die Brood van die Lewe, sal ons die Waarheid leer ken, sal ons die tekstuur van die ware Brood leer ken en sal dit vir ons makliker wees om die suurdeegbrood uit te ken en dit te kan “expose” as leuens van die vyand. Satan probeer die mens se geestelike honger les met sy suurdeegbrood, maar al wat gebeur, is dat die gif die gees van die mens net nog dieper laat slaap, sodat die gees van die mens nie ontwaak nie. Suurdeegbrood kan geen mens voed nie, alleenlik vergiftig. Voed en laat jou voed deur Abba Vader!

Leave a comment