Glo jy die leuens van Satan of die Waarheid van God?

IMG_0731

“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.”        2 Korinthiërs 11:3  

Na wie luister ons?  Na Satan of na God?  Na die leuen of na die Waarheid?  Om hierdie saak mooi te verstaan,  moet ons net eers gaan kyk wat het in die tuin van Eden gebeur…  God het die tuin van Eden geskep vir Sy kinders wat in noue kontak met Hom is, wat met Hom wandel en wat gehoorsaam is aan Hom.  God het vir Adam en Eva gewaarsku om nie van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie, maar Satan het met mooipraatjies vir Eva versoek en oorreed om wel van die verbode boom te eet.  Omdat God die mens geskep het met ’n eie wil, moes Eva ’n keuse maak…  Wie gaan sy glo?  Gaan sy glo wat God vir hulle gesê het dat hulle gaan sterf as hulle van die boom se vrugte eet?  Of gaan sy vir Satan glo dat hulle nie sal sterf nie, maar dat hulle soos God sal word?  

Ongelukkig het sy die verkeerde keuse gemaak en gekies om Satan se leuen te glo.  Adam het in haar spore gevolg en die eerste sonde op aarde is gepleeg.  God het hulle kom soek in die tuin en Hy het dadelik geweet dat hulle teen Hom gekies het.  God sê vir Adam:   

“…Vervloek is die aarde om jou ontwil;  met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  Ook sal dit vir jou dorings en distels voorbring; en jy sal die plante van die veld eet.”     Genesis 3:17,18

Omdat God die tuin van Eden gemaak het alleenlik vir Sy gehoorsame kinders wat met Hom wandel en Hom gehoorsaam, kon Hy nie toelaat dat Adam en Eva verder in die tuin woon nie.  Die tuin was dus apart van die wêreld en die sonde van die mens het die wêreld vervloek, nie die tuin van Eden nie.  God het hulle toe uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die wêreld wat deur hulle eie toedoen vervloek is en Hy het die tuin van Eden gesluit en aan engele opdrag gegee om die tuin te bewaak.  Dit is nie God wat die aarde vervloek het nie, maar die aarde is vervloek deur die sonde van die mens en nou moes die mens ’n sukkelbestaan gaan maak in die omgewing wat deur sy eie sonde vervloek is.  Spreuke 22:8 sê:

“Wie onreg saai, sal onheil maai…”

As ons ongehoorsaamheid saai, gaan ons ’n vervloeking maai.  Net soos Adam en Eva se sonde die aarde vervloek het, vervloek die sonde van die mens nogsteeds sy eie omgewing.  Jeremia 2:19 sê ook:

“Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerigheid sal jou straf…” 

Vandag word hierdie prentjie verander met die argument dat Jesus gesterf het aan die kruis en dat Hy ALREEDS al die vloeke vir die mens gedra het, dat die mens dus nie meer in ’n vervloeking kan leef nie.  Dit gee aan die mens vryheid om te leef soos hy wil, om te maak soos hy wil, want Jesus het mos ALREEDS gesterf vir ons sondes, ons sondes is ALREEDS vergewe, ons is ALREEDS verlos en gered – ons moet dit net glo en aanvaar.  Dit is wat die naïewe mens WIL glo, want dit is maklike verlossing, maar wat hulle nie besef nie, is dat hierdie naïewe siening hulle lei op ’n pad wat lei na die afgrond van die hel en die mens wat die Woord van God waarlik bestudeer, sal dit ook raaksien.  Die mens word deur vals leringe geleer dat Jesus alle vloeke gekanselleer het, dat almal wat met die mond bely om ’n Christen te wees, vergewe en verlos is – dit is darem ’n baie maklike pad na die Koninkryk van God, maar ongelukkig is dit so in teenstelling met Jesus wat sê dat die pad na die Koninkryk van God baie smal en baie moeilik is.

“Die Pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal.  Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra.  Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed.  Baie mense loop daarop.   Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”     Mattheus 7:14 (Die Boodskap)

Het die pad na die Koninkryk van God verander na die kruisiging van Jesus?  Dis net die mens wat maklike verlossing soek, wat beweer dat die pad nou maklik is, maar al die tyd verwys hulle na die breë pad.  Kan ons nou maar aangaan met sonde en leef soos ons wil omdat Jesus gesterf het aan die kruis?  Glo jy regtig dat jy kan kies teen God, dus ongehoorsaam wees aan God, en dat dit jou nie ’n vervloeking sal kos nie?  Wel, dit is wat kerke en meeste leraars van vandag vir die wêreld leer… Jy kan nie ’n vervloeking leef nie, want Jesus het die vloek vir jou gedra, maar kom ons wees net bietjie realisties…  Kyk om jou rond – wat gaan aan in die wêreld?  Leef ons in ’n wêreld waar geen vervloeking teenwoordig is nie?  As die kruisdood van Jesus alle vervloeking uitgekanselleer het en die mens glad nie meer in ’n vervloeking kan leef nie, hoekom gaan dit nie goed met almal nie?  Dan sou die wêreld mos ’n wonderlike plek gewees het.  Hoekom al die chaos in die wêreld? 

Daar staan wel in Galasiërs 3:13 dat Jesus ons losgekoop het van die wet deur vir ons ’n vloek te word, maar dit beteken nie die hele wêreld is verlos van vervloeking nie.  Dit beteken nie die mens kan leef soos hy wil en maar net glo dat Jesus gesterf het vir sy sonde en daarom kan hy nie in ’n vervloeking leef nie (dit is wat die grootste gedeelte van die mensdom doen).  As jy die Woord baie mooi bestudeer, sal jy sien dat die mens eers Een met God moet wees voordat dit vir ons ’n realiteit kan raak dat Jesus ons losgekoop het van die vloek.  Ons moet eers Een met Jesus word voordat Sy kruisdood en vergifnis van sonde op ons van toepassing is.  Lees gerus 2 Korinthiërs 5:11-21, daar sal jy sien die mens moet ’n nuwe skepsel wees, die mens moet versoen wees met Abba Vader, ons word vrygespreek deur ons eenheid met Jesus Christus.  Die mens vat die kruisdood van Jesus as vanselfsprekend en reken hy is verlos en gered van die vloek omdat Jesus gesterf het aan die kruis.  Hy glo hy is gered en onder die genade van God omdat hy bely om te glo in Jesus, omdat hy kerk toe gaan, ensovoorts, sonder enige eenheid met Abba Vader.  Die mens gaan so ver as om te sê Jesus het ALREEDS vir al sy sondes gesterf, dus kan hy nie in ’n vervloeking leef of kan daar nie ’n vloek oor sy kop hang nie (al het hy geen verhouding met Abba Vader nie).  As dit so maklik was, hoekom het Jesus dan gesê dat die mens wedergebore moet word om die koninkryk van God te sien?  Hoekom het Jesus gesê dat die mens wat Hom wil volg, sy kruis moet opneem?  (Matt. 16)  Hoekom het Jesus gesê dat elkeen vergeld sal word volgens sy dade?  (Matt. 16:27) Hoekom het Jesus gesê dat die boom wat slegte vrugte dra, uitgekap en in die vuur gegooi sal word?  

As jy glo dat Jesus se kruisdood alle vervloeking gekanselleer het en dat jy nie onder die juk van ’n vloek kan leef nie, glo jy ongelukkig, net soos Eva, die leuen van Satan!  As jy glo dat dit genoeg is om met die mond te bely om in Jesus te glo, om nou en dan kerk toe te gaan om te bewys jy is ’n Christen, maar jou Bybel lê êrens vol stof en jou knieë is nie lam en vol stof soos jy kniel voor die voete van Abba Vader nie, met ander woorde, jy het geen verhouding met Abba Vader nie, dan word jy net soos Eva om die bos gelei met een van die leuens van Satan.  Hulle het die leuen van Satan geglo dat hulle nie sal sterf as hulle van die verbode boom eet nie, maar dat hulle soos God sal word… Net so glo die grootste gedeelte van die mensdom vandag dat hulle nie die ewige dood sal sterf nie, want Jesus het mos gesterf vir hulle sonde.  Hulle bely mos om in Jesus te glo, daarom het hulle die Heilige Gees en is hulle verlos…al is hulle Bybels vol stof en knieë sonder stof!  Hulle glo die leuen van Satan!   

Dit is Satan wat deur al die jare hierdie leuens aan die mensdom verkondig dat Jesus se kruisdood klaar die dood, sonde en vervloeking gekanselleer het en dat jy die ewige lewe verkry deur genade.  Die mens glo hierdie leuen van Satan en dit sus hulle in hulle godsdiens.  Hulle glo as hulle kerk toe gaan, (dalk) gedoop is en met die mond bely om in Jesus te glo, dan het Sy kruisdood ALREEDS al hulle sondes vergewe en is hulle totaal en al verlos.  As jy die Woord van God ordentlik bestudeer, sal jy die teendeel sien.  As jy die eerste 4 boeke van die Nuwe Testament lees waar Jesus se woorde aangehaal word, sal jy nie een keer vind dat Jesus direk gesê het dat Hy moet sterf om die wêreld se sondes te vergewe nie, Hy het nie een keer gesê dat Hy moet sterf om die vervloeking van die wêreld uit te kanselleer of dat die mens nie meer ’n vervloeking sal kan leef nie.  Doen jouself ’n guns en gaan som Jesus se woorde op, dan sal jy sien hoeveel keer het Jesus eerder die mense vermaan om hulle sonde te laat staan en tot bekering te kom.  Wanneer Jesus gepraat het oor die dood wat Hy moet sterf, het Hy soveel keer gesê dat Hy moet sterf sodat die Gees van Waarheid, die Trooster, vrygestel moet word om ’n hulp vir die mens te wees, nie dat die sonde van die mens sommer net in die niet kan verdwyn nie en ook nie dat die gebooie van God of die profete ontbind moet word nie.  As jy jou ore begin toedruk vir die praatjies van die wêreld en die antwoorde by die voete van God en in Sy Woord begin soek, sal jy sien hoeveel leuens Satan aan die mensdom uitdeel.  Sy leuens gee aan die mens vals hoop en help hulle om rustig aan te gaan met hulle godsdiens in die duistere wêreld…want hulle is mos alreeds vergewe en verlos.  As hulle sondig, is dit nie so ’n groot kwessie nie, want hulle glo die leuen dat Jesus ALREEDS vir hulle sonde gesterf het, dat die sonde wat hulle gister gepleeg het, die sonde wat hulle vandag pleeg en al die sonde wat hulle in die toekoms gaan pleeg, ALREEDS vergewe is.  Die mens wat hierdie leuens glo, glo vir Satan en ken nie die Woord van God nie.  Hulle glo dit wat ’n dominee aan hulle vertel (ek wonder soms waar kry leraars hulle inligting vandaan).  

Die mens wat vir Satan glo, is ongelukkig nogsteeds geestelik dood, want jy sien… ons word geestelik dood gebore, daarom het Jesus gesê dat die mens weer gebore moet word.  Hier is nog ’n leuen wat deur Satan opgedis is… Die mens wat gebore word, is uit God gebore en reflekteer die beeld van God!  Lees asseblief die saadjie oor die beeld wat ons moet reflekteer.  Die waarheid is dat die mens liggaam en siel gebore word, die Message sê dit so mooi in Johannes 3:  

“Unless a person submits to this original creation – the ‘wind -hovering-over-the-water’ creation, the invisible moving the visible, a baptism into a new life – it’s not possible to enter God’s kingdom.  When you look at a baby, it’s just that;  a body you can look at and touch.  But the person who takes shape within is formed by something you can’t se and touch – the Spirit – and becomes a living spirit.”

Die mens wat gebore word uit mens, reflekteer nie die beeld van God nie, die mens is uit die bloed en die wil van die vlees, of uit die wil van die man gebore, nie uit God nie.  Dit is net liggaam en vlees!  Dit is die vleeslike, natuurlike mens en hierdie natuurlike mens moet sy vleeslikheid afsterf om weer gebore te kan word deur die Gees.  Alleenlik wanneer die mens sy vleeslikheid afsterf en weer deur God gebore word, is die mens ’n nuwe mens en leef God in en deur hierdie mens.  Eers wanneer die mens sy vleeslikheid saam met Jesus aan die kruis afgesterf het, is hy vergewe van sy ou lewe en stap hy saam met Jesus sy nuwe lewe tegemoet.  Alleenlik wanneer die ou mens afgesterf is en die Lewe van God is teenwoordig binne die nuwe mens, is die mens verlos en vergewe.  Dan eers tel die woorde vir die mens:

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word…”   Galasiërs 3:13

Eers as ons waarlik weergebore is, die Lewe van God is teenwoordig in ons geesharte en ons die beeld van God reflekteer, is ons verlos van die vloek.

As jy die leuens van Satan glo, hap jy, net soos Adam en Eva, aan die bose, giftige vrugte wat jou lewe, omstandighede en omgewing gaan vervloek.  Vir my, op hierdie stadium, is die ergste leuen wat die grootste gedeelte mensdom glo, is dat jy ALREEDS verlos is… bely net om glo en jy is verlos.  Sonder om die pad van bekering te stap, sonder heiligmaking, sonder ware wedergeboorte…maar die mens glo die leuen dat hy verlos is.  Die Waarheid van God is dat jy gaan sterf in jou sonde!  Sonde verwyder die mens van God, sonde veroorsaak ’n vervloeking wat oor jou kop hang.  Nêrens in die Woord staan dat die sterfte van Jesus alle vervloeking van die mens gaan wegvat nie.  Die mens wat ongehoorsaam is aan God, gaan die vrugte daarvan pluk.  Jakobus 1:14,15 sê:

“Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde;  en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

As Jesus gesterf het om alle vervloeking te kanselleer en dat die mens se sondes totaal vergewe is, hoekom anders leer die Woord ons dat ons sonde moet teëstaan?  As al ons sondes ALREEDS vergewe is, hoef ons mos nie die moeite te doen om die sonde teë te staan nie?  Hoekom anders sê Jakobus 4:7,8:

“Onderwerp julle aan God;  WEERSTAAN die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.  Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.  Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges.  Weeklaag, treur en ween.  Laat jule gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid.  Verneder julle voor die Here en Hy sal julle verhoog.”

Satan sal nooit ophou om mense in die versoeking te lei om sonde te doen nie.  Hy sal nooit ophou om leuens aan die wêreld te verkondig nie.  Ons opdrag is om sy leuens en versoekings te kan raaksien en dit teë te staan, om te heers oor die sonde.  Om sonde te kan uitken, het ons die gebooie van God nodig, want hoe anders gaan ons weet wat is sonde?  Nou hoe wil die sogenaamde Nuwe Testamentiese Christene die gebooie van God by die agterdeur uitgooi?  Hulle verwerp die Waarheid van God, glo die leuen van Satan en dit skep ’n verdere vervloeking oor hulle eie lewe, dit ketting hulle stewiger vas in die duisternis en dit lei na die dood.  Ongelukkig is hulle alreeds so verblind deur Satan dat hulle dit nie agterkom nie.  2 Korinthiërs 4 sê dat die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind.  Moet asseblief nie die fout maak om te dink die ongelowiges is hulle wat nie aan God glo nie… Nee, die ongelowiges sluit diegene in wat met die mond bely om in God te glo, hulle bely om Christene te wees omdat hulle so grootgemaak is, omdat dit die regte ding is om te sê.  Hulle is besig met godsdiens en alhoewel hulle beweer om God te aanbid, is hulle eintlik besig met Baälisme…  Die god van hierdie wêreld het hulle verstand verduister en hulle geestelik verblind en daarom glo hulle so maklik die leuen van Satan.

Jesaja 24:4-6:  “Die aarde treur, dit verwelk;  die wêreld versmag, dit verwelk;  en die hoogstes van die mense van die aarde versmag.  Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners;  want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.  Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet…”

Glo jy die leuens van Satan of soek jy die aangesig van Abba Vader sodat Hy aan jou die Waarheid kan leer?  As jy die leuens van Satan glo, gaan dit aan jou die dood en vervloeking besorg…

One thought on “Glo jy die leuens van Satan of die Waarheid van God?”

Leave a comment