Die valsheid agter oorlogvoering

IMG_1166

Ek glo julle almal ken die lering oor geestelike oorlogvoering, want ek glo ons almal raak een of ander tyd verstrengel in hierdie bose, vals lering. Ons almal was, of is, op ‘n stadium van ons lewe jong gelowiges, en ons weet jong gelowiges is Satan se prooi. Hy weet hoe honger hulle gees is en dat hulle hulle gees baie maklik met allerhande “Goddelike” dinge probeer voed. (2 Petrus 2:18,19) Satan weet wie God se kinders is en hy sal hulle met “Goddelike” dwaalleringe om elke hoek en draai inwag. Jong gelowiges het nie geestelike onderskeidingsvermoë soos wat hulle valslik glo of valslik vertel word nie, en eet dus baie maklik Satan se leuens op vir soetkoek. Pleks dat hulle alleenlik voed en volwasse word op die melk van die Woord, vergryp hulle hulle baie maklik aan allerhande geestelike boeke, praatjies, DVD’s en samekomste. (Hebreërs 5:12-14) Die prent, War Room, word sterk aanbeveel en dit was ’n topverkoper… en Satan glimlag baie breed hieroor, want op hierdie manier word ’n dwaallering, wat deur hom uitgedink is, deur nog meer mense aangehang. Nie alles wat Goddelik klink, gaan oor God nie. Die prent, War Room, klink Goddelike fantasties met die kas waarin gebid word, asook al die Skrifte uit die Bybel wat aangehaal word, maar daar is ’n baie groot valse lering wat uitgebeeld word. Kom ons begin met die Skrif wat altyd gebruik word as bevestiging vir oorlogvoering:

“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Efesiers 6:11,12

In die eerste plek is daar ’n wanpersepsie, of ’n dwaallering, wat handel oor die wapenrusting wat ons moet aanhê voordat ons slagveld toe kan gaan om Satan te veg. Wat is die wapenrusting? Dit is nie iets wat jy oor jouself kan spreek en woema…nou het jy God se wapenrusting aan nie. Geen woord wat jy spreek, kan aan jou die wapenrusting verleen nie. Om die bloed van Jesus oor jou te pleit, is ook nie Bybels nie, dis alles misbruik van die Naam en die bloed van Jesus. Die wapenrusting is niks ander as Jesus BINNE jou nie:

“Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
Romeine 13:14

Die wapenrusting is ook dieselfde as die kleed van geregtigheid wat ons moet aanhê om Bruilofsfees toe te kan gaan. Om meer daaroor te lees, dit is onder Bruilofskleed

Die wapenrusting is nie een of ander staalstruktuur wat ons kan beskerm teen Satan nie. Ek dink nou sommer toe Dawid vir Goliat gaan veg het. Saul het sy wapenrusting vir Dawid aangetrek, maar Dawid was so ongemaklik met dit dat hy dit uitgetrek het. Hy het geweet hy word Goddelik beskerm omdat Hy die Lewe van God binne hom gehad het. Net so ontvang ons ook Goddelike beskerming wanneer ons, as boom, baie stewig in die hart van God gewortel is deur die Woord van God. Die Lewe van God bruis dan deur ons are en die Lig van God skyn uit ons harte! Dit is die wapenrusting! Die Lig van God wat skyn uit jou hart! Jy moet beklee wees, nie met allerhande woorde nie, maar met Jesus Christus, met die Lig van God. Dit is die enigste manier hoe jy Goddelik beskerm word en dit alles begin deur waarlik te glo in Jesus Christus, wat weer begin deur alleenlik te voed op die Woord van God en ’n penwortel van geloof in die hart van God in te groei (Penwortel van geloof)

In Efesiërs 6 staan dat ons in ’n worstelstryd gewikkel is, maar die dwaallering noem dit ’n oorlog… dink ’n bietjie self wat is die verskil tussen ’n worstelstryd en ’n oorlog? Nêrens in die Woord van God stuur God ons na ‘n oorlogsveld toe nie. Abba Vader se woorde aan my oor hierdie saak, was:

“Don’t tread where serpents accumulate!”

God stuur ons nie na ’n oorlogsveld, waar giftige slange uitbroei, nie! Die dwaallering praat baie van die “battlefield”, maar waar kom die mense daaraan as dit nie vir ons so uitgestip is in die Bybel nie? En as dit nie in die Bybel staan nie, het iemand dit uitgedink om die res van die mense te verlei…nêrens in die Woord stuur God ons om oorlog te gaan verklaar teen Satan nie, al wat God vir ons daaroor sê, is om Satan te weerstaan.

In Genesis is dit al vir ons uitgestip dat ons Satan moet weerstaan:

“…die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.”
Genesis 4:7

Daar staan nie jy moet hom veg nie, daar staan jy moet heers oor die begeertes wat Satan in jou hand lê, oor die versoekings. Jakobus 4:7 is seker die Skrif wat dit die beste sê:

“Onderwerp julle aan God, weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

Eerstens staan hier ons moet ons onderwerp aan God. Om jou te onderwerp aan God, is om te “submit” onder die gesag van God, dit is om die wil van God vir jou lewe te aanvaar. Bou ’n verhouding met God, lees die Woord van God sodat jy kan weet wanneer dit die duiwel is wat jou versoek en as jy wel versoek word, staan hom teë. As jy jou onderwerp aan God, dan het jy jou eie wil eenkant toe geskuif en vir God die stuur van sake oor jou lewe gegee.

Mense wat glo in die oorlogvoer dwaling, beveg Satan om elke hoek en draai en die meeste van die tyd beveg hulle hom om iets in hulle eie lewe te bekom. In “War Room” sentreer alles om die mens, daar is nie ware liefde vir God nie, want die mens wat liefde vir God het, gaan met alles in hom vir God verheerlik. Hoe verheerlik die mens God as hy Satan die heeltyd beveg om weg te bly uit sy finansies, uit sy huwelik of gesinslewe? Dan gaan dit mos oor die mens en lankal nie meer oor God nie. Hierdie mense het liefde vir hulleself, nie vir God nie. Waar sê God vir ons om Satan te beveg vir ons eie welvaart? Waar sê God dat dit altyd goed sal gaan in ons lewens? Waar sê God ons moet Sy swaard gebruik om omstandighede vir onsself gunstiger te maak? As ons wil oorgegee is aan God en ons onderwerp ons aan God, sal ons die dinge wat God in ons lewe toelaat, aanvaar, omdat ons weet God het dit in ons lewensboek opgeskryf nog voor ons geboorte op aarde. Ons sal aanvaar dat God ’n baie goeie doel daarmee het.

Dit is skoon lagwekkend waaroor mense vir Satan aanvat – die mens wat sukkel met woede, selfbeheersing of wat ookal, gee die blaam vir Satan, jaag hom weg, maar God sê ons moet die sonde teëstaan en nie toegee aan versoekings nie. As daar goed soos woede, geïrriteerdhed en sulke slegte goed die oorhand oor jou kry, is dit gewoonlik as gevolg van ’n bitter wortel wat jy self kweek, en ’n bitter wortel ontstaan gewoonlik uit onvergewensgesindheid, bitterheid en wraak. Om te vergewe, is ’n keuse wat ons maak, ’n keuse om op te hou om hardkoppig te wees. God sê in Sy Woord ons moet ons vyande seën en nie vervloek nie. As ons kies om hulle eerder te vervloek, groei ‘n bitter wortel wat baie slegte vrugte gaan dra, soos byvoorbeeld woede en humeurigheid. Nou wat gaan dit nou help om Satan die skuld te gee en hom uit jou lewe weg te jaag omdat jy ’n geïrriteerde gemoedstoestand het? As jou gemoedstoestand ontstaan uit onvergewensgesindheid, is dit mos jy wat prontuit die keuse gemaak het om God nie te gehoorsaam nie… Om Satan te verjaag of ’n demoon van woede uit te jaag, maar nogsteeds nie mense te vergewe nie, gaan jou absoluut niks in die sak bring nie, want God sê die mens moet heers oor sonde. Die keuse begin by die mens om gehoorsaam te wees aan wat God vir ons in die Woord sê! Dit alles begin deur jou te onderwerp aan God en wanneer jy gewortel is in die Woord, kan jy Satan teëstaan.

In die prent, War Room, is alles so kits… die vrou het so te sê oornag outoriteit oor Satan verkry om hom uit hulle huis uit weg te jaag – hierdie is nog ’n leuen wat verkondig word. Alleenlik Jesus het outoriteit oor Satan en wanneer Jesus na wedergeboorte in jou geeshart leef, dan het Jesus deur jou, outoriteit oor Satan, maar sonder wedergeboorte en sonder Jesus in jou hart, het jy nie outoriteit oor Satan nie. Wedergeboorte is ook nie so maklik en kits soos die wêreld dit aan die mense voorhou nie, inteendeel, dit is ’n proses, dit is ’n pad wat ’n mens saam met Jesus moet stap en eers wanneer ons waarlik ons aardse, wêreldse mens afgesterf het, word ons weer gebore in die Lig van God. Wedergeboorte gebeur nie oornag nie en om outoriteit oor Satan te verkry, gebeur ook nie oornag nie. As Jesus binne jou is, het jy nie nodig om Satan uit jou huis weg te jaag nie, want hy gaan in elkgeval nie daar wil wees nie omdat die Lig van God, wat uit jou hart skyn, hom verjaag. Mense wat met groot woorde Satan wil wegjaag uit hulle huise of waar ookal, verklaar eintlik daarmee dat hulle nog nie wedergebore is nie, dat die Lig van God nog nie uit hulle harte skyn nie.

Die enigste ding wat Satan laat terugdeins, is die teenwoordigheid, of die Lig van God, nie woorde wat enigiemand uit die Woord aanhaal nie. Hierdie persoon maak eintlik net ’n spektakel van homself. Skrif wat net deur ’n mond gespreek word, het geen krag nie, alleenlik Woord wat uit ’n hart van Vuur kom. ’n Mens met die teenwoordigheid van Jesus in sy geeshart, hoef nie eers baie woorde of ’n vreeslike bekgeveg op te sit met Satan nie. Al wat belangrik is, waarop ons moet fokus, is om ’n baie hegte verhouding met Abba Vader te hê, so heg dat Hy ook Sy Woord aan jou verduidelik. Met so ’n verhouding met Abba Vader, is die Woord, Jesus, lewend binne jou en is dit die teenwoordigheid van Jesus in jou, wat Satan op ’n afstand hou. Kyk toe Satan vir Jesus in die woestyn versoek het – Jesus het nie ’n vreeslike geveg met hom opgesit nie. Met elke versoeking, het Jesus net teruggegaan na die Woorde van Sy Vader. Wanneer ons versoek word, kan ons ook net teruggaan na die Woord en die versoeking van Satan teëstaan deur aan te haal wat in die Woord staan. Dis nie nodig om dit met ’n vreeslike geveg te doen nie.

Mense wat hierdie dwaling van Satan glo, verflou in hulle verhouding met Abba Vader. Hulle fokus meer op die wyse van oorlogvoering teen Satan, as op hulle verhouding met Abba Vader. Satan sal enigiets doen om jou weg te hou van die Woord van God af, om jou te verhinder om in gebed by die voete van Abba Vader te sit, want hoe minder tyd jy in die Woord en in gebed spandeer, hoe minder is die kans dat God se Lig uit jou hart gaan skyn.

Hoe minder tyd by die voete van Abba Vader, hoe flouer die Lig binne jou, en hoe flouer die Lig binne jou, hoe minder (tot geen) outoriteit het jy oor Satan. Satan wil jou rustig hê oor jou verhouding met Abba Vader, want diegene wat rustig is daaroor, se liggies is aan die uitdoof en dan het Satan outoriteit oor jou.

Mag elkeen van ons ons harte voor die voete van Abba Vader ondersoek…
Laat God toe om Sy verblindende Lig op jou hart te skyn sodat jy kan besef watter dwaalleringe jy glo en dat jy kan wakker word uit die dwaling, dat jy die dwalinge sal besef, dit neerlê voor die voete van Abba Vader en Hom alleenlik volg.

Leave a comment