Wat is gebed en verhouding met God?

 

gebed

“Call to me and I will answer you.  I’ll tell you marvelous and wondrous things that you could never figure out on your own.”   Jeremiah 33:3  (The Message)

As jy ’n goeie verhouding met iemand het, gaan daar aanvanklik baie kommunikasie wees tussen julle.  Later van tyd, wanneer julle mekaar regtig goed ken, gaan daar ook stil tye wees tussen julle, maar dit sal ’n gemaklike stilte wees omdat julle mekaar so goed ken.  Om iemand goed te ken, moet daar aanvanklik baie kommunikasie wees, want hoe gaan jy agterkom hoe die ander een se hart werk as jy hom nie goed ken nie?  Wat maak die situasie anders met God?  

Die wêreld is baie krities oor mense wat die stem van God ervaar omdat dit nie realisties en logies verklaarbaar is nie, maar wat hulle nie verstaan nie, is dat ’n mens nie die stem van God kan hoor met jou vleeslike ore nie, alleenlik met die ore van jou hart.  Wêreldmense wil alles vleeslik met ’n logiese en realistiese brein ontleed en verklaar, maar geestelike gebeure kan nie met die brein verklaar of uitredeneer word nie.  Hulle weier om dit te glo, lag die ware volgelinge van Jesus af en plaas ’n bose stempel op diegene wat wel die pad met Jesus wandel.  Dis baie interessant dat die Fariseërs in Jesus se tyd ’n bose stempel op die werke van Jesus ook geplaas het…   

Wat is gebed?  Gebed is niks anders as ’n gesprek met Abba Vader nie, maar ’n gesprek is nie ’n gesprek as daar net een is wat versoeke rig en praat terwyl die ander een in stilswye verkeer nie.  Dan is daar êrens ’n kinkel in die kabel, ’n fout in die kommunikasielyne;  dalk is die gehoorbuis teen die mens se verkeerde oor vasgedruk en daarom hoor die mens nie die wonderbaarlike stem van Abba Vader wat terug fluister nie… Dalk het ons net nodig om met die regte tipe ore te begin luister, maar die belangrikste is dat ons ons hartsmotief in orde moet kry sodat ons woorde aan Abba Vader uit ’n opregte hart sal kom.

Kom ons dink net eers vir ’n oomblik op ‘n logiese en menslike vlak hieraan…  Hoe gaan jy voel as jy graag ’n goeie verhouding met jou maat wil hê, maar die kommunikasie ontbreek geheel en al?  ’n Verhouding kan nie gebou wees op leë woorde en ongemaklike stiltes nie.  Hoe gaan jy voel as jou maat ’n boek in die hande kry waaruit hy leer hoe om met jou te kommunikeer?  Hy/sy neem dele uit die boek en lees dit vir jou hardop en dit is sy deel van kommunkasie met jou…  Jy gaan baie goed weet dat die woorde wat hy vir jou uit daardie boek gelees het, nie uit sy hart uit kom nie, maar dat dit leë woorde is wat hy met die mond gespreek het net om jou tevrede te stel dat hy wel met jou gepraat het.  Al bely hy sy liefde vir jou met die mooiste woorde wat daar is, maar dit kom nie uit sy hart uit nie (maar vanaf ’n stuk papier) gaan dit jou nie beïndruk nie.  Dit gaan jou eerder seermaak, want jy gaan weet dit is vals;  jy gaan mos weet dit is nie uit sy hart uit nie.  Jy gaan weet hy lees daardie woorde vir jou om dalk iets te kry, om jou te manipuleer, of wat ookal…

Is dit nie wat die mens met God doen nie?  Probeer die mens dalk God manipuleer met mooi woorde om iets te kan kry?  Dit is verseker nie waaroor ’n verhouding met Abba Vader gaan nie.  Alles draai om verhouding met Abba Vader en ’n verhouding gaan oor kommunikasie!  Kommunikasie met Abba Vader moet uit jou hart uit kom, nie uit ’n boek of uit jou menslike brein nie.  Wanneer dit uit die brein kom, kom dit uit die liggaam en siel en dit is nie wat God wil hê nie, want God sê ons moet Hom aanbid in Waarheid en in Gees.  Om ’n ander se woorde te vat, dit joune te maak en dit te gebruik om met God te kommunikeer, is vals woorde wat nie uit jou eie hart kan kom nie.  Om ’n rympiegebed agter die leraar aan te bid, kom ook nie uit die hart nie, want dit is nie spontaan of oorspronklik nie.  Daar moet spontane, oorspronklike woorde uit ons hart kom wanneer ons met God praat;  dit moet woorde uit ons eie hart wees en dan sal God dit aanneem, want dan aanbid ons God soos Hy wil hê:  in Waarheid en in Gees.      

Toe ek op laerskool was, was daar ’n onderwyser wat met ons gepraat het oor gebed en hy het ons geleer om te bid volgens ons vingers.  Begin by jou duim:  Wie is die naaste mense aan jou?  Jou familie.  Goed, bid eerstens vir jou familie en sê ook vir God dankie vir hulle.  Tweede vinger is iets – ek kan nie eers meer onthou wat dit was nie, maar so het hy aangegaan met elke vinger – sommiges was vir kos vir die dag, ’n ander vir die regering totdat hy by die pinkie gekom het wat oor jouself kon handel.  Dan mag jy eers iets oor jouself vra of versoek of wat ookal… Vir soveel jare het ek op daardie manier gebid, met ander woorde, ek het uit my kop uit gebid, want ek het in my agterkop my vingers onthou en so by so het ek elke dag dieselfde gebed gebid.  Wanneer ons op hierdie manier bid, praat ons met God vanuit die brein en aanbid ons Vader nie in die Gees nie, maar met leë woorde uit die liggaam.  Hoe “boring” moet dit nie vir Abba Vader wees om elke dag na dieselfde ou rympie of versoeke te luister nie!  Met alle respek gesê – ek wonder of God ooit nog na ’n mens luister as Hy weet ons gaan elke dag dieselfde versoeke aan Hom rig.  Maar kan jy nou dink as jy elke dag op verskillende tye voor Hom neerkniel uit diepe eerbied en respek en jou hart voor Hom uitpak – alles wat in jou gedagtes is, alles wat jou pla, alles wat jou bekommer en die beste van alles – as jy Hom uit ’n opregte hart vertel hoe lief jy Hom het en dat jy weet jy is niks sonder Hom nie;  dat jy weet jy kan nie sonder Hom leef nie en dat jy in elkgeval weier om sonder Hom te leef.  Ons moet fokus daarop om nie elke dag alleenlik versoeke aan God te rig nie.  Elke dag se gebed moet ’n verrassing vir God wees – ek kan net dink hoe opgewonde Hy sal luister as Hy weet dis nie elke dag dieselfde ou “boring” gebed en versoeke nie, maar iets nuuts wat op ’n mens se hart is.  Ek weet God sal luister en intree wanneer ons ons harte waarlik oopmaak teenoor Hom sonder om skynheilig te wees en sonder om ’n gebed van ’n blaadjie af te lees.  Op hierdie manier begin ons verhouding met God bou en op ’n dag wanneer jy dit die minste verwag, sal jy ‘n stem met jou hoor terugpraat.  Dis die lekkerste lekker wat bestaan!  Ons kan nie die stem van God met fisiese ore hoor nie, want ons fisiese sintuie het niks daarmee te doen nie;  dit gaan oor ons geestelike sintuie…  Is jou geestelike oë en ore oop?  Is jou geeshart al wakker uit dormansie?  

As jy die vorige saadjies gelees het, sal jy teen die tyd weet dat ons gewortel moet wees in die hart van God en op ’n dag sal God se Lig op ons harte skyn om dit wakker te maak uit die diepe slaap.  Wanneer ons geesharte ontwaak, ontwaak ons geestelike oë en ore ook en met tyd sal jy God geestelik begin beleef.  Alles draai maar net weereens om die tyd wat ons in die teenwoordigheid van Abba Vader spandeer;  om jou hele hart en lewe in Sy hande oor te gee dat Hy jou begin verander.  Ons moet ophou fokus op die self en ons eie behoeftes;  ons moet begin fokus op God en wat Hy deur ons wil doen.  Ons moet daarna streef om dieselfde verhouding met God te hê as wat Moses, Elia, Abraham, Dawid en so baie ander met Hom gehad het.  Hulle was mense wat gewandel het met God, wat nie ’n Bybel gehad het wat hulle gelei het nie.  Hulle moes wag op die stem van God om leiding te kry en God het hulle nie teleurgestel nie.  Keer op keer het Hy met hulle gepraat.  God verander nie;  dis net die mens wat verander.  Die God van Abraham, is ook ons God!  Net soos God met Abraham en al die ander gepraat het, wil Hy met my en jou ook praat.  Dit is vir my so mooi waar die Woord sê dat God met Moses gespreek het soos ’n man met sy vriend.  Dit is nie beperk tot Moses nie, want ons kan ook so ‘n verhouding met Abba Vader hê, Hy wil met al Sy kinders op so ’n manier spreek, maar daarvoor het ons nodig dat ons ore ingestel moet wees op die stem van God.  Eers gaan dit wees soos ’n draadloos waar ons sukkel om die stasie op te vang – daar gaan dalk ’n groot geraas wees of ’n algehele stilte, maar later sal die mooiste, wonderbaarlikste stem saggies deur die stilte breek in ’n fluistering… Jou voorkop sal vertrek in ‘n plooi, want jy weet jy het iets gehoor, maar kan dit regtig wees?  Of jou oë sal skielik oopskiet en jy gaan dink:  Wat was dit?  En so begin dit…hoe meer jy jou hart uitpak en Abba Vader aanroep uit ’n opregte hart en met die regte motiewe, hoe meer sal jy lewende, ware gesprekke met Abba Vader hê – en jy sal Hom hoor terugpraat.

“Call to me and I will answer you.  I’ll tell you marvelous and wondrous things that you could never figure out on your own.”  Jeremiah 33:3  (The Message)

Elkeen van ons moet selfondersoek doen oor die motief van ons gebede.  Probeer jou gebede neerpen en gaan kyk met ’n eerlike hart wat die motief van jou gebede is.  Gaan jou gebede oor jouself en om jou fisiese lewe te verbeter?  Om JOU beter te laat voel?  Sommer pleinweg gestel… Oor wie gaan jou gebede?  Gaan dit oor jou en jou omstandighede of gaan dit oor God?  Gaan kniel jy voor God met ’n hart vol liefde vir Hom en is jou rede tot gebed om vir God te vertel hoe lief jy Hom het?  Om net in Sy rusvolle teenwoordigheid te wees?  Of begin jy jou gebed met lofprysing omdat jy dink lofprysing gaan die pad vir jou oopmaak sodat God na jou sal luister en in jou versoeke voldoen?  Hoeveel van daardie lofprysing en eerbetoning aan God is dan regtig opreg uit die hart?  Probeer ons nie dalk vir God manipuleer deur Hom te prys om iets daaruit te kry nie?  Dis harde woorde wat ek hier skryf, ek weet, want dis goed waarmee God my direk ook al mee gekonfronteer het en as ons ernstig is oor ons verhouding met God, sal ons hierdie goed wil uitsorteer in ons lewens.  As ons nie ’n hegte verhouding met God het nie, waar val ons op die grafiek van koud tot warm?  Ons almal weet wat God gaan doen met diegene wat lou is en dit is die rede hoekom ek hierdie moet skryf, want daar is te veel lou mense daar buite wat rympiegebede opsê, mense wat geen verhouding met God het nie, maar nogsteeds aanneem of dink hulle is gered.  Daar is mense wat hulleself sien as “prayer warriors”, wat glo hulle is besig om die wêreld te verander met hulle gebede en wat dink hulle is gered omdat hulle volgens ’n sekere boek bid.  Soveel leuens word versprei in die wêreld en die ergste is dat die mense dit opeet vir soetkoek.  Daar is net een rede hoekom die mense hierdie leuens so maklik glo – dit is ’n maklike manier om verlossing te bekom;  dit is verlossing sonder om jou kruis op te tel en te sterf aan die self, dit is hoekom.  Maar dit is nie verlossing nie – dis om met die een voet in die hel en die een voet in die hemel te probeer staan;  dis om met die een voet in die wêreld met al sy leuens en met die ander voet in die Lig van God te probeer staan.  Dit kan nie so werk nie.  God is ’n jaloerse God wat dit nie gaan duld nie.  Hy soek ons onverdeelde aandag;  Hy soek ons volle gehoorsaamheid – nie net hier en daar nie, maar ten volle!  Hy sê in Sy Woord ons moet heilig leef, want Hy is heilig.  Hy soek ’n noue, lewende verhouding met elkeen van ons.  

’n Vreemde vuur wat al lank reeds posgevat het oor die wêreld, maar wat nou weer in ’n nuwe vlam teruggekeer het, is een oor gebed.  Ek sê nie vir een oomblik gebed is nie kragtig nie, ek weet God luister as ons met Hom praat, maar nou moet ons net mooi hierdie saak met die self uitmaak…  Die mense wat die nuutste neiging glo om dinge in die geestelike realm te laat gebeur deur dit wat hy spreek of bid… wie dink hierdie mens is hy?  God?  Hulle bid gebede wat hulle leer vanaf iemand wat dit kwansuis van die Here gehoor het, maar waar is die bewys in die Woord van God, met ander woorde, waar leer God dit vir jou en my in Sy Woord?  Dit voel vir my die mens probeer God manipuleer;  die mens wil dinge in die geestelike realm laat gebeur met woorde wat hy spreek, want hy spreek dit mos in die Naam van Jesus.  Die mens wil sy eie, asook ander, se omstandighede op hierdie manier probeer verander;  hy wil mense se harte probeer verander deur lewe te spreek, maar waar leer God dit vir ons?  Die ding is net:  God het elkeen van ons se lewens bepaal nog voor ons geboorte;  Hy het alles bepaal wat in ons lewens gaan gebeur en dit opgeskryf in elkeen se lewensboek.  God het toe al bepaal watter beproewings Hy op ons pad gaan plaas om ons te toets en te help groei.  Dit is vir geen mens lekker as daar klippe op ons pad kom nie, maar ons moet dit aanvaar as God se manier om van ons skoner “vessels” te maak.  Daar is baie mense wat glo dat God nie beproewings op ons pad sal plaas nie en dat alles wat verkeerd loop in hulle lewe, die werk van Satan is.  Dit óók staan nêrens in die Woord van God nie, maar gaan kyk weer al die Skrif in die saadjie: “Klippe, beproewings en versoekings” hoekom laat God hierdie goed toe in ons lewens.  Ek gaan nie nou verder in diepte gaan oor hierdie saak nie;  daar is ’n boek wat gaan uitkom waarin ek dit mooi uiteengesit het soos Abba Vader my geleer het.  Daar is wel gevalle waar ons vervloeking oor ons eie lewe kan bring en daar dan dinge in ons lewe kan gebeur wat nie deur God bepaal is nie, maar dan is dit deur ons eie toedoen.  Hoe kan ons hierdie slegte goed in ons lewe dan probeer wegtoor deur sekere woorde te spreek?  Hoe kan ons tot God bid om dan ons omstandighede te verander as ons self die outeur van die vervloeking was?  Aan die ander kant weer… as God ’n sekere beproewing oor jou lewe bepaal het, is dit regtig regverdig om vir God te vra om die beproewing totaal weg te vat uit jou lewe?  Ons probeer in der waarheid vir God ’n uitveër gee sodat Hy ons lewe beter moet beplan…  Wie weet die beste?  Die mens of God?  Die mens raak so arrogant dat hy God probeer voorskryf, want dit is presies wat die mens doen wanneer hy dinge in die geestelike realm probeer verander deur kragtige woorde of Skrif.  Ons probeer dit wat God alreeds bepaal het, verander.  Ons probeer God se arm draai om Sy eie planne te verander, of as ek deesdae die dinge in die wêreld so luister, probeer die mens nie eers meer God se arm draai om die omstandighede te verander nie;  die mens probeer sommer met gesproke woorde om self die omstandighede te verander.  Gee God regtig vir ons die outoriteit om Sy planne te verander?  Om dit te verander wat Hy alreeds bepaal het?  Jesus was die Seun van God en nie eers Hy het die planne van God probeer verander of vir God gevra om Sy planne te verander nie.  Al was Sy gemoed met tye so swaar, al het Hy bloeddruppels gesweet omdat Hy geweet het wat lê en wag vir Hom en al het Hy nie geweet wat om te bid nie, het Hy nogsteeds God eerste gestel en vir God gesê:  “Laat U wil geskied sodat mense kan sien hoe groot U is!”  

“Op die oomblik is My gemoed beswaard.  Ek weet nie mooi wat om te bid nie.  Sal Ek bid:  ‘Vader, maak ‘n ander plan sodat Ek nie hoef te sterf nie?’  Dit kan Ek tog nie bid nie.  Ek het dan juis gekom om te sterf en op te staan.  Ek kan nou net een gebed bid:  ‘Vader, doen wat nodig is sodat mense kan sien hoe groot en belangrik U is!’”   Johannes 12:27,28  (AFR33/53)

Wanneer ons vir die self leef, dus wanneer ons nog leef om die eie wil te gehoorsaam, skryf ons ons eie lewensboeke.  Ons leef  dit wat ons self bepaal oor ons lewe en ons lewe nie volgens die plan wat God vir ons lank reeds opgestel het nie.  Ons ore is nog nie ingestel om te luister na die stem van God nie en alles wat ons doen, doen ons om die vlees te bevredig.  Wanneer ons nie na God luister en Sy wil leef nie, is dit niks anders as rebellie teen God nie en rebellie veroorsaak ’n vervloeking oor ons omgewing.  Die duiwel kan dan letterlik los wees in ons lewe, want ons gee hom die reg deur ons ongehoorsaamheid.  Omdat ons nie in die Lig van God leef nie, het die duiwel toegang tot ons lewe en kan hy eintlik doen wat hy wil.  Gaan dit nou die mens help om oorlogvoering teen Satan te doen?  Natuurlik nie!  Hy lag die mens uit wat oorlogvoering probeer doen, maar nogsteeds in sy speelveld baljaar.  Dit is baie belangrik dat ons moet besef dat dit ons eie verantwoordelikheid is om pad te gee uit die wêreldse toestand en in die Lig van God in te beweeg.  Dit is die mens se verantwoordelikheid om die pen in sy hand neer te sit en die wil van God te begin volg.  Wat ek eintlik met ’n ompad probeer sê, is dat die mens wat nog verdiep en gewortel is in die wêreld en oorgegee is aan die lewenswyse en die sonde van die wêreld, oorgegee is aan die mag van Satan en die persoon kan oorlogvoering doen en gebede bid totdat hy blou in die gesig is, Satan gaan maar net weer toeslaan.  Ons het die Lig van God in ons harte nodig, want die vyand haat die Lig van God en waar die Lig skyn, het hy geen toegang nie.  Dit beteken nie daar gaan nooit slegte goed in ons lewens gebeur nie, want die vyand sal ons altyd versoek.  Wanneer ons wel in die strik van Satan trap en eet van sy bose vrugte, is een van die gevolge vervloeking oor ons eie lewe of omgewing.  Die gevolg van die bose vrug lê altyd vir ons en wag in die toekoms en wanneer dit sy opwagting maak, kan ons skielik nie verstaan hoekom loop soveel dinge in ons lewe skeef nie, maar die mens dink nie terug aan die bose vrug waarop hy gevoed het in die verlede nie…  Hy besef nie dat hy hierdie slegte omstandighede oor homself gebring het nie.  Nou wil die mens met gebed, oorlogvoering en Skrif hierdie slegte omstandighede uit sy lewe “weg toor”, maar wie het die omstandighede geskep?  Niemand anders as hyself nie!  Die ongehoorsaamheid van die mens!  Ons gaan ongelukkig maai wat ons saai.  Al vergewe God ons vir ons sondes, gaan ons nogsteeds maai. Sien julle die nutteloosheid daarvan om nou met Satan ’n bekgeveg op te sit?  Dit gaan niks help nie, want ons is in hierdie benarde posisie as gevolg van ons eie rebellie en sonde.  As ons net ons onskuld opsy wil plaas en ons foute wil begin raaksien en dit aan God bely, sal Hy ons help uit hierdie situasie, maar dit vat baie moed van ’n mens om sy foute te herken en dit te bely.  Wanneer ons wel op die punt kom om dit te kan doen, sal God ons vergewe en ons help.    

Ons het gesien beproewings is klippe op ons pad wat God daar geplaas het om ons te leer om op Hom te vertrou en wat ook ons geloof toets.  Al het ons ’n hegte verhouding met God, beteken dit nie ons pad gaan sonder enige slegte goed wees nie, want daar sal altyd hier en daar ’n klip in ons pad wees.  Wanneer ons ’n beproewing in die oë staar, hoe kan ons tot God bid of in die gees bid om hierdie beproewing in die niet te laat verdwyn?  As ons nie leer om dit te oorkom deur die krag en hulp van God nie, groei ons nie.  Sien julle hoe nutteloos is dit om al die sleg te probeer weg bid uit ons lewens?  As God vir ons die beproewing daar geplaas het vir ’n baie goeie rede, hoe kan ons nou vir God smeek om dit weg te vat?  Ons moet dit aanvaar as God se plan en ons moet sorg dat ons stewig geanker is in God sodat die storm ons nie verwoes nie.  Ons moet eerder hand aan hand saam met God deur hierdie storm in ons lewe beweeg.  Baie mense wil Satan die skuld gee vir beproewings en verjaag hom dan uit hulle huis, doen vreeslike oorlogvoering, maar al die tyd is dit nie eers hy wat die beproewing in die mens se huis ingebring het nie.  Sien julle hoe lagwekkend is dit eintlik?  En daarom is dit baie belangrik dat ons moet kan onderskei tussen versoekings en beproewings;  ons moet kan onderskei wanneer dit Satan is wat ons in die versoeking probeeer lei om te sondig en dan moet ons hom eenvoudig kan teëstaan en teruggaan na die Woord van God.  Hoe kan ons versoekings weerstaan as ons nie die Woord van God ken nie?  En hoe sal ons weet om die beproewing te oorkom as ons nie verhouding met God het nie?  As ons ’n naby verhouding met God het, sal ons ook weet of die beproewing ’n toets van God af is om jou liefde vir Hom te toets.  

In die tyd wat Abba Vader hierdie met my deurgewerk het, word ek een oggend wakker met Jesaja 1.  Gaan lees dit asseblief op jou eie tyd, ek haal hier en daar sekere gedeeltes aan uit die Boodskap.

Die Here spreek die mense van Israel aan deur monde van Jesaja.  Dit gaan sleg met die mense, hulle is siek na liggaam en gees;  van kop tot tone is daar nie meer ’n gesonde plek aan hulle nie.  Hulle is die ene kneusplekke, slaanmerke en rou wonde.  Hulle land is verwoes, stede is afgebrand.  Hoekom?  Want die mense het in opstand gekom teen die Here.  ’n Dier soos ’n bees ken sy baas se stem en selfs ’n donkie weet goed waarheen om te gaan om kos te kry, maar die volk van Israel wou nie luister na God nie;  hulle het God verwerp, die neus vir Hom opgetrek…  Maak nie saak wat die Here doen nie, hulle het hulle rug op Hom gedraai en hulle eie rigting ingeslaan.  Tog het hulle nogsteeds vir God offers gebring;  hulle het die tempel bygewoon vir feeste en sabbatsvieringe;  hulle het hulle hande uitgesteek na God in gebed. (aangehaal uit die Boodskap)  Sien julle hoe teenstrydig is dit?  Hierdie mense luister nie na God nie, hulle steur hulle in hulle lewensloop nie aan God nie, maar nogsteeds bid hulle tot Hom, bring vir Hom offers, en daarom sê die Here vir hulle:  

“Ek haat julle rusdae en feeste.  Ek is moeg daarvoor, Ek kan dit nie meer verdra nie.  Al steek julle julle hande uit na My toe as julle bid, EK KYK NIE EENS NA JULLE NIE!  JULLE KAN SOVEEL BID AS WAT JULLE WIL, EK SAL NIE NA JULLE LUISTER NIE, WANT JULLE IS ALMAL MOORDENAARS.  Gaan kry eers julle lewens reg.  Hou op om al hierdie verkeerde goed te doen.  Los die slegte goed waarmee julle besig is.”   Jesaja 1:14-16 (DB)  

Opgesom, ons moet selfondersoek doen oor ons hart en ook ons gebede.  Vra jouself die vraag met watse motief jy tot God bid?  As dit is omdat jy soveel liefde in jou hart vir Hom het, is jou motief reg en sal jy van die Here hoor, maar as jou motief is om dinge in die gees te verander met die oog op die self, is jy op ’n verkeerde pad.  Dink ’n bietjie eerlik aan jou gebede – is dit gebede of is dit ’n gesprek met God?  Dit voel so vir my gebede is net ’n gesmeek – die mens rig net heeltyd versoeke aan God, die een na die ander… dit is mos nie ’n gesprek met God nie?  Dan probeer ons God misbruik.  Ons moet daarop let om nie te bid met die doel om versoeke aan God te rig nie, want Hy is nie hier om ons bevele uit te voer nie, Hy het ons nie geskep sodat ons Hom kan hied en gebied soos ons voel nie.  Ons is geskep om Hom lief te hê en Hom te gehoorsaam.