Tag Archives: frontpage

Lewensboeke

lewensboek

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”   Psalm 139:16  (AFR33/53)

In vandag se tyd is mense so vinnig om God die blaam te gee vir alles wat in die wêreld en in hulle lewens skeefloop, maar is dit regverdig om God die skuld te gee?  Om vinger na God te wys?  Is dit regtig God wat vir jou en my die sleg beplan het?  God sê tog deur die mond van Jeremia dat Hy vir ons ’n toekoms van voorspoed beplan, Hy beplan vir ons die mooi en niks slegs nie.  Maar dan moet ons ook na Hom toe draai;  ons kan nie aanleef in ons sonde en dink dit sal goedgaan met ons nie, want as ons leef in die duistere toestand en onsself oorgee aan versoekings en sonde, gaan God ons oorgee aan ons sondige natuur en gaan ons in ons eie vervloekte omgewing woon wat ons deur ons eie sondige lewenswyse skep…

Onder gebed stap ek af in ‘n lang wit gang met deure aan weerskante. Ek kom te staan voor ‘n massiewe groot, donker houtdeur en sien ‘n naambordjie op die deur. Ek probeer fokus om te sien wie se naam op die deur staan en sien toe dit is my naam. Ek draai die groot, goue, ronde deurknop oop en soos die deur stadig oopgaan, stap ek na binne.  Ek bevind my in ’n baie klein vierkantige kamertjie met rakke teen elke muur van bo na onder.  Twee van die vier mure se rakke is van bo na onder gevul met boeke.  As gevolg van my liefde vir boeke is ek nuuskierig om te weet watse boeke dit is en ek begin hier en daar ’n boek uit ’n rak uithaal en deurblaai.  Aan die rugkant, sowel as voorop, staan ’n datum op elke boek wat die begin- en eindtyd van die boek aandui;  die een boek volg op die volgende boek.  Soos ek deur die boeke blaai, lees ek hier en daar ’n sinnetjie of ’n paragraaf en kom ek tot die skokkende besef dat my lewe in hierdie boeke opgeteken is – al my doen en late.  Die boeke strek vanaf die begin van my lewe op aarde en soos my lewe aangestap het, is die boeke mooi netjies langsmekaar ingepak op die rakke.  Wat my opval van die boeke, is die verskillende kleurskakerings:  Die begin van my lewe se boeke begin met mooi ligte kleur skakerings, maar soos die tyd aanstap, verander dit na meer uitspattiger kleure.  Hier en daar is ‘n skokkende, swart boek… dan ‘n hele paar swaar, grys kleurige boeke, maar later word die boeke mooi silwer en goue kleure….

Abba Vader begin aan my verduidelik dat elke tree van my lewe opgeteken is in hierdie boeke. Die mooi sagte kleur boeke dui die tyd aan toe ek nog ‘n klein, onskuldige dogtertjie was.  Soos die tyd aangestap het, het ek my eie wil begin ontwikkel en daardie willetjie het my boeke begin inkleur met meer uitspattige kleure.  Ek het self besluit dat ek nie meer die onskuldige dogtertjie wou wees met sagte kleur boeke nie, so ek het self besluit om te verander in wie ek graag wou wees.  Die helder oranje-pienk boeke verander sommer oombliklik in swaar gryskleurige boeke en my moed wil-wil in my skoene sak.  Ek vermoed dit moes my tienerjare gewees het… en toe ek kyk na die datums op die boeke, was ek reg.   Aan die begin van daardie jaar is my broer weermag toe, vyf maande daarna is my pa skielik op ‘n baie vroeë ouderdom oorlede aan ’n hartaanval.  Dit het gevoel my wêreld stort ineen en ek was hartseer en alleen.  Ek was nog ’n kind wat nie die Here geken het nie;  ek het effe rebels geraak, ek het mense seergemaak en al daardie goed is opgeskryf in hierdie lelike kleur boeke.  Ek voel so bitter sleg oor al daardie boeke, oor daardie tyd van my lewe, ek wil nie eers daaraan vat nie, wat nog te sê lees…  

Na die spul lelike grys kleur boeke op die rak, begin die boeke stadig maar seker weer ’n mooi kleur kry soos die tyd aangestap het.  Die kleure begin weer ophelder en toe ek let op die datums van die boeke, is dit die tyd wat ek my man ontmoet het, ’n tyd wat ek mensliefde ontdek het.  Die mooi helder boeke volg op mekaar soos ons drie seuns geskenk is van God.  ’n Mooi boek wat ’n meer goue skakering wil-wil kry, volg, en ek weet instinktief dit is die jaar wat ek God begin soek het, die tyd toe ek my hart oorgegee het, ’n wonderlike tyd wat ek liefde in God ontdek het.  Maar dan volg daar nie nog goue skakering boeke nie, maar eerder ‘n ry vol swaar, donker, swart boeke, sommer verskillende skakerings van swart.  Toe ek dit sien, weet ek onmiddellik watse tydperk dit aandui en het ek snikkend neergesak op my knieë.  Dit is nog te seer om daardie boeke te sien, soveel haat en woede wat in daardie boeke opgeteken is.  Hoe ironies is dit … net toe ek die Here in my lewe begin soek en my hart begin oorhandig het aan Hom, is dit asof ons ’n wolweden ingestap het.  Die wolwe het ons omring en ons as gesin uitmekaar probeer skeur.  Ek sou kon moor in daardie tyd…  Dit was moeilike paar jare wat daarna gevolg het, maar uiteindelik begin die swart boeke weer omsit in mooi, silwer boeke wat later selfs begin blink het. Hier en daar is ook ‘n goue boek… Dit is toe ek God in my seer gevind het!

‘n Paar maande nadat Abba Vader my geskrewe lewensboeke aan my gewys het, vat Hy my op ’n dag weer na die kamertjie met my lewensboeke, maar hierdie keer is daar ‘n klein ronde tafeltjie in die middel van die kamer met ’n baie groot, dik boek op die tafeltjie wat nie die vorige keer in die kamer was nie (of ek het dit nie gesien nie).  Dit lyk asof die boek in ‘n leeromhulsel is, maar tog blink dit en die blaaie skyn goud en silwer.  Ek stap nader na die boek en wil-wil dit optel, maar dit lyk te swaar om op te tel.  Dan sien ek my naam voorop die boek gegraveer – nie my wêreldse naam nie, maar die naam wat Abba Vader my noem.  Ek is so verbaas om hierdie boek te sien, want dit lyk so anders as die boeke teen die muur – dis baie groter en blinker.  Stadig maak ek die boek oop en op die eerste blaai staan:

“Before I formed you in the womb, I knew you.  Before you were born, I set you apart for my holy purpose.”  Jeremiah 1:5 (GWT) 

My mong hang oop van verbasing en die trane rol van my wange af toe ek die boek begin deurblaai – volgens die Skrif is hierdie boek oor my lewe deur God geskryf lank voor my geboorte.  Dus, nog voor ons geboorte beplan God al ons lewe vir ons vooruit…  

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”     Psalm 139:16  (AFR33/53)

Lank voor ek en jy die Here gesoek het, het Hy alreeds vooruit bepaal wat ons doel op aarde sal wees.  God het alreeds besluit wat elke kind van Hom vir Hom sal doen op aarde.  Lank vooruit het God al beplan watter Goddelike gawes Hy aan elkeen sal skenk wanneer die tyd reg is sodat ons Sy werk op aarde kan doen tot Sy eer.  Soos ek die boek deurblaai, sien ek oral Skrif opgeteken wat op my lewe van toepassing is.  Alles wat God vooruit beplan het vir jou en my, is opgeskryf in Sy boek oor ons lewens.  

Soos ek die boek deurblaai, begin ek agterkom dat baie van die goed wat in my lewe gebeur het, opgeteken is in hierdie boek, maar baie van die slegte goed wat in my lewe gebeur het, is nie hierin opgeteken nie.  Baie van die mense wat deel uitmaak van my lewe, se name word genoem in God se boek, maar dan is daar mense wat my erge leed aangedoen het wie se name glad nie in hierdie boek staan nie.  Ek verstaan dit nie… Hoekom is al die slegte gebeure van my lewe opgeteken in die boeke wat ingepak is op die rakke, maar al daardie slegte goed is nie in God se boek opgeteken nie?  Hoekom is die mense wat my erge leed aangedoen het, se name in my boeke op die rakke opgeteken, maar nie in God se boek nie?  En Abba Vader antwoord my:

“Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”    Jeremia 29:11 (AfR33/53) 

Dan verduidelik Abba Vader aan my:  Toe God ons lewensboeke geskryf het, het Hy nooit vooraf beplan dat daar slegte of bose goed in ons lewens moet gebeur nie.  Alleenlik dit wat Hy vir ons beplan het, is in hierdie boek opgeskryf.  Elke klip op ons pad is ook in God se boek oor ons lewe opgeskryf en hier moet ons nou kophou en verstaan… God bedoel nie om ons leed aan te doen met dit wat Hy in ons lewens ingeskryf het nie.  Hy plaas beproewings op ons pad om ons te leer, om ons te dissiplineer, om ons te help om die vuil klere uit te trek en die mens te word wat God vooruit bepaal het ons moet wees.  Alles wat God vir ons lewe bepaal het, is vir ons eie beswil.  Wanneer ons by probleme in ons lewens te staan kom, ervaar ons dit baie keer as slegte omstandighede en kan ons nie verstaan hoekom sulke goed in ons lewe moet gebeur nie, maar as ons deur die krag van God die klippe oorkom en ons kyk later terug op ons lewe, is ons dankbaar vir elke klip wat God op ons pad geplaas het, want dan kan ons verstaan hoekom God dit vir ons beplan het en kan ons Hom loof en prys daarvoor.  

Daar is slegte goed wat in my lewe gebeur het wat nie opgeskryf is in die boek van God nie…  Baie dinge het in my lewe skeefgeloop omdat ek my eie wil gevolg het en daardie slegte goed is nie opgeskryf in die boek van God nie, dus het Hy dit nie vir my beplan nie, maar ek het dit self veroorsaak deur my eie swak besluite en sonde, daarom moes ek die gevolge daarvan dra.  Dan wys Abba Vader my daarop dat daar mense is wat my erge leed aangedoen het, maar hulle name is ook nie opgeskryf in God se boek oor my lewe nie, met ander woorde, God het nie daardie mense op my pad geplaas nie;  dit was nie deel van God se plan dat ek met daardie mense deurmekaar moes raak nie, dit was weereens deur my eie swak keuses en besluite. 

Ons lewens was al lankal deur God opgeskryf in Sy boek, maar as ons nie verhouding met Abba Vader het nie, ken ons Hom nie en word ons nie gelei deur Hom nie, dus leef ons nie die lewe wat Hy oor ons geskryf het nie.  Ons werk so verkeerdom, so dom!  Ons wil ons eie besluite neem sonder om God te raadpleeg en as ons klaar besluite het, vra ons Hom nogal om ons besluit te seën!  Ons probeer God en Sy seën in ons eie geskrewe boeke inskryf, maar dit werk nie so nie!  Al die keuses wat ons in die lewe moet maak, moet ons in die hand van God plaas en Hom toelaat om die besluit vir ons te neem.  Ons moenie God in ons lewens probeer inskryf nie;  ons moet ons lewens in Sy hande plaas en dit begin leef wat Hy oor ons geskryf het! 

Die verskillende kleur boeke op die rakke teen die muur, is boeke oor hoe ek my eie lewensstorie probeer skryf het – sonder God!  Die meeste daarvan het ek geskryf sonder om God te raadpleeg, dus het ek my eie wil gevolg en keuses op my eie gemaak sonder God.  Ek was nie op die pad van God nie!  Soveel van die slegte gebeure wat ek oor myself gebring het, het die Here nie oor my gedroom nie.  Dis as gevolg van ons eie wil dat daar soveel seer opgeteken is in ons eie geskrewe boeke…

Baie keer skep ons ons eie slegte omstandighede waarin ons moet leef.  Ons maak keuses om die self te bevoordeel sonder om God te raadpleeg.  Kom ons kyk net weer na Adam en Eva en leer by hulle:  Toe hulle gevoed het op die verbode boom, het hulle nie die wil van God gehoorsaam nie, maar hulle eie wil.  Hulle ongehoorsaamheid het vervloeking oor die natuur gebring en God het hulle uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die vervloekte wêreld wat deur hulle eie toedoen vervloek is.  Elke keer wanneer ons optree en keuses maak om die eie wil te gehoorsaam pleks van die wil van God, veroorsaak ons vervloeking oor ons eie omgewing waarin ons dan moet oorleef.  Die mens bepaal in ’n groot mate sy eie toekoms en sy eie ondergang deur sonde en ongehoorsaamheid, deur nie die wil van God te soek en te volg nie, maar wanneer ons leef volgens dit wat God vir ons bepaal het en ons dus die wil van God gehoorsaam, sal God vooruit beweeg en die toekoms vir ons uitsorteer. 

Mag ek en jy die potlood of pen van ons eie lewe neersit;  ons lewens oorgee in die hand van God en Hom toelaat om ons te lei om die lewe te leef wat Hy vir ons vooruit bepaal het.  Ons dien ’n wonderlike God!  Hy is werd om geloof, geprys en geëer te word.  Mag ons God liefhê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand.  

“God rewrote the text of my life when I opened the book of my heart to His eyes.”  Psalm 18:24  (The Message)

Bou ‘n altaar met klippe

Abba Vader wys my ’n altaar van klip wat ek moet skilder.  Ek teken dit toe eers in my skryfboek, nog nie op ’n canvas nie.  Eers het ek gedink dat ek ’n lam op die klipaltaar gaan moet skilder, maar soos die tyd aangestap het, het Abba Vader al hoe meer gepraat oor ons harte wat ons moet offer aan Hom…. nie om net met die mond te sê ek gee nou my hart aan die Here soos daar in sommige kerke geleer word nie, maar om ’n waaragtige “contrite” heart aan Abba Vader te offer.  Dit beteken jy moet jou hele lewe oorgee aan Hom, jou besluite en keuses;  jy moet jou geliefdes in Sy hand kan laat en met ’n opregte hart kan sê:  “Laat U wil geskied – vir die goed en die sleg.”… en dan moet jy Abba Vader se planne en besluite respekteer en eer, want net Hy weet die beste.  Dit beteken dat jy die beproewinge op jou pad (wat Abba Vader daar geplaas het as klippe), aanvaar en Hom toelaat om jou te omvorm deur die beproewinge.  Want dit is tog hoekom Abba Vader klippe op jou pad plaas – om jou te suiwer van jouself, om jou te help om te sterf aan die self sodat jy weergebore kan word.  Niemand kan weergebore word as hy nie eers sterf aan die self nie, want ’n koringkorrel moet eers in die grond val en sterf voordat dit ’n oes kan lewer.  Die natuurlike mens moet eers sterf voordat die geestelike mens opgewek kan word… en dit beteken nie die dag wanneer ons fisies doodgaan nie… dit beteken om geestelik jou vleeslikheid en eie wil af te sterf.  Daarvoor moet jy deur die kruis van Jesus beweeg en geestelik in die graf geplaas word waar Abba Vader vir jou ’n nuwe hart sal gee.  Sonder ’n nuwe geestelike hart is jy nie waarlik gered nie.  Deesdae se mense wil nie meer DEUR die kruis beweeg nie – hulle is nog bereid om ’n pad te stap tot by die kruis en om hulle sondes te bely, maar hulle wil nie DEUR die kruis beweeg nie.  Pleks daarvan glo hulle die leuen dat hulle totaal verlos is omdat hulle gekniel het voor die kruis en daarom staan hulle op voor die kruis en gaan terug wêreld toe.  Dit beteken hulle beland nooit in die graf nie, wat beteken hulle kry nie ’n nuwe hart nie…. wat beteken hulle bekering en wedergeboorte was vals.   Hulle wil dus nie hulle kruis dra nie, maar Jesus sê in Mattheus 16:26,25: 

  “Toe sê Jesus vir sy dissipels:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”

  Diegene wat nie hulle kruis wil dra nie, is ook diegene wat nie die klippe op hul pad wil aanvaar as God se manier om hulle te suiwer nie. Hulle glo dat as hulle in God glo en kerk toe gaan, hulle ’n fisiese geseënde lewe sal lei sonder enige slegte goed wat in hulle lewens gebeur.  Hulle glo dat as daar wel slegte goed in jou lewe gebeur, jy ’n oop teiken vir Satan is en dat dit hy is wat die slegte goed in jou lewe laat gebeur.  Hulle doen oorlogvoering teen Satan om die sleg uit hulle lewe uit weg te toor, maar as daar nie beproewinge in ons lewens is nie, hoe moet God ons suiwer van onsself?  

Dit is tog hoekom God die klippe op ons pad plaas… om ons te help om te sterf aan die self, om ons te help om oor te gee aan Hom, om ons te help om meer en meer op Hom te vertrou soos ons beleef dat Hy wel die klippe uit ons pad uit rol as ons dit in Sy hande plaas en Sy wil laat geskied.  En hier kom die mooi gedeelte in, want elke klip wat ons oorkom deur die krag van God, wat ons in Sy bekwame hande plaas en Hom vertrou om dit uit te sorteer, word ’n klip waarmee ons ’n altaar bou.  Sonder klippe, is daar geen altaar nie, en as daar nie ’n altaar is nie, kan ons ook nie aan God ’n geestelike offer gee nie, met ander woorde, as daar geen klippe is nie, kan ons nie ons harte aan God offer nie.  

Abba Vader het my gevra:  Wat is die belangrikste… jou offer of die altaar?  Ek het bietjie gedink daaroor, en vir Abba Vader gesê ek dink tog ons offer is die belangrikste.  En toe sê Abba Vader:  “Nou goed, as die offer gereed is, maar daar is geen altaar nie, hoe dan gemaak?  Jy het ’n altaar nodig om te offer, en daardie altaar moet eers gebou word.”  Waarmee bou jy jou altaar?  Gras?  Stokkies? Hout?  Nie een van daardie altare gaan werk nie, alleenlik ’n altaar van klip is vir God aanvaarbaar.  En waar kry jy die klippe om die altaar te bou?  Die altaar kan alleenlik gebou word met die klippe wat Abba Vader op jou pad geplaas het, en eers as jy die klip in Sy hande kon oorhandig en Sy wil aanvaar, word hierdie klip ’n deel van die altaar.  Elke klip op ons pad leer ons iets omtrent onsself… dit wys ons sondes en verkeerde denkwyses aan ons uit, dit wys ons swak punte en ons goeie punte, so dit help ons om stukkie vir stukkie te sterf aan die self.  Dit help ons om skoon te maak en ons te omvorm na die wil van God.  So, hoe meer klippe jy oorkom deur die krag van God, hoe meer vorder die bouwerk aan jou altaar.  Maar as jy die klippe gaan probeer vryspring deur dit te probeer wegbid uit jou lewe uit, word dit nie ’n klip van jou altaar nie en bou jy dus nie aan jou altaar nie.  Sien julle die leuen daarin om oorlogvoering teen Satan te probeer uitrig?  Jy doen jouself skade aan deurdat jy nie omvorm word na die wil van God nie;  jy is nie besig om ’n altaar vir God te bou sodat jy jou hart aan Hom kan offer nie.  

Aanvaar die beproewinge in jou lewe as God se plan en doel met jou lewe, sien die goed daarin raak en raak ontslae van die sleg in jouself.  Is jy besig om te bou aan jou altaar vir God sodat jy jou hart aan Hom kan offer?  Is jy bereid om die klippe op jou pad te aanvaar as God se plan vir jou lewe sodat Hy aan jou ’n ware, ewige toekoms kan gee?  Want God wil vir elkeen van Sy kinders ’n goeie en hoopvolle toekoms gee, wat beteken die ewigheid saam met Hom in Sy Koninkryk, maar ons kan alleenlik die Koninkryk binnegaan as ons nuwe skepsele is, met ander woorde as ons wedergebore is, en deel van die proses is om jou hart aan God te offer.  Maar hoe ver is jy gebou aan jou altaar van klip?

Klippe op ons pad

“God, your God, is testing you to find out if you totally love Him with everything you have in you.  You are to follow only God, your God, hold Him in deep reverence, keep His commandments, listen obediently to what He says, serve Him – hold onto Him for dear life!”  Deuteronomy 13:4 (MSG)

“The purpose of these troubles is to test your faith as fire tests how geniune gold is.  Your faith is more precious than gold, and by passing the test, it gives praise, glory and honor to God”   1 Peter 1:7 (GWT)

Op die pad wat ons saam met Jesus stap, is baie klippe en elke nou en dan vermaan Jesus my om nie na die klippe in die pad te kyk nie, maar my kop omhoog te hou en my oë alleenlik op Hom gevestig te hou.  Ek moes leer om nie na die klippe in die pad te kyk nie;  om glad nie daarop te fokus nie.  Aan die beginstadium van my wandel saam met Jesus op die ware Weg, het die klippe my begin ontsenu en ek het begin wonder waar hierdie klippe vandaan kom en of dit dalk Satan is wat hierdie klippe op my pad geplaas het.  Ek het met Jesus daaroor begin praat, maar Hy het aan my verduidelik dat die klippe nie deur Satan op ons pad geplaas is nie, maar deur God self.  Nog voor ons geboorte het God alreeds ons pad beplan en uitgelê, met elke klip presies op die plek waar Hy dit wou hê.  Hierdie klippe is die beproewings wat oor ons pad kom;  dit is die struikelblokke in ons lewe, die probleme en moeilike omstandighede, maar moenie mismoedig raak nie, want 1 Korintiërs 10:13 sê dat God ons nooit in die steek sal laat nie.  Hy sal ons ook nie beproef bo ons kragte nie.  Deur die klippe wat God op ons pad geplaas het, wil Hy ons omvorm na Sy wil, en hoe kan God ons omvorm na Sy beeld deur dit altyd net goed met ons te laat gaan?  Romeine 5:3-4 sê al kry ons nou baie swaar, moet dit nie ons blydskap wegvat nie, want swaarkry vorm en slyp ons om nog meer op God te vertrou.  Wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk, Christelike karakter te vorm wat maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag. 

Abba Vader het my deur die tyd geleer om geensins my fokus op die klippe te plaas nie, maar heeltyd my oog op Jesus te hou.  Ek moes leer om nie te fokus op die probleme in my lewe nie, want die oomblik wanneer ons op ons probleme begin fokus, ontsenu dit ons en begin ons allerhande menslike plannetjies uitdink om dit op te los.  Dan is dit die “eie ek” wat die probleem op ’n menslike vlak probeer uitsorteer en die kans is baie groot dat ons ’n groter gemors gaan maak daarvan en ons tone ten bloede teen die klippe gaan stamp.  Maar wanneer ons ons oë afhaal van die klippe en alleenlik op Jesus fokus, met Hom praat oor ons probleme en die keuse maak om die probleem aan Hom te oorhandig sodat dit opgelos kan word na Sy wil, dan sal Hy dit vir ons uitsorteer op ’n Goddelike manier wat altyd die regte manier is.  Ons bid:  “Laat U wil geskied”, maar laat ons regtig ons probleme en omstandighede in die hand van Abba Vader?  Laat ons God regtig toe om ons probleme op Sy manier op te los?  Ons vra Hom dat Sy wil moet geskied, maar tog prewel ons ook hier onderlangs wat ons graag wil hê.  Ons eie wil en die wil van God stem nie altyd ooreen nie, so dit vat baie van ons om met ’n opregte hart vir God te kan sê:  “Abba Vader, hier is hierdie probleem in my lewe – vir die goed of die sleg, ek sal vertrou dat dit sal geskied volgens U wil.” 

Die oomblik wanneer ons afkyk na die klippe in ons pad, is ons so intens op die probleem gefokus dat ons skoon van Jesus langs ons vergeet.  Sommige klippe is regtig groot en ons gaan sukkel om hulle uit die pad gerol te kry.  Onthou net, hierdie pad is regtig baie smal – so smal dat sommige klippe regtig die hele pad vol lê.  Die mens kan nie self so ’n groot klip uit die pad uit wegrol nie, maar wanneer ons gefokus is op Jesus en Hom vertrou, sal Hy die klip uit ons pad wegrol voordat ons ons tone stukkend stamp daarteen.  Soms faal ons en fokus ons te erg op die probleem en nie op Jesus nie;  ons probeer ons eie wil afdwing op God en op die ou end stamp ons ons tone ten bloede teen die massiewe klippe.  Dit gebeur met ons almal, maar Abba Vader sal ons nooit verlaat nie…  Wanneer ons faal en ons tone is so stukkend, sal Jesus maar net weer ons stukkende tone heelmaak… Wat ’n wonderlike genadige God dien ons!  Kyk wat sê Jakobus 1 in Die Boodskap:

Slegte dinge in jou lewe is nie altyd sleg nie  “My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word.  Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees.  Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.  Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil.  So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.” Jakobus 1:2-4 (DB)

1 Petrus 1:6,7 sê daar gaan allerhande dinge in ons lewe gebeur wat nie vir ons lekker is nie, maar God toets ons geloof daardeur.  Ons moenie dat slegte omstandighede ons van stryk bring nie.  Kyk wat gebeur met goud – om die vuil en onsuiwerhede uit goud te kry, word dit in ’n warm vuur geplaas om die vuil weg te smelt.  Op hierdie manier moet ons geloof ook getoets en gesuiwer word en as ons geloof sterk bly deur moeilike tye, behaag ons God.  God het dus ’n plan met elke dingetjie wat in ons lewe gebeur.  God is nie ’n nare God wat ons aspris probeer seermaak nie.  Soms ervaar ons ’n sekere situasie as onregverdig teenoor ons en raak ons kwaad vir God omdat Hy sekere dinge toelaat in ons lewens;   soms is dit vir ons moeilik om te verstaan waar God is in die seer van hierdie wêreld, maar deur al die “trials and tribulations” moet ons net altyd onthou dat God ons probeer suiwer.  Net soos goud gesuiwer moet word deur vuur, moet ons ook gesuiwer word.   

“The purpose of these troubles is to test your faith as fire tests how geniune gold is.  Your faith is more precious than gold, and by passing the test, it gives praise, glory and honor to God.”   1 Peter 1:7 (GWT)

Ons almal sou beproewinge wou vryspring as ons kon.  Beproewinge kom nie van Satan af nie en dit is ook nie oorgedra deur die sondes van ons voorouers nie.  Mense wat dit glo, maak staat op die sny van bloedlynvloeke of ander snaakse goed om die beproewinge vry te spring, maar as ons dit doen, word ons nooit gesuiwer van ons onsuiwerhede nie!  Om bloedlynvloeke te sny, gaan in elkgeval ook nie beproewinge uit jou lewe uit “wegtoor” nie.  Beproewinge is broodnodig!  Om in ’n put gegooi te word soos Josef is soms nodig!  Kyk waar het dit Josef op die ou end laat uitkom…  Kyk wat het God deur Josef vir Sy volk gedoen omdat Josef op God bly vertrou het, maak nie saak deur watse sleg hy moes gegaan het nie.  Hy het nie vir Satan die skuld gegee en om elke hoek en draai vir Satan probeer wegjaag uit sy omstandighede nie;  hy het ook nie die skuld op sy bloedlyne gepak en bloedlynvloeke probeer sny sodat sy omstandighede moet verander nie.  Hy het net op God bly vertrou en dit is wat ons ook moet doen wanneer ons die klippe op ons pad teëkom.  Op daardie tydstip is dit baie sleg en vra ons baie vrae aan God, want baie keer voel Hy so ver van ons.  Dit voel asof Hy ons nie wil help nie, maar dit is glad nie die geval nie.  God sal ons nooit verlaat nie, Hy laat alles gebeur met ’n doel.  Dit is juis daardie moeilike tye wat ons moet leer en fokus om op God te vertrou.  Hebreërs 12:5-6 leer ons ook dat ons nie moet tou opgooi as God ons teregwys op ons foute deur soms bietjie hard op te tree teenoor ons nie.  Hy doen dit omdat Hy ons liefhet, net soos ons ook ons eie kinders tugtig wanneer hulle stout is.   

Die klippe op ons pad is juis daar geplaas om die vals en ware bekeerdes van mekaar te skei (met ander woorde, die ware en vals volgelinge), want die vals volgelinge of vals bekeerdes gaan nie die klippe in die pad kan hanteer nie.  Onthou net, hulle het gekies om na die Bruilof toe te gaan vir voorspoed, sodat dit met hulle goed moet gaan, om die Fees te gaan geniet en feeskos te eet;  hulle het nie die prys wat dit kos om die Weg van God te volg, in berekening gebring nie.  Hulle gaan nie hou van die verwerping en moddergooiery van die wêreldlinge nie.  Hulle gaan nie daarvan hou om hulle lewe op die spel te plaas en alles oor te gee aan God nie.  Hulle gaan nie hou van die probleme wat op hulle wag nie en daarom gaan hulle vinnig ’n afdraaipad soek wat teruglei na die makliker paaie wat lei na die Fees.  Hulle gaan die pad soek wat sonder klippe is!  Sommige mense gaan God blameer as ’n slegte God wat net slegte goed in ’n mens se lewe wil laat gebeur, want hulle besef nie God wil ons suiwer van onsself nie.  Die klippe toets dus die hartsmotief van die mens en vals bekeerdes sal dit nie slaag nie.  Beproewinge toets die beproefdheid van ons geloof (1 Petrus 1:7).  Die klippe op die pad is daar geplaas om die koring en die kaf van mekaar te skei. 

God doen net goed aan jou, maar gebruik tog die slegte om jou te toets “Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly.  Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag.  God noem sulke mense wenners in die lewe.  Hy sal hulle deel van sy familie maak.  Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het.  Een fout moet ons egter nie maak nie.  Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie.  Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie.  Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie.  Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld.  Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen.  Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in.  Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel.  Jy moet kies.  As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen.  En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen.  So werk die sonde met ’n mens.  Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood.  Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie.  God het niks slegs in Hom nie.  Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie.  Hy bly altyd dieselfde.  Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel.  Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur.  As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet:  dit kom van God af.” Jakobus 1:12-17  (DB)

Alhoewel God beproewinge in die vorm van klippe oor ons pad brind, kan ons ook nie sê dat dit God is wat ALLE slegte dinge oor ons bring nie, want baie van die slegte goed wat in ons lewe gebeur, bring ons oor onsself deur ons eie sonde.  Ek gaan nie nou hieroor uitbrei nie;  daar is ’n boek waaraan ek skryf wat handel oor ons lewensboeke wat net oor hierdie onderwerp gaan, maar om dit vinnig op te som… Wanneer ons die besluit maak om eerder ons eie wil te gehoorsaam as die wil van God, skep ons vir onsself vervloekte omstandighede en dan gaan ons maai wat ons gesaai het.  Dit is dan nie God wat dit oor ons gebring het nie, maar dan het ons dit oor onnsself gebring deurdat ons toegegee het aan versoekings…

Versoekings

Daar is ’n groot verskil tussen beproewing en versoeking, en dit kom ook vanaf verskillende bronne.  Ons weet nou beproewinge is klippe wat God op ons pad geplaas het:  Eerstens om vals volgelinge van ware volgelinge te onderskei en tweedens gebruik God die beproewinge om ons te suiwer van onsself en ons te leer om in elke situasie net op Hom te vertrou.  Versoekings is nie klippe op ons pad nie, dit is goed wat Satan gebruik om die mens te lok om sonde te doen, so Satan versoek ons om te sondig.  God sal ons nooit versoek nie.  Dit is die mens se verantwoordelikheid om die versoekings van Satan te kan raaksien en te kan teëstaan, maar ons kan dit alleenlik teëstaan deur die krag van God.  Jesus moet in en deur ons leef en ons in staat stel om dit te kan teëstaan.  

Aan die begin van tye het Satan vir Eva versoek met ’n heerlike vrug en sy het die keuse gemaak om eerder haar eie wil te gehoorsaam, pleks van die wil van God.  Dit het hulle duur te staan gekom, want dit het veroorsaak dat hulle nie meer verhouding met God kon hê en in die tuin van Eden kon woon nie.  In Genesis 3 sê God vir Kain dat die sonde altyd voor sy deur sal lê en na hom sal bly loer, maar dit is sy verantwoordelikheid om daaroor te heers.  Net so lê en loer die sonde altyd voor ons deur, maar dis elkeen se eie verantwoordelikheid om deur die krag van Jesus daaroor te heers.  Dit is ook die mens se eie verantwoordelikheid om ’n naby verhouding met God te hê sodat ons onderskeiding van God kan ontvang en ons die versoeking van Satan kan raaksien en teëstaan.  

Sien julle die verskil tussen beproewing en versoeking?  Beproewing kom van God af, maar versoeking kom van Satan af.  Satan het selfs vir Jesus versoek om sonde te doen toe Jesus uit die woestyn gekom het, maar wat het Jesus gedoen?  Hy het die vyand prontuit teëgestaan met die Woord van God.  Hy het nie ’n bekgeveg en vreeslike oorlogsverklaring teen Satan opgedis nie.  Jesus het Sy Vader so goed geken dat Hy dadelik geweet het dat Satan Hom leuens probeer voer om Hom in sy mag te kry.  Wat het Jesus gedoen?  Hy het Satan teëgestaan met die Waarheid uit die Woord en ons moet die voorbeeld van Jesus volg.  Dit is nie vir ons nodig om Satan met vreeslike oorlogvoering teë te staan en hom weg te jaag om elke hoek en draai nie, want hy en sy werkers is in elkgeval oral!  Die Woord leer nie vir ons om dit te doen nie, maar wanneer hy ons versoek, kan ons die vrug wat hy aan ons probeer bied, ignoreer en weier.  Daarvoor moet ons die Woord van God baie goed ken, want dan sal ons dadelik ‘n versoeking van Satan kan raaksien.  Dit is so belangrik om te kan onderskei tussen die stem van God en die versoeking van Satan, want hy is soos ’n engel van die lig wat alles van God naboots.  As ons alles toets aan die Woord van God, kan ons nie verkeerd gaan nie.  Lees asseblief Hebreërs 12:1-17. 

Daar is baie mense met die opinie dat daar niks in ’n mens se lewe kan foutgaan as ons op die pad van God is nie.  Hierdie is ’n baie naïewe siening en dit kom nie ooreen met die Woord van God nie.  Hulle sien hulleself as die heiliges waarmee niks verkeerd kan loop nie en verhef hulleself bo diegene wat teëspoed ervaar.  Hulle hou glad nie in berekening dat God wel dinge in ons lewe kan laat gebeur om ons te suiwer nie.  Al is ons op die pad van God, kan daar nogsteeds dinge in ons lewe skeefloop.  Dink bietjie hieroor:  Het dit altyd goed gegaan met Jesus?  Het Hy ’n pad van uitsonderlike sukses en voorspoed gestap?  Nou hoekom dink die mens dat hy altyd ’n lewe van voorspoed en sukses gaan lei deur Jesus te volg?  As ons in Jesus se voetspore volg, gaan ons dieselfde pad as Jesus stap.  As daar nie beproewinge of klippe op ons pad is nie, moet ons eintlik bekommerd raak en wonder of ons wel op die pad van God is…

As God beproewinge oor ons pad bring in die vorm van klippe, wat gaan dit ons help om vir Satan die skuld te gee daarvoor?  As God bepaal het dat die klippe op ’n sekere plek in ons lewenspad moet wees, gaan dit ons mos niks help om oorlogvoering teen Satan toe te pas en die klippe uit ons pad te probeer “toor” nie?  Dan tree ons mos teen God se wil op, want God se plan met die klippe is om ons te suiwer.  Hy wil ons leer om elke ding wat in ons lewe gebeur, in Sy hand te plaas en Hom te vertrou… so om beproewinge (klippe) aan te spreek in ons lewe, gee vir Satan rede om te giggel langs die pad, want hy weet as ons nie die klippe kan oorkom en leer om dit in die hand van Abba Vader te plaas nie, ons dit op die wêreld se manier gaan probeer uitsorteer… wat ook Satan se manier is.  Dan kry hy maar net weer die oorhand oor die mens…  

Daar is sekere sondes en maniere in elkeen van ons se lewens wat God graag wil hê ons moet oorkom;  daar is sekere sondes waaroor ons moet heers deur die krag van God en dit is wat God ons probeer leer.  In Hebreërs 12 sê God ook ons het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in ons stryd teen die sonde nie, met ander woorde, ons moet heers oor sonde.  Om vir Satan die skuld vir alles te gee en ’n vreeslike geveg met hom op te sit, is ’n vermorsing van tyd en energie.  Die tyd wat ons spandeer om in geestelike boeke te leer oor oorlogvoering en die manier om dit uit te rig, is tyd wat ons eerder by die voete van Abba Vader kon spandeer sodat Hy ons kan leer om op te staan teen die sonde in onsself.  God maak ons sterker deur ons voller te maak van Homself.  ALLES gaan oor ’n persoonlike verhouding met Abba Vader!  Dan sal Hy ook aan ons onderskeidingsvermoë gee om te kan onderskei tussen beproewinge en versoekings.

Om hierdie gedeelte op te som… elke klip op ons pad is deur God met ’n doel daar geplaas.  Elke klip gaan jou antwoord op die vraag:  “Hoekom volg jy Jesus?” toets.  As jy die uitnodiging onderteken het met welvaart in gedagte, het jy met die verkeerde hartsmotief die uitnodiging onderteken, want dan gaan jy elke klip op jou pad haat en vir God kwaad raak daaroor…  Dit is mos nie hoekom jy besluit het om Hom te volg nie… jy het besluit om Sy Naam aan te roep en Hom te volg sodat dit moet goedgaan in jou lewe, nie sodat daar nóg slegte goed moet gebeur nie!  Die mens met hierdie gedagtegang en vals hartsmotief is op die pad van God net om Sy goedheid te misbruik.  Hy verskil geensins van die vals volgelinge van Johannes 6 nie.  Niemand gaan God flous nie en vals volgelinge se uitnodigings sal ook nie gestempel word met die Gees van God nie.  Verstaan julle hoekom God klippe op ons pad moet plaas?  Hy moet die vals en ware volgelinge van mekaar skei.  Die vals volgelinge gaan net soos die skare in Johannes 6 omdraai en wegloop, hulle gaan die pad van God verlaat en teruggaan na die breë paaie waar die wêreld hulle aanvaar.  Nog ’n rede hoekom God klippe op ons pad plaas, is om ons te suiwer van al ons onsuiwerhede en om ons te leer om op Hom te vertrou.  Op so ’n manier help God ons om die self af te sterf, want as ons nie die self afsterf nie, kan ons nooit by die Bruilofsfees ingaan nie.