Lewensboeke

lewensboek

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”   Psalm 139:16  (AFR33/53)

In vandag se tyd is mense so vinnig om God die blaam te gee vir alles wat in die wêreld en in hulle lewens skeefloop, maar is dit regverdig om God die skuld te gee?  Om vinger na God te wys?  Is dit regtig God wat vir jou en my die sleg beplan het?  God sê tog deur die mond van Jeremia dat Hy vir ons ’n toekoms van voorspoed beplan, Hy beplan vir ons die mooi en niks slegs nie.  Maar dan moet ons ook na Hom toe draai;  ons kan nie aanleef in ons sonde en dink dit sal goedgaan met ons nie, want as ons leef in die duistere toestand en onsself oorgee aan versoekings en sonde, gaan God ons oorgee aan ons sondige natuur en gaan ons in ons eie vervloekte omgewing woon wat ons deur ons eie sondige lewenswyse skep…

Onder gebed stap ek af in ‘n lang wit gang met deure aan weerskante. Ek kom te staan voor ‘n massiewe groot, donker houtdeur en sien ‘n naambordjie op die deur. Ek probeer fokus om te sien wie se naam op die deur staan en sien toe dit is my naam. Ek draai die groot, goue, ronde deurknop oop en soos die deur stadig oopgaan, stap ek na binne.  Ek bevind my in ’n baie klein vierkantige kamertjie met rakke teen elke muur van bo na onder.  Twee van die vier mure se rakke is van bo na onder gevul met boeke.  As gevolg van my liefde vir boeke is ek nuuskierig om te weet watse boeke dit is en ek begin hier en daar ’n boek uit ’n rak uithaal en deurblaai.  Aan die rugkant, sowel as voorop, staan ’n datum op elke boek wat die begin- en eindtyd van die boek aandui;  die een boek volg op die volgende boek.  Soos ek deur die boeke blaai, lees ek hier en daar ’n sinnetjie of ’n paragraaf en kom ek tot die skokkende besef dat my lewe in hierdie boeke opgeteken is – al my doen en late.  Die boeke strek vanaf die begin van my lewe op aarde en soos my lewe aangestap het, is die boeke mooi netjies langsmekaar ingepak op die rakke.  Wat my opval van die boeke, is die verskillende kleurskakerings:  Die begin van my lewe se boeke begin met mooi ligte kleur skakerings, maar soos die tyd aanstap, verander dit na meer uitspattiger kleure.  Hier en daar is ‘n skokkende, swart boek… dan ‘n hele paar swaar, grys kleurige boeke, maar later word die boeke mooi silwer en goue kleure….

Abba Vader begin aan my verduidelik dat elke tree van my lewe opgeteken is in hierdie boeke. Die mooi sagte kleur boeke dui die tyd aan toe ek nog ‘n klein, onskuldige dogtertjie was.  Soos die tyd aangestap het, het ek my eie wil begin ontwikkel en daardie willetjie het my boeke begin inkleur met meer uitspattige kleure.  Ek het self besluit dat ek nie meer die onskuldige dogtertjie wou wees met sagte kleur boeke nie, so ek het self besluit om te verander in wie ek graag wou wees.  Die helder oranje-pienk boeke verander sommer oombliklik in swaar gryskleurige boeke en my moed wil-wil in my skoene sak.  Ek vermoed dit moes my tienerjare gewees het… en toe ek kyk na die datums op die boeke, was ek reg.   Aan die begin van daardie jaar is my broer weermag toe, vyf maande daarna is my pa skielik op ‘n baie vroeë ouderdom oorlede aan ’n hartaanval.  Dit het gevoel my wêreld stort ineen en ek was hartseer en alleen.  Ek was nog ’n kind wat nie die Here geken het nie;  ek het effe rebels geraak, ek het mense seergemaak en al daardie goed is opgeskryf in hierdie lelike kleur boeke.  Ek voel so bitter sleg oor al daardie boeke, oor daardie tyd van my lewe, ek wil nie eers daaraan vat nie, wat nog te sê lees…  

Na die spul lelike grys kleur boeke op die rak, begin die boeke stadig maar seker weer ’n mooi kleur kry soos die tyd aangestap het.  Die kleure begin weer ophelder en toe ek let op die datums van die boeke, is dit die tyd wat ek my man ontmoet het, ’n tyd wat ek mensliefde ontdek het.  Die mooi helder boeke volg op mekaar soos ons drie seuns geskenk is van God.  ’n Mooi boek wat ’n meer goue skakering wil-wil kry, volg, en ek weet instinktief dit is die jaar wat ek God begin soek het, die tyd toe ek my hart oorgegee het, ’n wonderlike tyd wat ek liefde in God ontdek het.  Maar dan volg daar nie nog goue skakering boeke nie, maar eerder ‘n ry vol swaar, donker, swart boeke, sommer verskillende skakerings van swart.  Toe ek dit sien, weet ek onmiddellik watse tydperk dit aandui en het ek snikkend neergesak op my knieë.  Dit is nog te seer om daardie boeke te sien, soveel haat en woede wat in daardie boeke opgeteken is.  Hoe ironies is dit … net toe ek die Here in my lewe begin soek en my hart begin oorhandig het aan Hom, is dit asof ons ’n wolweden ingestap het.  Die wolwe het ons omring en ons as gesin uitmekaar probeer skeur.  Ek sou kon moor in daardie tyd…  Dit was moeilike paar jare wat daarna gevolg het, maar uiteindelik begin die swart boeke weer omsit in mooi, silwer boeke wat later selfs begin blink het. Hier en daar is ook ‘n goue boek… Dit is toe ek God in my seer gevind het!

‘n Paar maande nadat Abba Vader my geskrewe lewensboeke aan my gewys het, vat Hy my op ’n dag weer na die kamertjie met my lewensboeke, maar hierdie keer is daar ‘n klein ronde tafeltjie in die middel van die kamer met ’n baie groot, dik boek op die tafeltjie wat nie die vorige keer in die kamer was nie (of ek het dit nie gesien nie).  Dit lyk asof die boek in ‘n leeromhulsel is, maar tog blink dit en die blaaie skyn goud en silwer.  Ek stap nader na die boek en wil-wil dit optel, maar dit lyk te swaar om op te tel.  Dan sien ek my naam voorop die boek gegraveer – nie my wêreldse naam nie, maar die naam wat Abba Vader my noem.  Ek is so verbaas om hierdie boek te sien, want dit lyk so anders as die boeke teen die muur – dis baie groter en blinker.  Stadig maak ek die boek oop en op die eerste blaai staan:

“Before I formed you in the womb, I knew you.  Before you were born, I set you apart for my holy purpose.”  Jeremiah 1:5 (GWT) 

My mong hang oop van verbasing en die trane rol van my wange af toe ek die boek begin deurblaai – volgens die Skrif is hierdie boek oor my lewe deur God geskryf lank voor my geboorte.  Dus, nog voor ons geboorte beplan God al ons lewe vir ons vooruit…  

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”     Psalm 139:16  (AFR33/53)

Lank voor ek en jy die Here gesoek het, het Hy alreeds vooruit bepaal wat ons doel op aarde sal wees.  God het alreeds besluit wat elke kind van Hom vir Hom sal doen op aarde.  Lank vooruit het God al beplan watter Goddelike gawes Hy aan elkeen sal skenk wanneer die tyd reg is sodat ons Sy werk op aarde kan doen tot Sy eer.  Soos ek die boek deurblaai, sien ek oral Skrif opgeteken wat op my lewe van toepassing is.  Alles wat God vooruit beplan het vir jou en my, is opgeskryf in Sy boek oor ons lewens.  

Soos ek die boek deurblaai, begin ek agterkom dat baie van die goed wat in my lewe gebeur het, opgeteken is in hierdie boek, maar baie van die slegte goed wat in my lewe gebeur het, is nie hierin opgeteken nie.  Baie van die mense wat deel uitmaak van my lewe, se name word genoem in God se boek, maar dan is daar mense wat my erge leed aangedoen het wie se name glad nie in hierdie boek staan nie.  Ek verstaan dit nie… Hoekom is al die slegte gebeure van my lewe opgeteken in die boeke wat ingepak is op die rakke, maar al daardie slegte goed is nie in God se boek opgeteken nie?  Hoekom is die mense wat my erge leed aangedoen het, se name in my boeke op die rakke opgeteken, maar nie in God se boek nie?  En Abba Vader antwoord my:

“Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”    Jeremia 29:11 (AfR33/53) 

Dan verduidelik Abba Vader aan my:  Toe God ons lewensboeke geskryf het, het Hy nooit vooraf beplan dat daar slegte of bose goed in ons lewens moet gebeur nie.  Alleenlik dit wat Hy vir ons beplan het, is in hierdie boek opgeskryf.  Elke klip op ons pad is ook in God se boek oor ons lewe opgeskryf en hier moet ons nou kophou en verstaan… God bedoel nie om ons leed aan te doen met dit wat Hy in ons lewens ingeskryf het nie.  Hy plaas beproewings op ons pad om ons te leer, om ons te dissiplineer, om ons te help om die vuil klere uit te trek en die mens te word wat God vooruit bepaal het ons moet wees.  Alles wat God vir ons lewe bepaal het, is vir ons eie beswil.  Wanneer ons by probleme in ons lewens te staan kom, ervaar ons dit baie keer as slegte omstandighede en kan ons nie verstaan hoekom sulke goed in ons lewe moet gebeur nie, maar as ons deur die krag van God die klippe oorkom en ons kyk later terug op ons lewe, is ons dankbaar vir elke klip wat God op ons pad geplaas het, want dan kan ons verstaan hoekom God dit vir ons beplan het en kan ons Hom loof en prys daarvoor.  

Daar is slegte goed wat in my lewe gebeur het wat nie opgeskryf is in die boek van God nie…  Baie dinge het in my lewe skeefgeloop omdat ek my eie wil gevolg het en daardie slegte goed is nie opgeskryf in die boek van God nie, dus het Hy dit nie vir my beplan nie, maar ek het dit self veroorsaak deur my eie swak besluite en sonde, daarom moes ek die gevolge daarvan dra.  Dan wys Abba Vader my daarop dat daar mense is wat my erge leed aangedoen het, maar hulle name is ook nie opgeskryf in God se boek oor my lewe nie, met ander woorde, God het nie daardie mense op my pad geplaas nie;  dit was nie deel van God se plan dat ek met daardie mense deurmekaar moes raak nie, dit was weereens deur my eie swak keuses en besluite. 

Ons lewens was al lankal deur God opgeskryf in Sy boek, maar as ons nie verhouding met Abba Vader het nie, ken ons Hom nie en word ons nie gelei deur Hom nie, dus leef ons nie die lewe wat Hy oor ons geskryf het nie.  Ons werk so verkeerdom, so dom!  Ons wil ons eie besluite neem sonder om God te raadpleeg en as ons klaar besluite het, vra ons Hom nogal om ons besluit te seën!  Ons probeer God en Sy seën in ons eie geskrewe boeke inskryf, maar dit werk nie so nie!  Al die keuses wat ons in die lewe moet maak, moet ons in die hand van God plaas en Hom toelaat om die besluit vir ons te neem.  Ons moenie God in ons lewens probeer inskryf nie;  ons moet ons lewens in Sy hande plaas en dit begin leef wat Hy oor ons geskryf het! 

Die verskillende kleur boeke op die rakke teen die muur, is boeke oor hoe ek my eie lewensstorie probeer skryf het – sonder God!  Die meeste daarvan het ek geskryf sonder om God te raadpleeg, dus het ek my eie wil gevolg en keuses op my eie gemaak sonder God.  Ek was nie op die pad van God nie!  Soveel van die slegte gebeure wat ek oor myself gebring het, het die Here nie oor my gedroom nie.  Dis as gevolg van ons eie wil dat daar soveel seer opgeteken is in ons eie geskrewe boeke…

Baie keer skep ons ons eie slegte omstandighede waarin ons moet leef.  Ons maak keuses om die self te bevoordeel sonder om God te raadpleeg.  Kom ons kyk net weer na Adam en Eva en leer by hulle:  Toe hulle gevoed het op die verbode boom, het hulle nie die wil van God gehoorsaam nie, maar hulle eie wil.  Hulle ongehoorsaamheid het vervloeking oor die natuur gebring en God het hulle uit die tuin uit weggestuur om te gaan woon in die vervloekte wêreld wat deur hulle eie toedoen vervloek is.  Elke keer wanneer ons optree en keuses maak om die eie wil te gehoorsaam pleks van die wil van God, veroorsaak ons vervloeking oor ons eie omgewing waarin ons dan moet oorleef.  Die mens bepaal in ’n groot mate sy eie toekoms en sy eie ondergang deur sonde en ongehoorsaamheid, deur nie die wil van God te soek en te volg nie, maar wanneer ons leef volgens dit wat God vir ons bepaal het en ons dus die wil van God gehoorsaam, sal God vooruit beweeg en die toekoms vir ons uitsorteer. 

Mag ek en jy die potlood of pen van ons eie lewe neersit;  ons lewens oorgee in die hand van God en Hom toelaat om ons te lei om die lewe te leef wat Hy vir ons vooruit bepaal het.  Ons dien ’n wonderlike God!  Hy is werd om geloof, geprys en geëer te word.  Mag ons God liefhê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand.  

“God rewrote the text of my life when I opened the book of my heart to His eyes.”  Psalm 18:24  (The Message)

 

Mag Abba Vader Sy Lig or jou skyn