Asvaal afgebrande gedeelte…

1 Oktober 2018 wys Abba Vader my die volgende:  Abba Vader laat my ’n plek beleef wat baie mooi is:  Alles om my is die mooiste groen waaraan jy kan dink, die blomme is die helderste kleure, daar is baie bome wat vrug dra… dit is die mooiste tuin, maar nou nie ’n netjies aangeplante tuin soos wat ons tuine plant nie… mens kan sien hierdie tuin lyk van nature so, alles is natuurlik, geen patrone, maar tog vloei dit sag in mekaar, alles is perfek.  Ek verkyk my aan die mooi toneel om my en toe sien ek iets wat my hart tot stilstand ruk.  Doer ver eindig die tuin skielik soos ’n streep wat getrek is met ’n liniaal en ’n potlood en dan volg ’n asvaal gedeelte… ’n deel waar geen groen, kleure of lewe is nie.  Dit lyk asof die deel afgebrand het, so asvaal is dit.  Daar is beslis geen lewe in daardie gedeelte nie.  En dan die skokkende deel… al is daar geen natuurlewe nie, beweeg daar mense rond, maar hulle beweeg nie soos mense nie, meer soos geeste.  Dit klink seker vir julle dat ek het ’n “horror” prent gekyk en dat dit gedagtes uit my onderbewyssyn was en alhoewel ek geen sulke prente gekyk het nie, het dit nogal so gevoel ook.  Ek sien toe daar is ’n skeiding tussen die mooi tuin en die asvaal gedeelte, maar die afskeiding is deurskynend, dit is soos ’n deurskynde muur.  Baie van die mense kom toe na die deurskyndende muur en klop en kap aan die muur.  Hulle roep en skree om deur te kom… ek kan sien hoe beweeg hulle monde soos hulle skree, maar ons kan hulle glad nie hoor nie.  My hart breek vir daardie mense en ek verstaan nie so mooi wat hier aangaan nie.  Ek het so baie vrae gehad op daardie stadium, want ek wou hulle so graag help.  Kan die mense nie meer inkom na die mooi tuin waar lewe is nie?  Maar Abba Vader antwoord dat dit klaar te laat is.  Ek vra weer:  Kan die mense die tuin sien?  Kan hulle ons sien wat in die tuin staan?  Maar Abba Vader sê nee, al is die muur deurskynend, kan hulle ons nie sien nie, want hulle het nie oë wat kan sien nie, inteendeel, hulle het nooit oë gehad wat kon sien nie.  Hulle het ook nie ore gehad om te hoor nie.  Tog weet hulle dat daar lewe aan die anderkant van die deurskyndende muur is en daarom wil hulle graag deurkom… maar dit is te laat!  Ek vra vir Abba Vader:  Het hulle ’n keuse gehad?  Het hulle ’n keuse gehad om oë te kon hê wat kan sien en ore te hê om te kon hoor?  Abba Vader het my nie ’n dadelike antwoord gegee oor die keuse van die mens nie, maar gee toe vir my Esegiël 32 en Openbaring 22 om te gaan lees…

Esegiël 32:7,8 (AFR33/53)

“En as Ek jou UITBLUS, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker;  Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie.  Al die skynende ligte aan die hemel, die sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land, spreek die Here.”

Hierdie Skrif het my dadelik laat dink aan die asvaal gedeelte waar die son deur die wolke oordek is, want dit was donker aan daardie kant, maar nie pikdonker dat ’n mens niks kan sien nie…  Dit was donker, maar tog kon ’n mens sien wat daar aangaan.  As jy die hele Esegiël 32 lees, sal jy soveel keer sien die Skrif praat van die onbesnedes wat neerdaal na die onderste plekke van die aarde.  Onbesnede beteken die mens het nooit tot ware wedergeboorte gekom nie, hy het nog nie sy hart aan Abba Vader oorhandig nie, hy volg sy eie wil en leef sy eie lewe soos hy wil.  Sy hart is nog onbesnede en wanneer die hart van die mens nog onbesnede is, beteken dit hy kan nie geestelik hoor of sien nie.  Abba Vader het gesê die mense in die asvaal gedeelte het nie oë om mee te sien of ore om mee te hoor nie, dus is hulle oë en ore nog onbesnede, wat daarop wys dat hulle harte ook nog onbesnede is.  Hulle het nooit waarlik oorgegee aan Abba Vader nie.  Hulle het nooit tot ware wedergeboorte gekom nie.  Die mens wat wel tot ware wedergeboorte kom, se hart is aan God geoffer en sy hart word besny deur Abba Vader;  eers wanneer ons harte geestelik besny is deur Abba Vader, kan ons geestelik hoor en sien.

Ek sal in die volgende week ’n ordentlike saadjie uiteensit wat gaan oor ons geestelike sintuie, oor ons oë en ore wat besny moet word, want as ons oë en ore nie besny gaan wees nie, gaan ons ook nie oë en ore hê om die Waarheid te sien en te hoor nie.  As ons nie die Waarheid kan sien, hoor en glo nie, gaan ons agter leuens aanloop en ook in hierdie asvaal gedeelte beland… en dan is dit te laat.  

Die horlosiewyser staan nie stil nie, die sekondewyser tiek op sy tyd af… Niemand weet wanneer daardie sekondewyser sy laaste tiek gaan gee en gaan stilstaan nie…dan is dit verby!  Dan moes jy al jou keuse gemaak het!  Die mens wie se hart nog onbesnede is, gaan nie meer ’n kans hê nie, hy gaan smeek om in te gaan na die Koninkryk van God, maar God gaan dan nie meer luister nie.  Openbaring 22 (die ander Skrif wat Abba Vader gegee het) se opskrif is:  Laaste waarskuwings en beloftes.  Vers 14 en 15 sê:

“Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en INGAAN DEUR DIE POORTE in die stad.  Maar BUITE is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.”

Openbaring 22:14,15 (AFR33/53)

      

(Mense wat my nie wil glo nie, gaan natuurlik dink dat ek hierdie uitgedink het na die brand wat die week in George uitgebreek het, maar paar weke terug, toe ek hierdie beleef het in die gees, het ek direk daarna ’n “voice sms” uitgestuur na die geliefde mense in my lewe.  Ek het geskrik toe ek die foto’s sien na die brand in George, want dit is baie hoe dit gelyk het toe Abba Vader my die asvaal gedeelte gewys het.)   

2 thoughts on “Asvaal afgebrande gedeelte…”

Leave a reply to Toortsie Cancel reply