Skip to content

As God ons nie help nie

DA0CB01D-BF3C-48E2-A6E3-C2451C90269A

In ’n vorige saadjie het ek met hartseer binne my vertel van die ongeluk wat ek gehad het in Maart 2017, maar nou, na ’n jaar, wil ek alles rondom dit mooi uiteensit, want in net een saadjie klink dit maar baie deurmekaar. Nou kan ek terugkyk op daardie gebeurtenis met ’n baie breë glimlag op my gesig; sonder trane van moedeloosheid, pyn en baie vrae aan Abba Vader, maar met trane van dankbaarheid teenoor ons lieflike Vader kan ek nou vir julle die storie mooi vertel en wat Abba Vader my daarrondom geleer het. Vandag kan ek iets doen wat ek ’n jaar terug nie kon doen nie, en dit is om voor die voete van Abba Vader te sit, om vir Hom te glimlag en dankie sê dat Hy daardie ongeluk toegelaat het in my lewe, want as Hy dit nie oor my lewe gebring het nie, sou ek nie so ’n “amazing” getuienis gehad het vandag nie, en dan sou ek nie ’n ton Waarheid geleer het by Abba Vader nie. Ek dink ek het in die laaste jaar seker die meeste geleer by Abba Vader as nog ooit tevore. Hy het hierdeur soveel leuens wat Satan versprei, vir my oopgemaak om raak te sien, om die werke en die leuens van Satan verder te “expose” en dis presies wat ek sal doen. Ek weet baie mense raak vir my kwaad en wil nie hoor wat ek sê nie, maar hoekom raak mense kwaad oor die Waarheid? Want hulle wil ’n maklike lewe lei sonder enige sleg in hulle lewens, en jammer ek sê dit nou sommer so reguit, maar hulle wil God misbruik om die goeie in die lewe te kan hê! Hulle wil nie hoor dat ons met alles in ons God moet dien en dat ons nie hier is om deur God gedien te word nie. Hulle wil nie hoor dat verlossing en redding gepaard gaan met ’n totale sterfte aan die vleeslikheid nie, want hulle wil sommer net die genade van God opraap om verlos te wees. Hulle wil nie die Waarheid in die oë staaar nie, want wanneer ons dit wel doen, dan besef ons dat die Pad van God toe nie so maklik is soos ons gedink en soos die wêreld ons leer nie. Mense wil nie die klippe op hulle pad raaksien en boonop God eer daarvoor nie, want klippe is beproewinge wat baie seer kan maak, maar as jy ervaar dat daar geen klippe op jou pad is nie, is jy ongelukkig op die breë maklike weg en nie op die pad van God nie. As jy klippe uit jou pad wil wegspreek met woorde, is jy verseker ook nie op die pad van God nie.

Daar is nie een saadjie wat Abba Vader my laat skryf het wat Hy my sommer net laat skryf het nie. Ieder en elkeen van die saadjies moet ek self deurgaan en ervaar in my eie lewe voordat ek dit mag neerpen en versprei. Natuurlik vertel ek nie die hele storie in die saadjies nie, want dan gaan dit te persoonlik raak, maar met die skryf van elke saadjie, moes ek eers voel hoe dit voel om deur ’n sekere proses te werk op die pad van God. Dit maak my soms bekommerd, want dan wonder ek wat God nog in my Lewensboek opgeskryf het wat ek moet beleef sodat Hy my die Waarheid daarondom kan leer; sodat ek die leuens van Satan kan raaksien, verwerp en dit “expose” aan die wêreld, sodat die wêreldlinge kan sien hulle is besig om leuens te glo. Ek het ook nou al geleer, dit gaan nie oor my of jou, of dat ons ’n lekker lewe op aarde moet hê nie, want alles gaan om die heerlikheid van Abba Vader, niks gaan oor jou, my of enige mens nie. Al is daar mense wat nie glo wat ek vertel nie, en dit verwerp en my slegmaak daaroor, maak ek vrede daarmee, want wat hulle van my sê, het op die ou end niks met my te doen nie. Ek weet Satan gebruik mense teen my om die Waarheid stil te kry, maar ek het my woord aan Abba vader gegee dat ek nie sal stilbly nie, so tot die dood toe sal ek aan die wêreld verkondig hoe Abba Vader lewe, hoe Jesus Homself waaragtig aan mense openbaar, en hoe ’n mens waarlik ’n lewende verhouding met Abba Vader kan hê. Hierdie laaste les was tot dusver seker nog die moeilikste een, maar ek sal my kop hoog hou en vertel van die wonderbare werke van Abba Vader.

Met my ongeluk in 2017 het ’n bees my op ’n redelike spoed bestorm terwyl ek fiets gery het deur die veld. Sy het my van my fiets afgestamp en alhoewel ek nie presies weet wat gebeur het nie, weet ek net ek het ek ’n vreeslike gewig op my arm gevoel. Ek was vas oortuig dat die koei op my arm getrap het. My skouer en bo-arm was vergruis, ek was alleen, ek het nie my foon by my gehad nie en was ’n hele entjie van die huis af. Ek het die af-arm en skouer met die ander arm probeer vasdruk en het so vinnig as wat ek kon huis toe begin loop. Aan die begin van die staproete was die adrenalien baie en kon ek selfs vir ’n entjie hardloop, maar die adrenalien het vinnig min geraak en ek wou flou word. Ek het die Here gesmeek om vir my hulp te stuur en ek het geglo Hy sou enige oomblik wel vir my hulp stuur, maar Hy het nie. My krag het so min geraak dat ek daaraan begin dink het om in die koelte onder ’n boom te gaan sit, maar ek het besef ek het dringend hulp nodig en dat ek net sal moet deurdruk om by die huis te kom. Ek het die heeltyd wat ek so geloop het, die Here gesmeek vir hulp en toe ek naby aan die huis gekom het, het ek besef die Here gaan my nie help nie. Ek kon nie help om te wonder daaroor nie… ek het nog nooit in my lewe so Godverlate gevoel soos daardie dag nie. Waar is God? Hoe kon Hy my nie help nie? Hy sê dan in Sy Woord dat ons Hom kan vra en ons sal dit verkry, hoekom wou Hy my dan nie help as ek Hom so smeek nie?

In die rit na die hospitaal, wat 3-4 ure lank was, kon ek net nie ophou om daaraan te dink nie… Hoekom wou die Here my nie help nie? My geloof was nog altyd baie sterk en ek het altyd geglo dat Abba Vader my in enige situasie wonderbaarlik sou help, maar die keer wat ek dit die meeste nodig gehad het, het Hy nie. Vandag weet ek dat as Abba Vader ingegryp en wel vir my hulp gestuur het, sou ek vandag nie so ’n treffende storie gehad het om te vertel nie. Ek sou nie ’n baie waardelvolle les daaruit geleer het nie. Abba vader sou nie ’n leuen van Staan aan my kon uitwys en my die Waarheid kon leer nie.

Die eerste paar dae na die ongeluk was daar ’n kloof tussen my en Abba Vader, so asof ek soos ’n bedorwe, hartseer dogtertjie eenkant met ‘n opgeblaasde mond gaan sit het, want hoe kon Hy my nie help nie? Later het ek in Sy rigting begin loer totdat ek op ’n dag onder gebed net in Sy arms gaan neersak en gehuil en gehuil en gehuil het. Deur my snikke kon ek so duidelik Sy stem hoor en Hy het my gevra:

“Gaan jy nou ophou glo in My net omdat ek jou nie gehelp het nie?”

Hierdie vraag het my verskriklik hartseer gemaak en my vir dae laat huil, want hoe moes Abba Vader voel? Dit het my net weer laat besef hoe lief ek Hom het, want al het Hy my nie gehelp nie en al het ek so Godverlate gevoel daardie dag, weet ek nogsteeds Hy bestaan, weet ek Jesus lewe en sal ek nie kan ophou glo in Hom nie, maak nie saak wat nie. Al was ek vieserig omdat ek nie my sin gekry het nie, kon dit nie my liefde vir Hom wegvat nie. Ek het geweet daar moes ’n rede wees hoekom Hy my nie gehelp het nie en ek het geglo dat Hy my nog sal verduidelik hoekom. Ek het net weer besef dat ons moet besin oor die rede hoekom ons in God glo… Glo ons in God sodat ons altyd beskerming kan hê? Sodat Hy ons in tye van nood kan help? Sodat ons die ewige lewe kan bekom? Glo ons in Hom sodat ons nie hel toe moet gaan eendag nie? Glo ons in Hom sodat ons ’n geseënde lewe kan hê? Dit was seker die eerste keer wat ek so ernstig en diep daaroor gedink het, wat Abba Vader my so direk gekonfronteer het oor hierdie vraag.

God moes my toets deur my nie te help nie, Hy moes my liefde vir Hom toets, Hy moes sien hoe ek gaan reageer as Hy my los om te sukkel, as Hy nie dadelik ingryp nie. Gaan ek my geloof en liefde vir Hom verloor omdat ek nie my sin gekry nie? Omdat God nie gespring het toe ek gevra het daarvoor nie? Dan openbaar dit mos die motief van my hart …dan wys dit ek is ook maar net een van die skare van Johannes 6 wat Hom volg en met die mond bely om in Hom te glo net vir dit wat ek daaruit kan kry. Dan sou dit bewys ek misbruik God.

Mense wat God met die mond dien, wat in Hom glo oor die verkeerde redes, om voordeel uit Hom uit te trek, sal hulle geloof in Hom verloor in tye van nood wanneer Hy nie dadelik intree en hulle help nie. Waar op die skaal lê ek en jy? Wat weeg die swaarste? Jou liefde vir God of dit wat jy uit Hom kan kry?

Ons hoor altyd hierdie wonderlike stories oor hoe God ingryp in mense se lewens wanneer hulle Hom nodig het en ja, dit is wonderlike, pragtige stories wat strek tot Sy heerlikheid, maar tog kan hierdie stories ongelowige mense laat begin wonder of hulle nie ook maar vir Abba Vader moet begin dien nie, net ingeval hulle ook in ’n situasie kom waar hulle God nodig het… God is nie ’n spaarwiel nie, Hy moet ons LEWE wees! Nou moet ek die storie andersom vertel, God gebruik my situasie om ’n storie te vertel wat nie so wonderlik op die oor val nie, want as ongelolwiges hierdie gedeelte van die storie hoor, sal hullle dalk lekkerkry oor ons Christene wat so vas in God glo, maar wanneer ons Hom nodig het, is Hy net nie daar nie. Dit sal hulle siening versterk dat daar nie ’n God is nie. Maar my anderste-om storie is dalk nie bedoel vir die ore en oë van ongelowiges nie, maar diegene wat hulleself wel as gelowig ag. Dit is bedoel vir mense wat regtig hulle verhouding met Abba Vader wil verdiep, wat selfondersoek moet gaan doen en wat moet besef dat niemand toetse en beproewinge vryspring nie, want daarvolgens toets God die motief van ons hart, ons geloof en liefde in Hom.

’n Paar weke later, een oggend onder gebed, het ek weer die dag van Jesus se kruisiging ervaar. Hulle het Jesus so gemartel daardie dag, vanaf die geslaan, die doringkroon wat hulle in sy vlees ingedwing het, die sweep wat sy rug oopgekloof het, die spykers waarmee hulle Sy hande en voete deurboor het, die hang aan die kruis…en Jesus het met ’n groot stem uitgeroep:

“Eli, Eli, lama sabagtani?”

Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? Ek kon net in trane uitbars, want die Godverlatenheid wat Jesus op daardie dag gevoel het, het ek ook gevoel toe God my nie wou help, maar ek het net ’n titseltjie daarvan ervaar, ek het dit nie soos Jesus ervaar nie. Hoe verskriklik erg moes dit nie vir Jesus gewees het nie! Het Hy nie ook dalk diep in Sy hart vir God gevra vir hulp nie? Het Hy nie dalk ook gewonder hoekom God Hom nie help of dit vir Hom makliker maak nie? Hy moes gevoel het dat God Hom verlaat het, want Hy het hard en duidelik aan die kruis vir God gevra hoekom Hy Hom verlaat het. Jesus het ook Godverlate gevoel. Ek weet hoe erg die Godverlatenheid vir my gevoel het, hoe erg moes dit dan nie vir Jesus gewees het nie… Hoekom het God dit nie vir Jesus makliker gemaak nie? Het dit die liefde tussen God en Sy Seun beïnvloed? Glad nie, want Jesus het geweet dat God alles met ’n baie goeie rede en doel laat gebeur en dit is ook hoekom Jesus aan God voor die tyd kon sê: “Nie My wil nie, Vader, maar U wil.” Dit was vir my baie hartseer toe ek weereens besef deur watse verskiklike lyding Jesus moes gegaan het. Ons hoor die kruisigingsverhaal, ons lees dit in die Woord van God, maar ons raak moeilik een met die kruisiging van Jesus omdat ons dit nie self beleef nie. Al wat God my laat beleef het van die kruisiging was die gevoel van Godverlatenheid wat Jesus 10 keer meer intens moes gevoel het. Ek het gevoel hoe dit voel as ons God vra om ons te help, maar Hy eenkant toe staan en ons nie help nie. Ek weet nou hoe dit voel as God ons liefde, motief van ons hart en ons geloof toets deur net vir ’n oomblik uit die prentjie uit te tree en nie vir ons te gee wat ons vra nie. Wat as God jou so gaan toets? Gaan jy Hom nogsteeds liefhê soos voorheen? Gaan jy nogsteeds glo Hy lewe?

Daar is so baie mense daar buite wat sê hulle bid en bid, maar God help hulle nie, dis asof hulle teen ’n plafon vasbid. Ek het ’n artikel gelees en al die kommentaar daarop was dieselfde: Daar was ’n man wat geglo het in God, maar toe daar beproewinge oor sy lewe kom, het Hy tot God gebid om hom te help met sy probleme, maar God het geweier om hom te help… Nou het hy besluit daar is nie ’n God nie, want as daar ’n God was, sou Hy hom gehelp het. En so het ek storie op storie gelees van mense wat kwaad is vir God en weier om in Hom te glo omdat Hy hulle nie help in hulle slegte omstandighede nie. So oor wie gaan dit eintlik hier? Oor die mens of oor God? Hierdie is ’n perfekte voorbeeld van die mens wat sê hy glo in God sodat God hom moet dien, sodat God op aandag moet staan om in sy behoeftes te voorsien… Die mens wat God om hierdie redes dien, gaan verseker teen die plafon vasbid, want God ken die motief van die hart van die mens. As dit nie oor God gaan nie, gaan Hy ook nie luister nie. Deurdat God beproewinge op die mens se pad bring in die vorm van klippe, skei God Sy kinders van die vals mense, want die vals mense sal nie die toets kan deurstaan nie en sal die pad van God verlaat. Hulle glo dat God moet ingryp in elke situasie van hulle lewe, so die motief van hulle harte is vals. Dit gaan oor hulle en nie oor God nie.

Ons is gemaak vir God, vir Sy heerlikheid! God het ons nie gemaak vir Hom, tot ons heerlikheid nie!

Die volgende saadjie gaan handel oor die Skrifte wat sê ons kan enigiets van God vra en Hy sal dit vir ons doen. Dit klink dan nou of hierdie Skrif jok, maar die probleem is eerder dat die mens nie die totale Skrif rondom die een vers lees nie. Die mens sien net die vers raak dat hy enigiets vir God kan vra en hy dit sal verkry, die mens doen nie bietjie dieper ondersoek nie, maar ek vertel in ’n volgende saadjie meer hieroor…

Die volgende woorde is uit liedjie, Trust in You, deur Lauren Diagle:

When You don’t move the mountains
I’m needing You to move
When You don’t part the waters
I wish I could walk through
When You don’t give the answers
As I cry out to You
I will trust, I will trust, I will trust in You

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: